‘n Nuwe datum en vooruitsig vir Sakeliga KragDag 2020

In die lig van die onsekerheid wat regeringsregulasies met betrekking tot Covid-19 in die land veroorsaak het, is die GROOTSTE Alternatiewe Energie en Selfstandigheid-ekspo in die land vanjaar uitgestel tot die eerste naweek in Desember en sal dus van Donderdag 3 Desember 2020 tot Saterdag 5 Desember plaasvind.

Die KragDag ekspo vind jaarliks plaas op die Diamantvallei Landgoed sowat 20 km oos van Pretoria. Klik HIER vir die Google kaart.

Sakeliga KragDag (waarby ingesluit ‘n Landbou sub-ekspo in samewerking met TLU SA) is díe ekspo wat mense toerus om immuun te raak teen ‘n grendelstaat en ander samelewingsvirusse … en hierdie leefstyl te geniet.

Die ekspo, waarvan Sakeliga weer vanjaar die hoofborg is, het verlede jaar met sy 450 uitstallers, wat ‘n wye spektrum van selfstandigheids- en doen-jou-eie-ding oplossings ten toon gestel het, reeds 21 400 ekspogangers getrek. Baie van die ondernemings wat hier uitstal bied oplossings wat vir gesinne, boere en ondernemings toerus om staats- en rampbestand te word. Die gevolge van die grendelstaat toepassing in antwoord op Covid-19 het dit duidelik gemaak hoe essensieel ‘n selfstandige lewenstyl is en is KragDag in vanjaar se omstandighede die een ekspo wat nie gemis behoort te word nie. Uitstallings sluit in sonkrag, eie voedselproduksie, tuisonderwys en vaardigheidsontwikkeling, veiligheid, entrepreneurskap, tegnologiese hulpmiddels en vele meer. Die positiewe ontvangs van die landbou sub-ekspo, wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is, het ook verwagtinge ver oortref.

Die KragDag organiseerders besef dat hierdie jaar ‘n beproewende jaar vir meeste mense is en daarom word gepoog om vir besoekers met ‘n verrykende ervaring te bederf op ‘n wyse wat gesinsvriendelik en -bekostigbaar is. Bykomend tot die uiteenlopende verskeidenheid van selfstandigheidsuitstallings vind hierdie poging praktiese beslag in dinge soos die volgende: 

  • Besoekers wat vooraf registreer sal hierdie jaar steeds al drie dae van die ekspo gratis kan bywoon.
  • Bywoning van die ekspo is gratis vir alle kinders tot op die ouderdom van 18 jaar.
  • In die besef dat mense uitgemergel gaan wees teen die einde van hierdie spanningsvolle jaar, sal baie van die vermaak vir jonk tot oud gratis wees. Dieselfde geld vir die bywoon van ‘n verskeidenheid sprekers en demonstrasies tydens die ekspo.
  • In die besef dat meeste mense vir ‘n verskeidenheid redes nie Desember op vakansie sal kan gaan nie, word voorsiening gemaak vir ‘n ontspannende wegbreek natuurkampervaring in die KragDag boskampterrein. Sodoende kan, sonder enige ekstra moeite, die gesellige atmosfeer van die drie-dae ekspo, wat in elk geval te omvangryk is om in een dag volledig te absorbeer, ingedrink word. Ook die Desember klimaat kan hierdie ‘n heerlike ervaring maak.

In die video hieronder kan jy ’n terugblik kry op Sakeliga KragDag 2019 en sommer weer lus raak vir hierdie jaar se ekspo.

3.00 avg. rating (69% score) - 2 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui