Versorger, sien om na jouself

Ek het geen mediese agtergrond nie, maar ek het wel beide my ouma en oupa as verswakte bejaardes tot hulle afsterwe verpleeg – hulle is albei ná periodes waarin hulle vir maande aan hul bed gekluister was, oorlede. Oupa weens prostaatkanker wat deur sy liggaam versprei het, en Ouma as gevolg van ’n reeks beroertes wat haar elke keer net nóg meer sorgafhanklik gelaat het. Hulle is albei tuis in hulle beddens oorlede, nes hulle dit graag wou gehad het. Ek het die hele sterwensproses vir hulle so rustig en gemaklik as moontlik probeer maak.

Die afgelope drie jaar is ek ook die alleenversorger van my ma (67) wat ná ’n ernstige beroerte met demensie gediagnoseer is. Ek het dus heelwat praktiese ondervinding wanneer dit kom by tuisverpleging. Om na ’n geliefde met demensie om te sien is ’n liefdestaak wat geestelik, emosioneel en liggaamlik baie van die versorger eis, verál as daar nie iemand is wat jou kan aflos met tye nie. Meer en meer gesinne bevind hulle in hierdie posisie, want privaat verpleging is duur en so ook om jou geliefde in ’n versorgingsoord te plaas. Sommige gesinne het geen ander keuse nie as om die demensielyer tuis te akkomodeer nie. Gaan lees gerus my artikel hier op Litnet waar ek meer vertel oor die versorgingspad wat ek met my ma stap. Ek deel ook wenke vir die versorging van ’n demensielyer.

My ma dra permanent doek, sy hallusineer en is paranoïes. Sy sukkel om geluide te interpreteer en het min beheer oor haar emosies, veral woede. Waar sy nooit voorheen sou vloek nie, borrel die gekruide taal nou vir die geringste oor haar lippe. Sy is ook geweldig apaties en neem geen inisiatief nie. Haar wêreldjie is vreeslik klein. Sy beweeg net saam met my van haar bed af na die badkamer toe en van daar af na die tafel direk buite haar kamerdeur waar ek bedags sit en werk. Sy verkies om naby my te wees. Andersins lê sy in haar bed. Sy weier om buite hierdie veilige en bekende area te beweeg. Sy kan nie meer lees of naaldwerk doen nie. Ook kyk sy glad nie TV nie en luister ook nie radio nie. Haar omgewing moet so rustig en kalm as moontlik wees, want enige skielike gebeure of geluide verwar haar. Sy sien en hoor dinge wat nie daar is nie, en sy onthou soms dinge uit die verlede en dink dan dit is haar hede.

Natuurlik verg dit baie van versorgers wanneer iemand so afhanklik van hulle is. My ma kan byvoorbeeld nie self kos of vloeistof neem om te eet of drink nie. Ek moet dus elke krieseltjie voedsel wat sy inneem en elke glas water, sap of tee voorberei en aan haar gee, anders sal sy van honger omkom of dehidreer. Net so is ek by elke keer as sy die badkamer gebruik. Ek stort haar, droog haar af en trek haar aan. Ek ruil haar doeke om. Dit is net ek en manlief. Hy kan wel ’n ogie oor Ma hou as sy slaap en ek vinnig om die blok wil stap, maar hy help uiteraard nie met die fisieke versorging nie.

Versorgers moet ’n belangstelling buite die pasiënt hê. Moenie jou identiteit in die proses opgee nie. Jy is meer as net ’n versorger. Beoefen ’n stokperdjie of skryf in vir ’n kursus. Doen dit waarvoor jy lief is en wat vir jou iets beteken. Ek werk vryskut van die huis af en doen manuskripontwikkeling en redigeer manuskripte. Verder werk ek aan my meestersgraad in teologiese studies. Dan lees ek ook graag. Ek probeer op hoogte bly van wat in die wêreld aangaan, al moet ek na nuusberigte luister met oorfone. Dan probeer ek om gesond te eet, en ek knyp tyd af om om die blok te stap. Selfs net om ’n lang bad te neem en na kalmerende musiek te luister help my om my batterye te herlaai. Dit help ook om in kontak te bly met ander mense, al is dit net telefonies.

Humor help altyd. Al gaan dinge soms hóé druk, en al is ek hóé uitgeput omdat my ma dalk meer aandag as gewoonlik eis, probeer ek altyd die humor in die situasie raaksien. En as ’n mens eers oor iets gelag het, is alles sommer beter en makliker. So het ek verlede Kersfees om sesuur die oggend die beddegoed, kamermat en badkamer moes skrop omdat Ma haar doek afgewoel het en toe diarree ontwikkel het. Wát ’n kersgeskenk! Nogal een wat die ou mense mos geglo het vir mens geluk bring ook. En soms, as my ma so lustig soos ’n matroos knoop, glip daar onverhoeds ’n woord uit wat selfs meer kleurvol as die res is – net wanneer ek dink ek het al elke liewe vloekwoord op die planeet gehoor. Meer as een keer kon ek maar net giggel daaroor.

Ek onthou ook om daagliks my seëninge te tel en om dít waarvoor ek dankbaar is, hardop te noem. Dan onthou mens dat jóú pakkie eintlik baie ligter weeg as die swaar las op ’n ander se skouer. Ek is dankbaar dat ek my ma snags warm kan toemaak en vir haar bid. Al raak sy al meer ’n vreemdeling, kan ek steeds aan haar vat, haar ruik en haar sien. Sy is hier by my, en sy is warm en veilig. En op die ou einde is liefde al wat saak maak. Dít, en die feit dat die dag as my ma ter ruste gelê word, ek vrede in my binneste sal hê, want ek het na haar gekyk.

Intussen sien ek ook mooi na myself om en maak die beste van die omstandighede. Ek hoop dat hierdie artikel ander versorgers ook sal bemoedig en aanmoedig om hulle roeping uit te leef, ja, ook om te onthou hulle lewe is óók belangrik. Dit is ’n veeleisende en baie uitdagende pad om te stap, maar dis ’n pad wat baie seën bring.

5.00 avg. rating (97% score) - 4 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Groot respek vir jou, Louise. Jou ma is geseënd om in hierdie tyd van verwarring veilig by jou te wees. Iets wat min beskore is.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui