Óns Covid-ondervinding

En daar kry ons ook Covid-19!

As agtergrond – ons is ‘n egpaar in ons middel-60’s wat op ‘n plot bly en nie sosiaal baie aktief is nie. Ons pas wel ons 10 maande oue kleinkind op in die week en het dus gereeld kontak met my dogter en haar man en moet noodgedwonge per geleentheid ‘n winkel aandurf. Al chroniese medisyne wat ons gebruik is bloeddrukpille. In die lig van ons situasie het ons vooraf besluit dat ons sal voortgaan met ons normale leefwyse en aanvullings van vitamine C en D3 soos wat ons alreeds vóór Covid gedoen het. Ons het ‘n bewuste besluit geneem dat sou ons weet ons was blootgestel aan ‘n persoon wat positief toets, sou ons begin om ivermektien profilakties te drink. Inenting was nie vir ons ‘n opsie nie.

Dit gebeur toe ook so dat die kleinkind se ander oupa sy reuk verloor, sonder ander baie dramatiese simptome, op dieselfde dag as wat sy vrou begin lyfseer ontwikkel. My vrou en die baba het twee dae vantevore daar besoek afgelê. Terloops, ons dogter, haar man en die baba woon ook op dieselfde plot as die skoonfamilie. Toe ons swaer positief vir Covid getoets het, het ons dadelik ons eerste dosis ivermektien geneem. Die volgende dag is die baba siek en sy ouers het ook begin simptome toon. Ek en my vrou kon nie sien dat dié siek drietjies alleen moet opsnork nie en bied aan dat hulle by ons kom bly, ten minste totdat die baba oor die ergste is. So gesê en so gedaan! Baba het koors, is moeg en huilerig en het loopneus en diaree. Ons help troos en sus en asem sy uitasemlug direk in. Ja ons is oopoë in die ding in! Ek begin verskriklik hoes en verloor my reuksintuig binne  nog ‘n dag en Ouma voel mislik en kan ook nie meer ruik nie. Dus begin ons ivermektien drink volgens die behandelingskedule.

Om ‘n lang storie kort te maak, die kinders het op die ou einde drie dae gebly tot die baba nie meer koors gehad het nie. Teen daardie tyd het ek ‘n produktiewe hoes wat skrik vir niks en my vrou het ‘n sinusitisbeeld soos nog nooit in haar lewe nie. Ons het gereeld ons bloedsuurstofvlakke gemeet en onsself behandel volgens die aanbevelings wat dr Dirk Koekemoer goedgunstiglik beskikbaar gemaak het. Ons verwysing hierna lyk dalk misleidend, siende dat die dokument volledige behandelingsprotokolle bevat met baie ander inligting en skakels. Dit gaan nie net oor ivermektien nie. Werk gerus self deur die hele dokument om die waarde daarvan te benut. Ook word dit gereeld opgedateer soos wat nuwe inligting beskikbaar word. Ons kon wel nie 100% alle medikasie kry of aanbevelings toepas nie, maar omtrent net 75%.

Wat die verdere verloop van ons siekte betref, net ‘n paar opmerkings. Die hoesery was die enkele ergste simptoom vir my en dit het ‘n volle 3 weke geduur! ‘n Slymverdunner en nebulisering met waterstofperoksied het vir my gehelp om effektief en produktief te kon hoes. Die manier van hoes het ook ‘n rol gespeel. Dit was beter om nie, soos mens normaalweg doen, téén ‘n geslote strotklep met hoëdruk in die borskas te probeer hoes nie, maar eerder met ‘n soort vee-aksie soos ‘n lang kragtige uitaseming, in ‘n vooroorsittende posisie. Om ook te help met die dreinasie het ek raad gekry wat ook goed gewerk het soos in die video gedemonstreer word. Dit help om te voorkom dat die slym in die onderlongstreke ophoop wat suurstofuitruiling verder belemmer. Hou ook maar die kleur van die slym dop sodat mens vir jou dokter kan laat weet as dit bloederig of gekleurd raak. Beide ek en my vrou het ná die eerste week, toe die virusfase verby moes wees, ‘n kursus antibiotika gedrink, omdat dit gelyk het of daar ‘n bakteriële infeksie in my lugpypies en in haar sinusse ontwikkel het.

Tydens die tweede week was moegheid en lusteloosheid vir my ‘n groter probleem as tydens die eerste week. Hierdie siekte smokkel met mens se kop en maak jou ook depressief. Interessant is dat nie een van ons koors, lyfseer of noemenswaardige hoofpyn gehad het soos wat party mense ervaar nie. My vrou het wel pyn in die gesig ervaar soos wat mens kry met erge sinusitis en ekself het rugpyn en seer maagspiere gekry van al die gehoes!

Ek moet herhaal dat ons ons bloedsuurstofvlakke gereeld dopgehou het en maar gekonsentreer het om lekker diep asem te haal wanneer dit gelyk het of dit onder 94% wil daal. Dit het elke keer gehelp. Die meer gevaarlike tyd van die siekte is tydens die tweede week en ons het ons wel voorberei, volgens dr Koekemoer se aanbeveling, om kortisoon te begin gebruik sou die bloedsuurstofvlakke begin daal. Genadiglik was dit toe nie nodig nie! Ons was  ná die tweede week heelwat beter, maar nog nie heeltemal onsself nie. Na 3 weke was ons 99% reg behalwe vir ‘n hoesie of ‘n snuif af en toe. Beide van ons het omtrent 4kg gewig verloor want mens het nie eintlk eetlus nie en voel gou versadig. Jy kan nie ruik as jy kosmaak of eet nie en mens se smaak is aangetas op verskillende maniere. Óf jy proe of ruik niks nie, óf als is oneetbaar sout. Jy kry wel die basiese suur of soeterige smaak, maar geen nuanses nie.

Wat het óns geleer met hierdie episode?

Ten spyte van baie disinformasie is daar ‘n rykdom van sinvolle en positiewe inligting beskikbaar waarvan mens jou vooraf kan vergewis, ten einde te besluit hoe jy die Covid-situasie in jou eie lewe gaan probeer hanteer. Bespreek dit en bly dan ten minste telefonies in kontak met jou huisdokter met álle relevante inligting. In retrospek moes ons dalk gesorg het dat ons suurstof êrens kan kry indien dit nodig sou wees, maar dit is ons darem gespaar. Dit is ook van kardinale belang dat daar nie tyd verspil word as simptome waargeneem word nie, maar dat die afgespreekte behandelingsaksies onmiddelik in werking gestel word.

Ons is nie spyt dat ons nie ivermektien profilakties gebruik het nie, aangesien ons, as gevolg van die koste-implikasie, besluit het op een van die diereprodukte. Dit het wel GEEN byvoegings gehad nie en ons het dit net vir die voorgeskrewe 5 dae gebruik. Dit is in elk geval verskriklik sleg en dit kan jy proe, al proe jy niks anders nie. Intussen het daar wel in die media berigte verskyn van moontlike lewerskade met ivermektingebruik, maar ons opinie is dat dit dalk verband hou met byvoegings soos preserveermiddels in hierdie diereprodukte. Dit sou dalk aanbeveel kon word dat mense wat die diereproduk oor ‘n langer tydperk profilakties wil gebruik, hul lewerfunksies vooraf moet toets en miskien daarna op ‘n gereelde basis om sulke probleme betyds te ondervang. Elkeen moet self daaroor besluit, maar dis my persoonlike opinie dat die aanvanklike kriminalisering van die gebruik van ivermektien daartoe gelei het dat mense ongekontroleerd die diereprodukte begin gebruik het.

Die tweede week is die gevaarlike tyd in die siekteproses. Mens dink jy is besig om beter te word, maar dit is eintlik die fase waarin die liggaam se reaksie teen die siekte jou siek maak, nie meer die virus self nie. Ander mense met wie ons gepraat het het dieselfde ondervinding gehad, naamlik dat die moegheid, lusteloosheid en depressiewe gevoelens daadie week erger is. En ons het nie eers die sogenaamde sitokienstorm beleef nie! Hou jou bloedsuurstof nog fyner dop in die tweede week!

Sou ons ons siek kleinkind met sy ouers weer genooi het om by ons te kom bly as ons vooraf geweet het ons gaan siek word? Die antwoord is beslis JA. Dit was ‘n ingeligte besluit met ‘n gebed in die hart. Ons is oortuig dat isolasie van die siek gesinnetjie slegter uitkomste, ten minste op emosionele vlak sou gehad het , beide vir ons en vir hulle. Ons het mekaar nodig.

Akademiese opinies oor die aanwending van ivermektien vir Covid-19

‘n Bespreking oor die aanwending van ivermektien vir die voorkoming en behandeling van Covid-19 word in die volgende video deur Dr Nathi Mdladla, Professor Colleen Aldous and Dr Pincky Ngcakani gedoen:

5.00 avg. rating (97% score) - 3 votes

One Comment

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui