Selfstandig én interafhanklik

Daar het voorheen ‘n wanopopvatting bestaan dat persone wat ‘n selfonderhoudende leefstyl nastreef in wese eintlik maar wanaangepaste inidividue of gesinne is – mense wat nie in die “normale” samelewing kan of wil funksioneer nie. Hulle is dikwels gesien as maplotters wat op hulle eie wil bly omdat hulle weens sosie-ekonomiese redes randfigure of uitgeworpenes is. Kluisenaars. Manne met lang hare en baarde. Vroue wat kaalvoet en swanger agter die stoof swoeg. Mense wat bome drukkies gee of huise met modder en beesmis bou. Vreemde mense. Hippies. Jopie Adam-na-aapers.

Grootliks te danke aan sosialemediabeïnvloeders, YouTube-kreatiewes en ‘n al hoe groter wordende groep mense wat wêreldwyd ‘n selfonderhoudende leefstyl verkondig én suksesvol uitleef, is dit vandag nie meer ‘n vreemde gedagte dat sommige verkies om onafhanklik en selfstandig te funksioneer nie.

Daar is deesdae net té veel onsekerhede om volkome afhanklik van die staat, nasionale netwerke en infrastruktuur, verskaffers en besighede te wees. Al hoe meer mense sien nie meer kans vir ‘n dolle gejaag na wind nie. Hulle wil meer beheer hê oor hulle hulpbronne en weet hoe daar met hulle kos, water en medisyne gehandel word. Daar is ook kommer oor die beheer wat regerings en invloedryke instansies op soveel lewensterreine afdwing. Mense kan dit bloot eenvoudig ook nie meer bekostig om by te hou met die samelewing se verwagtinge dat sekere lewensstandaarde gehandhaaf moet word nie. Huise, motors, rekeninge, skuld … dit verswelg drome, perk vryheid in en maak slawe van diegene wat afhanklik is van salarisse om in noodsaaklike lewensmiddele te voorsien.

Maar is die oplossing om eenkant in die boendoes te gaan bly, kool en tamaties te groei en saans by kerslig kouse te stop? Sekerlik nie. Dit is net nie moontlik vir die deursneemens om alle geriewe op te gee en in afsondering op sy of haar eie reg te kom nie. Die meeste mense het nie die vaardighede om op so ‘n uitdagende wyse te woon, werk en funksioneer nie. No man is an island, sê die Engelsman mos.

Mense het mekaar nodig. Ons het verskillende talente, en saam is ons sterker en ons kanse op oorlewing groter. Onlangs het ons dit self op die plaas beleef toe boere in die omgewing hulle Sondag opgeoffer het om my man te kom help soek na ons geliefde hondjie wat weggeraak het. Spokie het in die veld agter ‘n bokkie aangehardloop en toe verdwaal. My man het op ‘n WhatsApp-groep gevra dat mense hulle oë oophou vir die hondjie. Die volgende oomblik het boere met hulle tweerigtingradio’s opgedaag en saam deur ruie veld en bosse gestap om na Spokie te soek.

Die storie het ‘n gelukkige einde. Net daar het ons besef: Dit maak nie saak tot in hoe ‘n mate ‘n mens graag selfonderhoudend en onafhanklik wil wees nie, jy het altyd ander nodig. Moet nooit die samehorigheid van ‘n gemeenskap onderskat nie. Juis dáárin vind ons die gerusstelling dat daar bure is wat bereid is om ‘n hand na jou uit te steek, te help waar en hoe hulle kan en jou rug toe te maak. Die een hand was die ander-beginsel. Ek plant pampoene en ruil dit vir jou heuning. Jy weet hoe om ‘n dompelpomp te herstel en ek weet hoe om ‘n olike skaap te dokter. Ons help mekaar en is daar vir mekaar.

Prediker 4:9-12 (NLV): “Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm. Maar hoe kan een wat alleen is, warm word? Iemand kan die een aanval, maar die twee kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”

Wees selfonderhoudend maar koester interafhanklikheid. Dis wys om ‘n ondersteuningsnetwerk te hê.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui