
Waar ondernemers bou, groei hoop
Wanneer mense die vryheid het om te onderneem, te bou en verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te aanvaar, groei ondernemings. Werk word geskep. Gemeenskappe word sterker. Dit is die oortuiging wat NEASA en KragDag verenig en waarom NEASA vanjaar met trots as een van KragDag 2026 se vaandelborge aansluit.
KragDag se tema vir 2026, “Druppels word strome. Strome word riviere,” beskryf presies hoe ekonomiese momentum ontstaan. Elke onderneming, elke uitbreiding en elke werksgeleentheid is op sigself klein. Saam skep dit die momentum wat ekonomiese groei dryf.
Met die inwerkingtreding van die Wet op Arbeidsverhoudinge in 1995 het die arbeidsomgewing vir werkgewers ingrypend verander. Die risiko verbonde aan indiensneming het toegeneem, terwyl ondernemings toenemend deur ingewikkelde arbeidswetgewing en skadelike regulering onder druk geplaas is. Werkgewers het ‘n organisasie nodig gehad wat bereid was om hul saak op te neem. Dit is die leemte wat NEASA sedert 1996 vul.
As die eerste werkgewersorganisasie wat oor sektore heen georganiseer is, het NEASA ‘n nuwe rigting ingeslaan. Vir die eerste keer kon werkgewers oor bedryfsgrense heen saamstaan en deur een organisasie verteenwoordig word. Die uitgangspunt was eenvoudig: elke onderneming, ongeag sy grootte of bedryf, behoort toegang te hê tot gespesialiseerde ondersteuning en ‘n organisasie wat bereid is om namens werkgewers op te staan.
Daardie oorspronklike visie het oor drie dekades gegroei. Vandag staan NEASA werkgewers by, vanaf die eerste dienskontrak tot by die mees komplekse arbeidsgeskille en beleidsvraagstukke. Die organisasie litigeer daagliks namens werkgewers, neem deel aan kollektiewe bedinging, lewer insette oor beleid wat ondernemings raak en staan op teen wetgewing wat werkskepping onnodig bemoeilik. Daar is min wat tussen werkgewer en werknemer gebeur waarby NEASA nie betrokke raak nie.
NEASA se rol strek verder as die hantering van individuele arbeidsake. Deur wins terug te ploeg in strategiese litigasie, pak die organisasie ook wetgewing en beleidsbesluite wat werkgewers se vermoë om te groei en werk te skep, ondermyn. Só skep NEASA ‘n gunstiger omgewing waarin ondernemings kan floreer.
Besoek NEASA gerus tydens KragDag 2026 en ontmoet die mense wat daagliks namens werkgewers regoor die land optree. Of jy reeds ‘n gevestigde onderneming bestuur of nog besig is om jou besigheid te laat groei, kom ontmoet die span, vra jou vrae en ontdek hoe NEASA ondernemings help om met groter sekerheid en vertroue sake te doen.
Elke onderneming begin klein. Soos ‘n druppel. Maar wanneer werkgewers die ruimte kry om te onderneem, te bou en werk te skep, word daardie druppels strome. Strome word riviere. En dit is hoe sterker gemeenskappe gebou word.
