
Boekoorsig: Tipe 2 diabetes: 8-weke-bloedsuikerdieet
So aan die begin van die nuwe jaar onderneem baie van ons om ‘n gesonder eetplan en leefstyl aan te hang. Dr. Michael Mosley se boek getiteld 8-week blood sugar diet het my laat regop sit en notisie neem, want die subtitel is: How to prevent and reverse type 2 diabetes (and stay off medication).
Hoewel ek nie ‘n diabeet is nie, is ek wel ‘n hele paar kilogramme oorgewig en spandeer ek geweldig baie tyd agter die rekenaar. Ek kry dus nie voldoende oefening nie. Ek wil egter baie graag gesonder eet en leef, sodat ek my risiko om ‘n leefstylverwante siekte op te doen so laag as moontlik kan hou. Hierdie boek beland dus op die regte tydstip in my lewe. Dit is ten volle hersien en bygewerk deur professor Roy Taylor en bevat boonop supergesonde, liplekkerresepte – sommige in kleur.
Die 8-week blood sugar diet beslaan 290 bladsye en drie afdelings, naamlik “The Science”, “The Blood Sugar Diet (BSD)” en “Recipes and Menu Plans”.
In die hoofstuk getiteld “The Blood Sugar Crisis” staan: “This is a book about blood sugar. It is about the epidemic of type 2 diabetes that has engulfed the world in recent years. It is also about the insidious build-up of blood sugar that precedes type 2 diabetes – a condition known as prediabetes. This is a wake-up call. A warning. […] So if you have type 2 diabetes I am going to introduce you to a diet that in just eight weeks can reverse it. If you have prediabetes, I will show you how to stop it progressing.”
Die skrywer verduidelik dat hy etlike jare gelede met tipe 2 diabetes gediagnoseer is, en toe besluit het om ‘n dokkie (Eat, Fast, Live Longer) vir die BBC te maak waarin hy alternatiewe
maniere nagevors het om sy gesondheid te verbeter. Hy het met die 5:2-dieet 9 kilogram in 12 weke verloor en sy bloedsuiker- en cholesterolvlakke het na normaal teruggekeer. Hy het ‘n boek, The Fast Diet, saam met Mimi Spencer oor die voordele van onderbroke vas geskryf. Daarna het hy meer navorsing oor die wetenskaplike verband agter kalorieë, koolhidrate, vetsug, insulien en diabetes gedoen en die 8-week blood sugar diet neergepen.
Die boek is in ‘n maklik leesbare grootdrukskrif. Ek hou daarvan dat die skrywer van gevallestudies gebruik maak om sy bevindinge te staaf. Hy antwoord vrae en verduidelik die wetenskap agter die toename in prediabetes en diabetes. En ja, hy fokus nie net op die bloedsuikerdieet nie, maar skryf ook oefening voor en gee voorstelle oor hoe om die regte leefstylkeuses te maak.
Lesers word voor in die boek gemaan dat die inhoud nie as mediese advies gesien moet word nie. Dit is altyd wys om ‘n dieet- of oefenprogram onder leiding van gekwalifiseerde persone, soos jou dokter of ‘n dieetkundige, te onderneem. Hierdie boek bevat egter waardevolle inligting, resepte, eetplanne en inspirerende voorbeelde van mense wat hulle gesondheid verbeter het deur gesond te eet en meer aktief te wees.
Die skrywer bemoedig lesers om, nadat hulle gewig verloor het, die vraag te vra: “How am I going to stay in this shape for the rest of my life?” (159) Hy gee voorstelle oor hoe om ‘n gesonde liggaamsgewig te handhaaf.
Hier volg ‘n paar van die heerlike resepte: Veg frittata – 20 kalorieë, Mexican hash – 340 kalorieë, Crayfish salad – 250 kalorieë, Warm halloumi salad –28 kalorieë, en Harissa chicken – 420 kalorieë.
Daar is beslis baie wenke, raad en inligting vir enigiemand wat graag beheer wil neem oor hulle gesondheid deur hulle eet- en oefengewoontes aan te pas. Ek het baie geleer en sal van die raad en wenke in my eie lewe toepas.
Die 8-week blood sugar diet kan hier bestel word.
Kompetisie:
Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van hierdie boek wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy graag ‘n kopie sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2026.

Ek en my vrou is albei pensioenarisse met tipe 2 diabetes. Diabetesmedikasie is baie duur en onbekostigbaar. Ons sal graag ons leefstyl met gepaste diëte wil verander om dit om te keer. ‘n Kopie van die boek sal handig te pas kom om ons leiding te gee oor hoe ons, ons diëet kan aanpas om sonder die gebruik van duur medikasie, ons doel te bereik.
Geluk, Herman, jy wen ‘n kopie van The 8-week blood sugar diet. Ons sal met jou in verbinding tree.
Hi,
Ek sal graag ‘n kopie van die boek wil wen, want ek is insulienweerstandig, wat beteken ek het ‘n kans om Tipe 2 Diabetes te ontwikkel.
Geluk, Anne, jy wen ‘n kopie van The 8-week blood sugar diet. Ons sal met jou in verbinding tree.