Duurder lewensonkoste: Sny jou riempies dun

Dit is redelik voor die hand liggend dat die mensdom wêreldwyd ‘n moeilike tyd tegemoetgaan. Selfs persone wat nog nooit voorheen die nodigheid ingesien het om selfvoorsienend te wees nie, raak nou bekommerd. Diegene wat hulle tot dusver nie daaraan gesteur het om vooruit te beplan vir tye waarin daar moontlike kos- en waterskaarste en brandstoftekorte kan wees nie, begin nou al meer te besef dat die idee dalk glad nie vergesog is nie.

Die beelde waarmee ons op die TV en internet gebombardeer word oor die eskalerende konflik in die Midde-Ooste en die reperkussies daarvan selfs hier aan die suidpunt van Afrika, maak ons oë oop vir hoe vinnig ons hele bestaan in ‘n oogwink kan verander. Vanaf 1 April moet ons ook ons hande nóg dieper in ons sakke steek, onder andere vir duurder energie- en vervoerkostes wat gaan lei tot hoër kospryse. Ons algehele lewenskoste gaan dus styg. Dit gaan ‘n effek op elke huishouding se begroting hê. En baie van hierdie huishoudings leef alreeds onder die broodlyn, met hongersnood ‘n aaklige werklikheid in dele van ons land.

So, hoe beskerm jy jou gesin in hierdie uitdagende tye? Jy sny julle riempies dunner. Begin deur julle begroting met ‘n vergrootglas te bestudeer en alle onnodige en luukse uitgawes te besnoei en eerder te kanaliseer na lewensmiddele waarsonder julle regtig nie kan klaarkom nie. Kry jou hele gesin aanboord, want so neem elkeen verantwoordelikheid om sy of haar deel by te dra om die begroting te laat klop. Jy sal verbaas wees met hoeveel vindingryke besparingsidees selfs die kinders mee vorendag sal kom. Maak hulle deel van jou besluite, gee hulle kans om insette te lewer en jy sal agterkom hulle is baie meer gemotiveerd om hulle samewerking te gee.

Wat etes aanbetref: Mense wat die depressiejare oorleef het, sal vir ons sê dat ons moet ophou om lekkerbekkig te wees. Eet wat op jou bord is en wees dankbaar dat jy kos in jou maag het. Moenie met kos mors nie en moet jou ook nie ooreet nie. Jy hoef elke dag of selfs elke week of maand biefstuk en garnale te eet nie. Hoenderlewertjies met uie gebraai is enige tyd net so lekker en voedsaam. Los die peperduur gaskoeldranke wat in elk geval nie bevorderlik vir jou gesondheid is nie en drink water of ystee wat jy geur met ‘n pepermentblaartjie of twee uit jou tuin. Improviseer. Vereenvoudig. Hou op om jou neus op te trek vir oorskiet wat die volgende dag met net ‘n titseltjie kreatiwiteit omskep kan word tot ‘n nuwe maaltyd.

En ja, as jou gesin nou nog nie julle eie kos begin kweek het nie, is dit tyd dat julle die uitdaging saam as ‘n familie-aktiwiteit begin aanpak. Geen gesin kan meer slegs afhanklik wees van winkelkos nie. Sonder om spoke op te jaag, is dit tyd om “wat as”-vrae te vra: Wat as kos so duur word dat ek noodwendig veel minder daarvan moet koop? Wat as ek by die winkel kom en die rakke is leeg – vir watter rede ook al? Waarvan gaan my gesin leef? Tot hoe ‘n mate is julle selfonderhoudend?

Lees gerus hierdie artikels ook:

Vervang jou grasperk met ‘n eetbare tuin

Werk spaarsamig. Wees dankbaar.

Selfvoorsienend: voor- en nadele

Selfstandig of afhanklik

Selfdoeners en selfvoorsieners

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui