Boekoorsig: Siel-Spasie:Selfontdekking en sielesorg

Ine de Vries is ‘n inspirasie vir elke vrou. Met ‘n graad in drama in haar sak het sy ook ‘n magistergraad in sielkunde verwerf. Sy het ‘n privaat praktyk tot stand gebring om met tieners en volwasse vroue te werk. Haar boek getiteld Siel-spasie is ’n uitnodiging aan vroue om weer asem te haal, stil te word en hul siel met liefde te versorg. Siel-spasie neem vroue op ’n reis van selfontdekking, innerlike rus en doelbewuste sielesorg.

Ine vra: “Waarna smag jou siel tans die meeste? Om meer innerlike ruimte te skep? Om jouself weer te herontdek? Om sagter en met meer deernis teenoor jouself op te tree? Ek het ook só gevoel; dis waarom ek Siel-Spasie geskryf het. Ek deel my eie siels- en geloofsvrae en gee my insigte op ’n warm, eerlike en praktiese manier wat voel soos ’n diep gesprek saam met ’n goeie vriendin oor ’n koppie tee.”

Tussen die bladsye van Siel-Spasie sal jy sagte meditasies en gebedspraktyke ontdek wat jou help om nader aan God en jouself te groei. Daar is joernaaloefeninge wat ruimte skep vir genesing, refleksie en nuwe hoop. Jy sal geïnspireer word deur praktiese selfsorgidees en natuurlike velsorgresepte wat liggaam én siel koester. Ook sal jy leer hoe om weer vrede, balans en betekenis in die alledaagse te vind deur die kuns van stilword. Ná elke hoofstuk sal jy nie net geïnspireer voel nie, maar ook sagter teenoor jouself, nader aan God en diep gevoed van binne wees.

Ine moedig vroue aan om diep in hul eie menswees te delf en hul hart, siel én lyf saam te vertroetel. Sy help vroue onder meer om gevoelens soos selftwyfel, afguns, woede, angs en vrees vir mislukking hok te slaan en eerder selfliefde, selfaanvaarding en selfwaardering sowel as deernis vir hulself aan te leer. Sy hanteer ook skuldgevoelens en gevoelens van skaamte en herinner vroue daaraan om vergifnis vir hulself en ander, dankbaarheid oor hul hede en hoop vir die toekoms uit te leef.

Lokteks op die agterblad: “In Siel-Spasie word selfsorg (vir jou fisieke en emosionele gesondheid) en sielesorg (wat jou geestelike welstand in stand hou) op ‘n unieke manier deur meditasies, joernaalhou, selfdoenoefeninge en velsorgresepte aanmekaar geweef.”

Aanhaling uit die boek: “Ek wil baie graag hê dat jy ook salig moet voel, daarom nooi ek jou uit om tyd vir jou eie sielsvertroeteling te maak. Skep jou eie Siel-Spa waar jy in totale afsondering en met toewyding jou liggaam met jou siel kan versoen en sodoende genesing vir die fisieke en emosionele seerkry wat jou so skaaf en druk, kan kry.”

Ek het vir Ine ‘n paar vrae gevra:

Waarom het jy dié spesifieke boek geskryf?

ʼn Paar jaar gelede het ek myself in ‘n diep sielestryd bevind. Ek het alles begin bevraagteken – wie ek is, wat my lewensdoel is en waarmee ek besig is. Al waarna ek gesmag het, was om net vir ʼn rukkie van die N1 van my lewenspad af te draai en my siel se GPS te herroeteer. Ek het gewonder of ander vroue ook soms so ontredderd en van hulself vervreemd voel. Of hulle ook daardie stil verlange ken na iets dieper – ʼn meer betekenisvolle verhouding met hulself en met die Here. Met Siel-Spasie het ek die behoefte gehad om liggaam, siel en gees weer sagkens bymekaar te bring. Om selfsorgwenke en sielsversorging so te verweef dat dit prakties en volhoubaar is – iets wat mens werklik kan leef, dag vir dag.

Vertel meer oor jou skryfproses.

Die inspirasie vir Siel-Spasie het uit ʼn enkele joernaalinskrywing ontstaan. Ek voel bevoorreg dat die Here, as my mede-outeur, binne ʼn paar maande die volledige raamwerk vir die boek aan my gegee het. Dié raamwerk het ek oor jare in my gedagtes verfyn. Ná maande se navorsing oor elke tema kon ek uiteindelik begin skryf aan die eerste weergawe. Ek het ʼn skryfmentor gehad wat eerlike, objektiewe raad en leiding gebied het. Die manuskrip het deur ses groot herskrywings gegaan voordat ek aan publikasie begin dink het.

Enige wenke vir voornemende skrywers?

  • Glo 100% in jou skryftalent en in dit waaroor jy skryf.
  • Slyp jou skryftalent elke dag. Moenie ʼn dag se skryfwerk oorslaan nie, al is dit net ‘n goed bewoorde WhatsApp- of Facebook-plasing, of ʼn joernaalinskrywing. Skryf bly skryf.
  • Wees konsekwent. Stel daagliks én weekliks ‘n woordtelling-doelwit en hou daarby.
  • Wees barmhartig teenoor jouself. Moenie jouself kasty oor ʼn doelwit wat jy nie bereik het nie. Gaan stap ʼn ent, eet iets en haal diep asem. Later begin jy weer skryf met nuwe ywer, vasberadenheid en deursettingsvermoë.
  • Gee GAS – Gat Aan Stoel! Sit die ure, weke en maande in wat nodig is. Dis die enigste manier om ʼn manuskrip suksesvol te voltooi.
  • Pay it forward. As jy ooit ʼn voornemende skrywer kan help, moenie huiwer nie, doen dit.
  • Stoor jou skryfwerk elke dag op meer as een digitale plek.

Siel-Spasie word deur Kwarts Publishers uitgegee. Klik op die skakel om na die boekbekendstelling te kyk.

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van hierdie boek wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy graag ‘n kopie sou wou wen. Sluitingsdatum 31 Julie 2026.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

12 Comments

  • Ek sou graag ‘n kopie wou wen omdat my siel op die stadium smag na….spasie. Die boek is geskryf vir vroue deur ‘n bekwame vrou so ek glo dit sal defnitief die moeite werd wees om deur te werk.

  • Dit bly ‘n voorreg om nuus, kommentaar, toekomsplanne in my taal, Afrikaans, te ontvang, na te luister en daaroor te dink en droom.

  • Ek wil baie graag hierdie boek gee, aan die beste vrou in die wêreld.

  • Ek sal graag ‘n kopie van hierdie boek wil wen, omdat ek lief is vir boeke wat my geloof versterk en my help om geestelik te groei. Ek glo hierdie boek sal my bemoedig en inspireer, en ek sal ook die waardevolle inhoud met my familie en ander kan deel. Baie dankie vir hierdie wonderlike geleentheid!

  • Ek is in die afgelope twee maande deur ‘n baie moeilike tyd toe ek vir die tweede keer ‘n dogter deur die dood verloor het. Na twee weke in ‘n psigiatriese hospitaal is ek besig om die hartseer, hoekoms en sin van die lewe te verwerk. Ek glo die boek sal my in my gesond word en terugkeer na myself help.

  • Ons stilte het verwdwyn, selfs wanneer ons aleen is.

    Dalk kan die boek dit help herwin.

  • Ek sal BAIE BAIE graag hierdie boek wou wen, omdat ek sommer verlig gevoel het by die lees van die woorde… “of ander vroue ook soms so ontredderd en van hulself vervreemd voel”,sjoe! ek is dan nie alleen nie. …en of hulle ook daardie stil verlange ken na iets dieper – ʼn meer betekenisvolle verhouding met hulself en met die Here”, is PRESIES soos ek die laaste paar maande/jaar of wat, voel! Ek sal so graag wil lees, en leer, HOE “Om selfsorgwenke en sielsversorging so te verweef dat dit prakties en volhoubaar is” Daardie VOLHOUBAARHEID is my huidige SIELSVERLANGE.

  • Ek sal graag die boek wil wen, want:

    1) Ek is met ‘n gemoedsverwante stoornis gediagnoseer en ek is altyd op soek na maniere om geestelik en sielkundig te groei en te verdiep. Boonop stel ek geweldig belang in meditasie en joernaalhou.
    2) Ek het ‘n persoonlike belangstelling in Sielkunde, want as vryskutjoernalis skryf ek dikwels artikels met ‘n sielkundige inslag.
    3) Ek dink die boek het besondere waarde, want dit is vanuit ‘n sielkundige oogpunt, maar binne ‘n Christelike konteks geskryf.

  • So n paar jaar terug is ek in die ruggesteek en al my geld verloor. Ek probeer weer die stukkies van my siel en menswees bymekaar maak en op te tel. Sal hulp baie waardeer. Baie dankie

  • So n paar jaar terug is ek in die ruggesteek en het ek al my geld verloor. Ek probeer weer al die stukkies van my siel en menswees bymekaar maak en op te tel. Sal hulp baie wardeer. Baie dankie

  • Soms het ons nodig om te hoor ons is nie alleen besig om daagliks ñ stryd in ons binneste te voer nie. Soms dink ek ook soos Prediker en wonder of alles nie maar ñ gejaag na wind is nie… Ons jaag van die oggend tot die aand agter goed aan wat ons nie eers regtig gelukkig kan maak nie. Maar alleentyd met die Here, en die wete dat as jy môre opstaan die Here jou weer vul met nuwe krag, hou my staande. Dan gaan ek maar net weer aan en sê dankie dat ek kan opstaan en dat ek die dinge kan doen wat ek doen, almal is nie so bevoorreg nie. Dankie Here!

  • Ek sal baie graag die boek wil lees. Dit voel soos een van daai boeke wat jy nie moet terugsit op die rak nie, maar jou Sondag middag mee moet deel.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui