VSA gooi reddingsboei terwyl Suid-Afrika voortbeur op afgrondpad

Terwyl die gety in die res van die wêreld aan die draai is, beweeg Suid-Afrika ongelukkig in die teenoorgestelde rigting met groter skade deur die korrupte en vernielsugtige regering, wat besig is om Suid-Afrika oor die afgrond te stuur. Dat die ANC die voortou neem is vir niemand ‘n verrassing nie, maar dit geskied nou ook blykbaar met die meevoer van die DA in die ANC se volvoering van sy Nasionaal Demokratiese Rewolusie oogmerke. 

Ons sien dit in die DA se jellievisagtige handelinge soos sy ommekeer standpunt oor onteiening, die meeloop met die Bela wetgewing, die gasheer speel deur Kaapstad van WorldPride 2028 en pogings om Christene te vervolg. Die nuutste is die leier van die DA (ook minister van Landbou), wat met sy as te ware “ek volg maar net opdragte” bevordering van BEE in die landbou met ad hominem aanvalle verlede week vir Sakeliga aangeval het toe laasgenoemde hom tot verantwoording probeer roep oor sy dade. 

Sakeliga is een van die organisasies in die land wat die waardevolste, en altyd professionele, bydraes lewer om ‘n regverdige en gunstige ekonomiese omgewing te skep vir welvaartskepping deur entrepreneurs en spontane transaksies, en deur toerusting van plaaslike sakekamers. Dit is erg ironies dat die DA leier hierdie instansie, wat afhanklik is van vrywillige bydraes deur mense wat dankbaar is vir Sakeliga se onontbeerlike werk, van ‘n rykword skema beskuldig – dit terwyl hyself ‘n parasitiese vet salaris ontvang uit geld wat met diefstal (belasting) van die produktiewe deel van die samelewing, wat met sweet daarvoor gewerk het, onteien is. Asof dit nie genoeg is nie, word Theo de Jager van SAAI as ongewenste persoon in Stalin-styl uit die minister se foto ge”photoshop”, in ‘n departementele blad.

En toe kom die uitvoerende bevel van die VSA president wat wanpraktyke van die Suid-Afrikaanse regering aanvat en ‘n simpatieke hand uitreik na Afrikaners (vir die eerste keer in seker dekades is daar in die internasionale arena op die omstandighede van Afrikaners, by name, ag geslaan). Weer was die negatiewe en patetiese reaksie van die SA president en sy kaders nie verrassend nie, maar wat verstom is die ander politieke partye, die media en besigheidskamers, wat dikwels die voorkoms gehad het van ‘n ondankbare wegklap van die hand wat wil help. Met ‘n onbeholpe eerste reaksie van “Dankie, maar nee dankie!” blyk dit dat selfs leiers in Afrikanergeledere, soos die hond wat die bus gevang het, onkant gevang is deur die VSA se aanbod.

By KragDag glo ons ook dat Afrikaners se plek aan die suidpunt van Afrika is en dit is ons strewe om ook deur die opkomende geslagte demografies hier, indien dit in die voorsienigheid van die Here mag bestaan, ‘n bepalende en waardegedrewe rol te speel. Dit neem egter nie weg daarvan dat elke persoon sy individuele keuse mag maak oor sy toekoms nie – dit is per slot van rekening presies hoe ons voorsate in Afrika gevestig het. Die belangrike vir beide die wat van die VSA (of ander) geleentheid gebruik maak, sowel as die wat hier hakke inkap is om dit te doen in die gees van Russell Lamberti se “somtyds vlug, somtyds loopgrawe spit, maar altyd bou. Hoe dit ook al sy, en ongeag elkeen se keuse, moet ons in hierdie brose tyd die aanbod van hulp gebruik om so sterk as moontlike band te bou met weldoeners.

Vir die wat bly, is dit wel belangrik om staatsbestand te raak deur as huishoudings en gemeenskappe selfstandig te word, om nie ons hoop op slaafse voldoening en op die politieke spel te plaas nie, maar om aan vryheid te werk deur ons elke dag se leefstyl, sover as moontlik buite die stelsel.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui