
Plant ‘n vrugteboom of twee
Hulle sê die beste tyd om ‘n boom te plant, is twintig jaar gelede. Die tweede beste tyd is nou.
Ek lees in ‘n Facebook-plasing (29 April 2023) van Gardens by JJ die volgende: JJ sê: Almal vra altyd wanneer is dit ‘n goeie tyd om plante, meer spesifiek bome en struike, te plant en die antwoord is nou. As ‘n mens dit in die lente plant, beteken dit jy versteur die sappe soos dit in die plante se wortels op beweeg boontoe. Plant jy dit nou of in die winter is jou plante dormant en eintlik in rus wat beteken dis ‘n goeie tyd om die plant kans te gee om sy wortels te vestig en in sy nuwe posisie wakker te word soos die temperatuur weer warm word na die winter …”
Dit is dus nie nodig om te wag tot die lente wanneer ons hier in die Suidelike halfrond Nasionale Boomplantweek gedurende die eerste sewe dae in September vier nie. Gaan maak ‘n draai by jou naaste kwekery en gaan soek vir jou ‘n vrugteboom of twee uit om in jou tuin te plant. Nie net sal die boom uiteindelik vir jou skadu bied nie, maar dit sal ook aan jou heerlike vrugte gee waarin jy jou kan verlustig. Ek het tans twee lukwartbome in my tuin in die Oos-Kaap wat oortrek is van die vruggies wat nou net-net begin ryp word. Wanneer laas het jy ‘n lukwart geëet? Of die wonderlike voorreg gehad om vrugte direk van die boom af te pluk en te geniet?
Gesels gerus met jou vrugteboomverskaffer oor hoe om vir jou vrugteboom te sorg of doen navorsing aanlyn. Gaan lees gerus Tisha Steyn se artikel getiteld “Groentetuin vir beginners 14: Vrugtebome vir jou tuin” op ProAgri se webtuiste. Ek het dit ook geniet om na J.J. van Rensburg, ‘n tuinboukundige van Garden World, se video getiteld “Hoe om bome te snoei” te kyk. Gaan loer ook na Tanya Visser se gratis kursus getiteld: “The 101 with fruit trees – Masterclass with Tanya Visser”.
Hier is nog ‘n paar wenke vir jou: Vind uit hoe hoog die boom sal word en hoeveel ruimte dit in beslag sal neem wanneer dit volgroeid is. Neem oorhoofse kabels en ondergrondse pype en dreine in aanmerking wanneer jy ‘n geskikste plek in jou tuin identifiseer om die boom te plant. Sommige bome moet liefs nie te na aan jou huis, motorhuis of grensmure geplant word nie omdat die wortels moontlike skade aan fondasies kan aanrig. Jy wil ook nie sukkel met verstopte geute omdat takkies, blare of vrugte daarin beland nie. Hou munisipale reëls en regulasies, wat daarop gemik is om diensleweringinfrastruktuur te beskerm en inheemse plantegroei te bevorder, in gedagte. Doen dus jou huiswerk alvorens jy besluit watter tipe vrugte boom jy wil plant en waar jy dit wil plant.
Dit klink dalk na ‘n mondvol, maar eintlik moet jy net jou gesonde verstand gebruik en proaktief optree. Wanneer jy die ideale plek vir jou vrugteboom geïdentifiseer het, grawe jy ‘n gat net so diep soos die sak of pot waarin jy jou vrugteboom gekoop het. Sorg dat die grond goed dreineer en werk ook kompos by. Plant dan jou boom, maak dit goed nat en gooi ‘n deklagie blare, gesnyde gras, stukkies bas of strooi of bo-oor om die vog binne te hou. Pasop net om jou deklaag nie tot teen die stam te gooi nie, anders kan die stam dalk verrot van die voortdurende klammigheid.
Vrugtebome soos appels, pere, perskes, nektariens, suurlemoene, vye en granate kan gedurende die herfs geplant word. Gedurende die koeler maande sal die wortelstelsel vestig in voorbereiding vir die warmer maande wanneer die bome moet begin bot.
So, waarvoor wag jy? Plant ‘n vrugteboom en jy kan dalk gouer as wat jy dink aan die heerlike vrugte weglê.
