
Boekoorsig: A visitor’s guide to Etosha National Park
Boek oor die Nasionale Etoshawildtuin
Struik Travel & Heritage het pas hierdie besonderse publikasie oor die Nasionale Etoshawildtuin die lig laat sien. A visitor’s guide to Etosha National Park deur Willie Olivier, ‘n reisiger en skrywer, en Ute von Ludwiger, ‘n toergids en wildfotograaf, beslaan 176 bladsye. Die hoofstukke is getiteld: The great white place, A brief history, Planning and preparation, Out and about in Etosha, Waterholes and game drives, Etosha’s mammals, Etosha’s birds, Etosha’s smaller creatures, Park management, ecology and research. Daar is ook ‘n indeks van watergate.
Die gids is vol pragtige kleurfoto’s en goed nagevorste feite oor die bekende park in die noorde van Namibië se natuurlike geskiedenis, diverse wildlewe en pragtige natuurskoon. Dit bied ook praktiese advies en inligting oor waarheen om te gaan en wat om te sien wanneer jy die bewaringsgebied, wat oor die 22 000 vierkante kilometer strek, wil besoek.
Die uitgewersbrief lui: “While presenting a record of Etosha’s past and present, this volume also serves as a valuable guide, providing practical advice, as well as describing active waterholes and the animals that can be seen there, recommended self-drive routes for prime game viewing, and accommodation options within and beyond the park.”
Die Nasionale Etoshawildtuin huisves ‘n ryk verskeidenheid soogdiere, voëls, reptiele en ander lewensvorme. Dit is ‘n uitdagende en kwesbare ekosisteem wat deur seisoenale veranderinge en die beskikbaarheid van water beïnvloed word. Etoshapan, ‘n soutvlakte wat selfs uit die ruimte waargeneem kan word, beslaan sowat 27% van die park se oppervlakte en strek 120 km van oos tot wes, met ‘n maksimum wydte van 60 km. Die woestyngebied trek duisende flaminke en ander voëllewe in jare van hoë reënval. Dit is ‘n voëlkykerparadys met sowat 400 spesies voëls. Fonteine en watergate lok onder meer olifante, sebras, kameelperde, bokke en roofdiere soos leeus en luiperds.
“The park is also significant for its conservation and tourism efforts. It plays a crucial role in protecting endangered species, undertaking ecological research and maintaining biodiversity. Its extensive infrastructure, including rest camps, campsites and a well-developed road netword, make it accessible for tourists, whether on a guided safari or a self-catering, selfdriving holiday. Etosha promises an unforgettable experience in the heart of Namibia’s wilderness.” (10)
KragDag-lesers wat graag reis, al is dit met Jan Tuisbly se karretjie, sal hierdie boek beslis van waarde vind. Ek het die inhoud baie leersaam en interessant gevind en my verlustig aan die mooi foto’s en kaarte. Nie net sal diere- en landskapentoesiaste die boek geniet nie, maar liefhebbers van geskiedenis sal ook heerlik hieraan lees.
Moenie eens daarvan droom om op ‘n Etosha-safari sonder hierdie essensiële gids te gaan nie. A visitor’s guide to Etosha National Park sal help om aan jou ‘n weergalose reiservaring te gee. Skaf gerus die boek hier aan. Dit is ook by ander boekwinkels beskikbaar.
Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van hierdie boek wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy graag ‘n kopie sou wou wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2026.

Ons wil graag die park besoek en die boek sal handig wees.