
Sakeliga – Elke druppel verander die stroom
KragDag se tema vir 2026, “Druppels word strome. Strome word riviere”, herinner ons daaraan dat momentum die verloop van gemeenskappe, ekonomieë en selfs lande bepaal. Dit waarsku teen die gevolge van opeenhopende verkeerde besluite, maar benadruk ook die krag van volgehoue doelgerigte optrede.
Die Amerikaanse skrywer en besigheidskonsultant Jim Collins beskryf hierdie beginsel soos volg: “Groot dinge gebeur omdat jy ‘n hele reeks klein dinge uitstekend doen, en dit stapel oor tyd op.”
Die teenoorgestelde is egter net so waar: Verkeerde dinge gebeur omdat jy ‘n hele reeks klein dinge verkeerd doen, en dit stapel oor tyd op.
Die waarskuwing
Staatsverval begin met enkele druppels: nog ‘n lisensie, nog ‘n permit, nog ‘n regulasie, nog ‘n verkrygingsreël, nog ‘n indiensnemingskwota, of nog ‘n uitbreiding van administratiewe mag. Elke enkele maatreël lyk op sigself gering en lok dikwels min aandag of weerstand.
Sonder enige ingryping versamel hierdie druppels mettertyd in ‘n stroom, wat al hoe moeiliker word om te keer.
Munisipale verval is die gevolg van jare se uitgestelde instandhouding, verswakte aanspreeklikheid en opeenhopende administratiewe mislukkings. Die uitbreiding van rasgebaseerde regulering het eweneens druppel vir druppel plaasgevind: klein beleidsbesluite wat uiteindelik die ekonomiese landskap ingrypend verander het.
Dieselfde geld vir Suid-Afrika se toenemende regulatoriese las, verswakte wetstoepassingsagentskappe en verbrokkelende infrastruktuur. Geen enkele besluit het hierdie werklikheid geskep nie. Dit is die gevolg van jare se opeenhoping.
Teen die tyd dat die omvang daarvan duidelik word, het die stroom reeds ’n rivier geword wat sy eie koers bepaal.
Om die stroom te verander
Die goeie nuus is dat momentum ook in die teenoorgestelde rigting werk.
Dieselfde beginsel wat staatsverval moontlik maak, maak ook herstel moontlik. ’n Reeks klein, doelgerigte en volgehoue optredes kan mettertyd genoeg momentum opbou om selfs diepgewortelde beleid en staatsverval teen te werk en die stroom te verander.
Sakeliga is in 2011 gestig vanuit die oortuiging dat ’n florerende ekonomie nie deur een groot hervorming geskep word nie, maar deur volgehoue werk oor baie jare.

Sakeliga glo dat skadelike staatsoptrede daadwerklik teengestaan moet word en dat die sakegemeenskap self ’n verantwoordelikheid dra om ’n gunstige sakeomgewing te help bou.
Daarom mobiliseer Sakeliga die hulpbronne van ondernemings en individue om ekonomiese vryheid, eiendomsreg, gedeelde infrastruktuur, veiligheid en ander voorwaardes vir florerende gemeenskappe te beskerm en te versterk.
Danksy die volgehoue ondersteuning van duisende befondsers kon Sakeliga sy litigasie teen onder meer Swart Ekonomiese Bemagtiging, die Nasionale Gesondheidsversekering en ander skadelike beleid beduidend uitbrei.
Hierdie momentum het reeds tasbare resultate opgelewer. Sakeliga het onder meer groter vryheid vir boere help verseker om bek-en-klouseer te bestry, rasgebaseerde vereistes vir internasionale lugdienste suksesvol in die hof teengestaan en inwoners gehelp om munisipale wanbestuur teen te werk.
Op sigself lyk Sakeliga se oorwinnings soos enkele druppels, maar dit is hierdie reeks klein oorwinnings wat lei tot ‘n geleidelike verbetering van die breër sakeomgewing.
Vandag voer Sakeliga agt aktiewe hofsake en ondersoek nog 23 moontlike sake. Ons doelwit is om teen 2029 minstens 30 aktiewe hofsake en 50 ondersoeke gelyktydig te hanteer. Met volgehoue ondersteuning is hierdie wesenlike uitbreiding haalbaar.
Elke druppel tel
Daar bestaan altyd die versoeking om te glo dat een deurslaggewende gebeurtenis alles ten goede sal verander: die uitslag van die volgende verkiesing, ‘n gunstige hofuitspraak of ‘n omvattende beleidsverandering. Hoewel sulke gebeurtenisse betekenisvol kan wees, is dit selde voldoende om dekades se opeenhopende verval reg te stel.
Die druppels wat die strome van staatsverval, vernietigende ekonomiese beleid en verskerpte diskriminasie voed, het ook nie opgedroog nie en gaan nie binnekort verdwyn nie. Daarom verg herstel ook volgehoue momentum wat hierdie skadelike strome teenwerk.
Werklike verandering word nie deur een dramatiese gebeurtenis bewerkstellig nie, maar deur die volgehoue opeenhoping van honderde kleiner oorwinnings wat oor tyd die rigting van die stroom verander.
As ‘n selfstandige organisasie sonder winsoogmerk is Sakeliga dankbaar om die ondersteuning te geniet van duisende toegewyde befondsers wat ons missie deel en die uitvoering moontlik maak.
Elke entrepreneur, onderneming en individu wat Sakeliga ondersteun, voeg nog ’n druppel by hierdie stroom. Elke oorwinning versterk die stroom, en elke nuwe stroom bring ons nader aan die gunstiger sakeomgewing waarvoor ons ons beywer.
