Ode aan die padda
Ek hoor toe mos (sowaar as padda manel dra) hoe iemand kla dat sy nie kan slaap nie omdat die paddas wat om haar swembad boer kwansuis te hard kwaak. Net daar kry ek skoon ’n padda in die keel, want vir my is die gekwaak van paddas musiek in my ore. Paddakore mag maar van heinde en verre optrek om in my tuin die nasionale paddakoorkompetisie te kom hou. Bronstige paddas is ook meer as welkom om so passievol met hulle nooiens te kom opsit dat die vleiwatertjies sommer sulke wilde kabbelings maak. En ja, elke oujongnooi in die land mag maar haar padda hier onder my palmboom op sy plat paddabek kom soen en hoop dat daar bloubloed in sy are is.
Ek probeer beslis nie vere van ’n padda pluk met hierdie skrywe nie. ’n Mens kyk eenvoudig nie ’n padda vlak nie. Sommige paddas het die mooiste beskrywende name in Afrikaans, soos bv. die trilsandpadda, kliklangtoonpadda, snorkmodderpadda, borrelvleipadda, marmergraafneuspadda, gewone blikslanertjie, blaasoppaddas, Kaapse spookpadda, en die sierlike graspadda. Daar is ook al vele odes aan die padda gerig. Dink maar aan al die paddarympies en –liedjies (bv. Ou juffrou Padda en Paddatjie, Paddatjie) wat jy as kind geleer het. Daar is ook talle boeke oor paddas geskryf en selfs flieks (bv. The Princess and the Frog) gemaak oor hulle. Wie ken nou ook nie vir Kermit die padda nie? Ons lees selfs in die Bybel van paddas (die tweede plaag van Egipte).
Sekere kulture sien paddas as die bringers van geluk en voorspoed. Baie hou dan ook geldpadda-standbeeldjies (die sg. money frogs wat ’n muntstuk in die bek vasbyt) in hulle huise aan in die hoop dat dit rykdom na hulle toe sal aantrek. Sommiges glo paddas is reënbringers. Ander dink paddas bring onheil. Party mense hou sekere paddaspesies as troeteldiere aan. Aan die ander kant is daar natuurlik diegene wat graag weglê aan brosgebraaide paddaboutjies.
Paddas in die natuur
Paddas is amfibieë en speel ’n belangrike rol in water-ekosisteme. Hulle help om insekbeheer toe te pas en vang saans groot getalle muggies, muskiete, motte en ander lastige insekte. As jy paddas in jou tuin het, is dit gewoonlik ’n teken dat die ekosisteem in jou tuin onbesoedeld is en dat jy nie enige skadelike gifstowwe gebruik nie.
Klop jouself dus op die skouer as jy saans ’n kakofonie van kwake uit jou tuin hoor. Dit is maar net die mannetjies wat beurtelings roep in die hoop om wyfies te lok. Paddas is vernuftige vryers en sal mekaar lelik die loef afsteek om die gewillige nooi eerste die hof te maak. Nie net sal hulle baklei om ’n wyfie nie, maar die een padda sal ook die ander padda se nooi slinks voorlê en onder sy neus wegsteel. In Jou natuurgids skryf die outeur, Megan Emmett, die volgende: “Die wyfies kies maats op grond van hulle roepplek en toonhoogte, maar party mannetjies trek voordeel uit ander se beter roepplekke en harder roepe deur stil te bly en wyfies wat gelok word te onderskep. Dit word satellietgedrag genoem.”
Die brulpadda is Suid-Afrika se grootste padda. Dié bonkige knewels lewe meestal ondergronds en kom graag ná ’n paar dae se goeie reëns na bo om te paar. Hulle is aggressief en sal jou byt dat die bloed loop indien jy hulle steur. Daar is gelukkig nie giftige paddas in Suid-Afrika nie.
Ontferm jou oor paddas
As gevolg van die verlies aan habitat weens ontbossing en verstedeliking en ook die besoedeling van die natuur, verskyn daar ’n hele paar van die paddas wat in Suid-Afrika voorkom wat ook op die IUBN-rooilys (volgens Wikipedia “die wêreld se mees omvattende inligtingsbron van die wêreldwye bewaringstatus van plant- en dierspesies”.) Hierdie lys dui onder meer aan watter paddaspesies reeds uitgesterf het, watter kritiek bedreig word of selfs volop is. Gaan lees gerus hier meer oor hoe daar ’n toekoms verseker word vir ons paddas.
Baie mense hou eenvoudig nie van paddas nie en sal die koudbloedige diere voor die voet doodmaak. Dit is natuurlik ’n groot jammerte. Haal die padda uit die pot. Ondersteun bewusmaking- en bewaringsprogramme en doen jou eie navorsing. Jy kan selfs padda-kyk as ’n nuwe stokperdjie aandurf. Kyk ook ’n kort video hier oor navorsers wat mikroskyfies in paddas ingeplant het.
As jy regtig niks van paddas hou nie en eerder van hulle ontslae wil raak, luister dan na hierdie baie interessante insetsel op RSG waar Jacqui January by prof. Louis du Preez van Noord-Wes Universiteit gaan uitvind het presies hóé om dit te doen. Prof. Du Preez gesels onderhoudend en boeiend oor sy groot passie.
Paddas fassineer oud en jonk. Paddas inspireer skrywers om boeke, rympies, gedigte en liedjies te skryf.
Boeke oor paddas in Afrikaans
Paddas en Paddajolyt (Prof. Louis du Preez)
Sasol Eerste Veldgids tot die Paddas van Suider-Afrika
Padda is padda (Max Velthuijs)
Padda en die voëlgesang (Max Velthuijs)
Slym se stories 4-in-1 (Fanie Viljoen)
Padda word kwaad (Wendy Maartens)
Zinzi en Saffraan: Paddas en plante (Asia Citro)
Daar is natuurlik ’n wye verskeidenheid gesaghebbende boeke oor paddas in Engels beskikbaar. Ook heelwat Engelse kinderboeke. Ek noem slegs ’n paar boeke wat in Afrikaans beskikbaar is.
Paddaliedjies en -rympies op YouTube
Meneer Padda skrik groot (Richelle Pretorius) – Kyk hier daarna.
Lollos Die Paddakonsert (met Bobby Van Jaarsveld) – Kyk hier daarna.
Die padda – Gert van Tonder en Snotkop.mp4 – Kyk hier daarna.
Tien Klein Paddatjies – Afrikaanse Rympies Vir Kleuters – Kyk hier daarna.
Paddatjie Paddatjie – Afrikaanse Rympies Vir Kleuters – Kyk hier daarna.
Addisionele lees-, kyk- en luisterstof oor paddas
Lees hier hoe ’n gulsige padda ’n fliekster geword het.
Kyk hier na The Princess and the Frog se lokprent.
Jy kan hier na paddageluide luister.
Paddas word selfs in preke gebruik! Lees hier.
Hierdie bloginskrywing vertel meer oor bedreigde paddaspesies.
Ellen ontmoet vir Kermit, die padda hier.
Afsluiting
Het jy paddas in jou tuin? Verlustig jou gerus in hulle sang, en weet dat hulle flink besig is om peste en plae in jou tuin onder bedwang te hou. Miskien kan jy selfs ’n paddasprong of twee saam met hulle waag.
Bronne
- Channing, A. and Rödel, M. (2019). Fuild Guide to the Frogs & Other Amphibians of Africa. 1st ed. Century City: Struik Nature, p.38.
- Bronnie die Bronberger (2019). Dit is brulpadda-seisoen. https://tinyurl.com/wknvy6t
- Emmett, M. (2018). Jou natuurgids: Die diere en plante van Suider-Afrika in ’n neutedop. Pretoria. Briza Punlikasies, ble. 187, 222-223
- https://www.son.co.za/Son-Op-Sondag/Blogs/Bruno-se-kristalbal/swart-padda-sal-good-luck-bring-20170610
Erkenning vir foto’s
- Afrikabrulpadda (Pyxicephalus adspersus); Foto: Steven G Johnson – https://commons.wikimedia.org/wiki/User:Stevenj
- Marmergraafneuspadda (Hemisus marmoratus);Ryanvanhuyssteen [CC BY-SA (https://creativecommons.org/licenses/by-sa/4.0)]
- Sierlike graspadda (Hildebrandtia ornata);BernardDUPONTfromFRANCE[CCBY-SA (https://creativecommons.org/licenses/by-sa/2.0)]
- Padda;Foto deur Gerhard Gellinger op Pixabay