
Raak ontslae van “bogus” onderwys!
Die waarde van onderwys sal seker deur bitter min mense betwis word, maar mense mag oor die inhoud wat aan die woord geheg word, hemelsbreed verskil.

Hierteenoor spreek die staat se verwaandheid en beheermanie duidelik uit hulle optrede die afgelope week om twintig privaatskole in die Oosrand tot niet te maak (omdat hulle in die afwesigheid van staatsregistrasiepapiere as “bogus” skole uitgekryt word) om sodoende die kinders te dwing om aan ‘n siek staatsonderwys bedeling onderwerp te word. Soos Bouwe van der Eems in sy artikel Bogus education or bogus schools? skryf, is die onderskeid wat ons eerder moet tref, díe tussen sogenaamde “bogus” skole versus die werklike “bogus” onderwys van die staat. (Ironies genoeg vind die optrede teenoor die skole plaas in dieselfde week as wat die polisie in baie gevalle staan en toekyk hoe ander se goed en lewens geplunder word en waar selfs die ontstaan van hierdie plundering as verwyt oor beweerde nie-optrede deur die polisie, voor hulle deur gelê word.)

Dit bring ons sommer by nog ’n rede waarom mense begin kyk na ander alternatiewe vir staatsonderwys – veiligheid. Ook dit was in die afgelope week weer prominent in die kollig met die ontvoering van die sesjarige Amy-Leigh de Jager.
Hierteenoor het KragDag se opgewondenheid oor die doen-jou-eie-ding filosofie, weg van die indoktrinasie en vervorming tot jy in die boks pas van die ideologies gedrewe staatsonderwyskurrikulum, gelei tot die voorreg om as organiseerder betrokke te wees by verskeie tuisonderwys ekspo’s. Afgesien van die Karoo mini-ekspo wat twee weke gelede plaasgevind het, lê daar ook nog hierdie jaar die volgende tuisonderwys ekspo’s voor:
- Die CHE ekspo in Kaapstad – 14 September.
- Die Gauteng Ekspo – 17 tot 19 Oktober.
- Die Durban ekspo – 9 November.
Afrika Tuisonderwys Konferensie en Gauteng Ekspo
Dit is ook vanjaar die eerste keer dat Suid-Afrika die gasheer is vir die Afrika Tuisonderwys Konferensie (GHEI Africa), wat saam met die Gauteng Tuisonderwys Ekspo van 17 tot 19 Oktober in Pretoria aangebied word. Tydens die drie dae van die konferensie sal daar verskeie internasionale en plaaslike sprekers optree. Daar sal ook verskeie aktiwiteite vir kinders op die perseel plaasvind soos perdryritte, perde-ryskool demonstrasies, filmvertonings, springkastele, hindernisbaan, swem, duikdemonstrasies, kosmaak en koekversiering, noodhulp demonstrasies, selfverdediging demonstrasies, albasterbaankompetisies en lewendige musiekvertonings.
Junior Entrepreneurs kan ook tydens die geleentheid hulle besigheid uitstal of hulle produkte kom verkoop – vir meer inligting skakel met Joey (joey@kragdag.co.za of 087 231 1644).
Voorsiening word gemaak vir verskeie tuisonderwys-uitstallings in die perseel se tuine op die Donderdag en Vrydag terwyl die volledige ekspo uitstalling op Saterdag 19 Oktober plaasvind. Toegang vir kinders tot 18 jaar is gratis terwyl die hekfooi R70 per volwassene is (R35 indien jy jou kaartjie vooraf koop). Om enige of al drie die dae van die Afrika Konferensie lesings by te woon kos R100 per persoon en dit sluit toegang tot die ekspo op Saterdag in.