Boekresensie: Ons raaiselpad met alzheimersiekte
Outeur: Elise Nel
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2175-6
Elise Nel vertel in haar boek getiteld Ons raaiselpad met alzheimersiekte, ’n eerlike verhaal vol deernis wat getuig van dapperheid, moed en deursettingsvermoë, oor haar persoonlike reis van hoe sy haar eens briljante eggenoot versorg het nadat hy met alzheimersiekte gediagnoseer is. Hy het haar gevra: “Jy moet altyd na my kyk, net jy moet na my kyk, jy moet altyd by my bly.”
Dit was baie swaar om haar knap en intelligente lewensmaat te sien verdwyn en ’n afhanklike mens in sy plek te leer ken. Alzheimers het alle orde en genot uit hulle lewens gesteel. Dit het soos ’n nare monster geword wat hulle lewens heeltemal omver gewerp het en geweldig baie van hulle gesteel het. Sy moes elke nuwe uitdaging leer hanteer. In die eerste paar paragrawe van die boek skryf sy hoe alzheimersiekte sy kloue ingeslaan het: “Ongemerk. Dit is die enigste woord wat ek het om die aankoms van alzheimersiekte te beskryf. Eers in die lyer se wete, dan in die binnekring van die huisgesin en later sagggies, dwarrelend verder.” Sy wys tekens uit om na op te let, want sy het eers ná die tyd besef dat haar man reeds lank voor sy diagnose reeds met tye vreemde gedrag openbaar het.
In Ons raaiselpad met alzheimersiekte gesels Elise oor die geleidelike maar sekere agteruitgaan van haar man en vertel hoe uitdagend bedrywighede soos eettyd en badtyd geword het. Tande borsel en skoene aantrek was ’n stryd en hy moes doek dra. “Wat oomblikke vroeër vir hom maklik was [die opstaan en loop], kan binne minute onmoontlik wees en môre weer makliker. Soms word boodskappe van die brein af deurgestuur en ander kere is daar kortsluitings,” skryf sy. Sy gee praktiese wenke oor die versorging van ’n alzheimerpasiënt, bv. hoe om bedsere te verhoed, iemand wat sukkel om te sluk te voer en oormatige slym uit te suig. Hoofstukke getiteld “Ek het geleer …”, “Simptome om op te let”, “Raad aan die versorger” en “Ondersteuning van buite”, is tjokkenblok vol waardevolle raad en broodnodige inligting vir die versorger.
Ons raaiselpad met alzheimersiekte dien as ’n rigtingwyser op ’n onbekende pad vir hulle wat struikelend daarop moet rondtas, want so dikwels weet mense min van die siekte af wanneer dit die dag ’n werklikheid in hulle lewens word. Elise skryf: “Ek het so min van hierdie siekte geweet. … net geweet dit is die siekte van vergeet.” Sy het egter haar weg deur die donkerte moes vind. Haar boek van 195 bladsye behandel vele fasette van die uitmergelende alzheimerspad wat sy saam met haar man gestap het. Alhoewel kommunikasie later afwesig was en haar toe permanent bedlêend man geen gesigsuitdrukking meer gehad het nie, het sy besef: “Al het dit gelyk of hy verby weet en verstaan was, het hy steeds op ’n beperkte manier in sy verlamde liggaam geleef.” “Dat daar agter die uiterlike beeld van onbewus-wees steeds ’n lewe van hoor en herken is.”
Sy skryf hoe sy deur die versorgingsproses met God onderhandel het en bly hoop en bid het op ’n wonderwerk en hoe Hy wel die onmoontlike moontlik gemaak het, al het sy dit eers agterna besef. Haar oggendgebed was: “Here, ek vra net krag, genoeg krag vir hierdie een dag.” Om na ’n geliefde om te sien wat aan alzheimersiekte ly is nie maklik nie. Nie net is daar die emosionele en geestelike tol nie, maar ook die fisiese. Elize het byvoorbeeld bekkenvloerbeserings opgedoen en moes ’n ingrypende operasie ondergaan. Selfs ná haar man se afsterwe het dinge nie gou terug na normaal gekeer nie. “So lank was my verstand, denke, emosies, roetine en plig in een smal stroom verswelg. Om weer in te pas en sin te maak buite daardie nou stroom het vir my onmoontlik gelyk.”
Ek het baie waarde gevind by die lees van Ons raaiselpad met alzheimersiekte. Dit is ’n roerende vertelling, intiem en aangrypend, wat ver en wyd gelees behoort te word. Elise skram nie weg daarvan om van die werklikheid van die uitdagings te vertel nie, maar sy hou ook hoop uit – “die nag se stilte het vir my nuwe genade gebring om sy menswees steeds te koester, ten spyte van al die gebreekte skakels.”
Skaf jou kopie van Elise Nel se Ons raaiselpad met alzheimersiekte hier aan.