
Pretoria FM: Dié Afrikaanse mediahuis
Pretoria FM het oor die afgelope dertig jaar sy plek ingeneem as ‘n sterk rolspeler wat verseker dat Afrikaanse luisteraars ingelig en vermaak word. Dié radiostasie is egter deeglik bewus daarvan dat luisteraars ook lesers en kykers is en dat hulle graag hulle nuus en vermaak op verskillende platforms wil kry. Dit het daartoe gelei dat Pretoria FM van ‘n radiostasie tot ‘n mediahuis ontwikkel het wat Afrikaanse mediagebruikers in staat stel om al die inligting wat hulle benodig op verskillende platforms te kry.
Luister
Pretoria FM spog met ‘n wye verskeidenheid programme wat in elke Afrikaanse luisteraar se behoefte sal voorsien. Dit strek van musiek na die jongste nuus en aktualiteit, vermaak en godsdiensprogramme. Pretoria FM saai nie net op ‘n verskeidenheid FM-frekwensies uit nie maar kan ook op DStv-kanaal 887, op www.pretoriafm.co.za en op ons splinternuwe toepassing geluister word wat gratis by toepassingswinkels afgelaai kan word.
Lees
In Januarie 2025, met verskeie Afrikaanse koerante wat sneuwel, begin Pretoria FM die e-koerant, Nuusweek om in die reusebehoefte van koerantlesers te voorsien. Dié publikasie trek van die eerste dag af aandag met sy treffende voorblaaie en het vinnig ‘n geloofwaardige rolspeler in die mediawêreld geword. Nuusweek word weekliks as ‘n e-publikasie versprei met die berigte wat ook aanlyn op Pretoria FM se webblad gelaai word.
Verder word die jongste nuus ook deurlopend op Pretoria FM se webblad gepubliseer en op die WhatsApp-kanaal en verskillende sosiale mediaplatforms gedeel.
Kyk
Pretoria FM se YouTube-kanaal spog met ‘n nuusbulletin wat elke weeksmiddag ‘n samevatting van die belangrikste gebeure van die dag deel. Verder is daar ook ‘n sportprogram aangebied deur Arnold Geerdts wat weekliks na die sporthoogtepunte en -vooruitsigte kyk en ‘n gespreksprogram wat interessante en soms omstrede kwessies bespreek met die naam RaakPraat aangebied deur James Kemp. Op ‘n Maandag kan kykers uitsien na Fokus waar ‘n paneel kundiges onder leiding van Susan Botha die belangrikste nuusgebeure bespreek.
Adverteer
As ‘n mediahuis met verskillende platforms kan Pretoria FM ‘n wye verskeidenheid advertensiegeleenthede aan ondernemings bied. Kontak gerus ons advertensiespan sodat ‘n konsultant jou met ‘n pasgemaakte pakket kan bystaan. Stuur vandag nog ‘n e-pos na adverteer@pretoriafm.co.za.
