
NGV gestuit!(?) – Maak ‘n gesonde keuse

Die staat is onlangs in die hof gedwing om die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op te skort. Hierdie ontwikkeling volg op Sakeliga se hofaansoek teen die regering se stoomroller benadering om die NGV te implementeer. Die bevel, waartoe die regering ingestem het , het egter slegs betrekking op die nakom van prosedurele vereistes en bied daarom moontlik slegs ‘n tydelike uitstel, hangende die nakoming van prosedures wat deur die wet vereis word en wat die hantering van openbare deelname besware insluit.
Sakeliga en ander partye se substantiewe konstitusionele sake bly wel ten volle staande en sal aangehoor word sodra die Konstitusionele Hof oor die prosedurele aangeleenthede uitspraak gelewer het.
Alhoewel die bevel nie ‘n finale verbod plaas op die staat se poging om die irrasionele, duur en skadelike NGV beleid te implementeer nie, is dit ‘n belangrike eerste stap en verdien Sakeliga dank en waardering vir die ruggraat wat hulle toon in hierdie aangeleentheid, soos ook met hulle bevegting van BEE, opponering van bek-en-klouseer vergrype deur die staat en hulle ywer met ander sake wat ongesiens die las en gevolge van die staat op gewone mense en die samelewing verlig.
‘n NGV bedeling word deur die regering gemotiveer met die drogredenasie dat dit veral vir die minder gegoedes gelykheid bring en dit teer op menslike vrees en die foefie dat dit gratis mediese versorging moontlik maak.
Die grootste beswaar teen sentraal georkestreerde gesondheidsorg en mediese versekering behoort nie te wees dat dit onbekostig duur is en die ekonomie verder gaan vernietig nie – alhoewel dit is en dit die gevolg sal wees, ook nie dat dit die belastinglas op reeds oorbelastes gaan verhoog en waardevolle mense die land uit gaan dryf nie – al is dit so, ook nie dat dit logisties onuitvoerbaar is nie – wat dit is, en ook nie dat dit ‘n paradys vir korrupsie skep nie – wat dit wel sal doen.
Die werklike beswaar teen die sentrale beheer is dat dit die psige van die mense wat dit beweer om te wil help, vernietig.
Meer as ‘n beswaar teen die werkbaarheid, behoort die beswaar eerstens oor die wenslikheid te wees. Net so onaanvaarbaar soos dit sou wees om ‘n saak uit te maak vir gedwonge slawerny gebaseer op ‘n gemotiveerde effektiwiteit daarvan, behoort praktiese uitvoerbaarheid van ‘n NGV bedeling nie die argument te wees nie. Die werklike verweer is dat dit immoreel en oneties is, ‘n oortreding van die tweede (en eerste) tafel van die Wet.
Met ‘n NGV bedeling reduseer die regering mense tot ‘n staatverafgodende uitgelewerde bedelaarmentaliteit, en vernietig onderlinge omgee en gemeenskapwees. Gedwonge barmhartigheid is geen barmhartigheid.
Die dieper skuif lê in sentrale beheer teenoor vrye keuse.
Al werk talle mediese regulasies reeds versmorend in op baie mense, kan individue en gesinne tans nog, gegewe hulle vermoë, besluit of hulle aan ’n mediese fonds behoort, watter vlak van dekking hulle kies en of hulle alternatiewe reëlings wil tref. Hierdie keuses vra verantwoordelikheid, maar dit laat ruimte vir selfstandigheid. Met die NGV word ons ook van hierdie vryheid beroof. Deelname word verpligtend, en bydraes word deur belasting afgedwing, ongeag of ’n persoon van die stelsel gebruik wil maak of nie. Die individu word nie meer ’n aktiewe besluitnemer oor sy eie gesondheidsorg nie, maar ’n deelnemer aan ’n stelsel waaroor hy min sê het.
Dit verhoed en verbied die spontane ontwikkeling van gesondheidsorg en hospitaliseringsopsies wat spesifieke behoeftes kan dien, en lei selfs tot die vernietiging van menselewens.

Teenoor hierdie benadering staan ’n ander moontlikheid wat reeds in verskillende vorme bestaan, naamlik dat gemeenskappe self strukture kan bou waarbinne hulle spaar, beplan en mekaar in tye van nood bystaan. Hierdie modelle plaas beheer nie in ’n veraf fonds nie, maar hou dit naby aan die gesin, terwyl dit terselfdertyd die voordele van samewerking ontsluit. Die kernbeginsel bly eenvoudig: mense moet self kan besluit hoe hulle hul middele bestuur en met wie hulle dit wil deel.
In so ’n benadering bly elke individu in beheer van sy eie fondse, maar staan hy nie alleen nie en word die gesondheid van sy hart boonop gemeet aan sy vrywillige bystand aan sy naaste. Die individu dra verantwoordelikheid vir sy eie voorsiening, terwyl hy deel vorm van ’n netwerk waar wedersydse bystand moontlik is. Dit is juis hierdie kombinasie van vryheid en verbondenheid wat volhoubare sorg moontlik maak. Anders as in ’n sentrale stelsel, waar bydraes anoniem en met dwang opgeneem en herverdeel word, bly die band tussen persoonlike verantwoordelikheid en gemeenskaplike ondersteuning hier behoue.
Op die koop toe kan dit dalk net ook gebeur dat ‘n substansiële gedeelte van die honderde duisende rande wat talle gesinne in die bodemlose put van tradisionele mediese versekeringpremies stort, beskikbaar kan word vir die welvaartontwikkeling van jou gesin en gemeenskap.
Hierdie verskil in uitgangspunt het direkte sosiale gevolge. Terwyl mense al hoe meer beweeg en minder diep in vaste gemeenskappe gewortel is, versnel verdere sentralisering hierdie vervreemding. Hoe meer sorg van buite af georganiseer word, hoe minder noodsaaklik raak dit om mekaar te ken en op mekaar staat te maak. Sorg word dan iets wat van ’n stelsel verwag word, eerder as iets wat tussen mense geleef word.
Die NGV is nie bloot ’n nuwe opsie binne die gesondheidsbestel nie, maar ’n gedwonge stelsel wat alternatiewe doelbewus verdring.
Die NGV-debat gaan uiteindelik oor die wyse waarop die samelewing gestruktureer word. Aan die een kant staan ’n model van staatsbeheer, verpligte deelname en gesentraliseerde besluitneming. Aan die ander kant staan ’n model van selfstandigheid, vryheid van keuse en gemeenskappe wat hul eie verantwoordelikheid dra.
Die vraag is nie bloot hoe gesondheidsorg bestuur moet word nie, maar of ons ’n samelewing wil bou wat al hoe meer afhanklik raak van sentrale strukture, of een wat weer begin bou aan vryheid, verantwoordelikheid en die dra van mekaar se laste.
