Wiskunde en wetenskap … visueel, prakties en konkreet

Gratis video’s oor wiskunde, wetenskap, ’n ekoswembad, narvisse en nog vele meer!

Voel wiskunde en wetenskap soms vir jou leweloos, té teoreties en selfs grootliks nutteloos?

Daar bestaan geskrifte van meer as ’n duisend jaar voor Pythagoras se geboorte, uit verskeie landstreke, wat aspekte van sy stelling illustreer, bewys en prakties toepas. Wanneer dié stellling prakties in terme van oppervlakte oorweeg word, in plaas van om slegs die formule te leer, raak die wiskunde sommer (en somme) maklik.

Op hierdie gratis YouTube kanaal word die idees agter die wiskunde en wetenskap prakties ondersoek en visueel voorgestel om dié begrippe konkreet te maak. Hoë-kwaliteit grafiese modelle word ontwikkel om die verstaan van die idees realisties, aangenaam en logies aan te help.

Voorbeelde van bestaande video’s sluit in:

  • Verstaan Pythagoras se stelling.
  • Leer deur middel van ’n wipplank hoe massamiddelpunte en balans werk.
  • Kyk hoe die aarde en maan van die son af sou lyk.
  • Verstaan hoekom daar seisoene op aarde is en hoekom die ewenaar twee somers per jaar ervaar.
  • Verduidelik aan ander waarom sonpanele in die winter minder elektrisiteit lewer.
  • Sien hoe die kanteling van die maan veroorsaak dat sonsverduisterings so skaars is en beskou verduisterings vanuit verskillende posisies.
  • Leer hoekom ons net een kant van die maan van die aarde af sien.
  • Verstaan integrasie sonder formules.

Hierdie kanaal gaan mettertyd ook ’n paar langtermynprojekte deur middel van gereelde video’s loods, byvoorbeeld:

  • Ons kyk oor ’n tydperk na die beplanning, bou, fauna en flora, en vordering van ’n gewone swembad wat in ’n ekologiese swembad omgeskakel word. In ’n ekoswembad word die filtrasie natuurlik hanteer en is daar geen toegevoegde chemikalië in die stelsel nie. Die swembad is natuurlik nie meer helderblou nie en ’n mens moet so nou en dan die alge- en plantegroei onder beheer bring, maar die voordele in terme van gesonde water, interessante lewensiklusse en die lushof wat dit vir voëls en insekte skep, maak dit ’n baie aantreklike opsie.
  • Ons volg ’n paartjie narvisse (Nemos) deur die proses van nesmaak, eiers lê en versorging van die eiers, en sien wat die larwes alles benodig om te ontwikkel van piepklein, deursigtige blertsies tot die kleurvolle, astrante klein vissies van die volgende geslag.
  • Die kanaal sluit ook tutoriale in met tegniese besprekings van die sagteware wat gebruik word om die video’s te vervaardig.

Ek het hierdie kanaal begin vanuit ’n liefde vir die verstaan van hoe dinge werk, en ’n natuurlike aanleg vir die oordra van idees. My wens is dat mense die praktiese, interessante, grasieuse, en indrukwekkende in hierdie idees sal kan raaksien en verstaan. Gaan loer gerus en deel dit met vrymoedigheid. Ek sal dit ook waardeer as julle sal inteken en die “hou van” knoppie sal gebruik indien julle waarde uit die video’s put.

Pythagoras se Stelling:

 

Verstaan Integrale sonder Formules:

 

Son, Aarde en Maan – Inleiding en Skaal:

 

Facebook Skakel

 

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

2 Comments

  • Ek sal baie graag betrokke wil raak by jou projek.
    Lemmie.
    lemmie.vanderlinde@gmail.com

    • Hallo Lemmie,

      Ek het vir jou ‘n e-pos gestuur.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui