Boekresensie: Die Bybel in Fokus
Titel: Die Bybel in Fokus
Outeurs: Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-79632-233-3 (sagteband)
ISBN: 978-0-79632-234-0 (epub)
ISBN: 978-0-79632-235-7 (mobi)
Die Bybel in Fokus
deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie
Die pas gepubliseerde en herverwerkte Die Bybel in Fokus geskryf deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie bied as leesgids die leser ’n nuttige hulpmiddel om die Bybel gelowig én denkend te lees. Dit is perfek vir dié leser wat nie sommer alles vir soetkoek opeet nie, maar wat vrae het en antwoorde soek. “Daar is iets van ’n teenstrydigheid in talle mense se ervarings met die Bybel. Dit is tegelyk baie maklik en baie moeilik om die Bybel te verstaan. Dit is soos liefhê: so eenvoudig dat enige kind weet wat dit beteken, maar terselfdertyd kan dit ongelooflik ingewikkeld wees om te weet wat liefde in spesifieke omstandighede van ’n mens vra. Liefde is ’n kuns wat net oor ’n hele leeftyd heen bemeester kan word, indien ooit. Iets van die teenstrydigheid is ook waar van die verstaan van die Bybel. Daarom is die lees van die Bybel so verrykend én so vermoeiend” (pp.11-12)
“Dié boek is bedoel as hulpmiddel vir mense met ’n behoefte om die Bybel beter te leer verstaan. Dit kan individueel of in groepe gebruik word, of selfs in die vorm van ’n kursus deurgewerk word. Dit bevat ook talle voorbeelde en oefeninge om ’n paar vaardighede aan te leer en in te oefen” (p.13). Daar word tereg in die Inleiding genoem dat die Bybel ’n merkwaardige boek is wat daagliks deur miljoene mense gelees word. “Dit het ’n onberekenbare groot invloed uitgeoefen op die Christelike kerk én die gang van die geskiedenis. Ná 20 eeue bly die Bybel steeds ’n blitsverkoper. Daar bestaan meer uitgawes en vertalings van die Bybel as van enige ander boek. Dit is inderdaad ’n klassieke “gunsteling”. Dit alles beteken egter nog nie dit is maklik om die Bybel te lees en te verstaan nie. (p. 9)
Die Bybel in Fokus beslaan vier baie interessante hoofstukke getiteld Stuikelblokke; Hulpmiddel 1: Die literatuursoort is belangrik; Hulpmiddel 2: Hoe die Bybel ontstaan het; en Vastrapplekke: Hoe kan ons weer God se stem in die Bybel hoor? Elke hoofstuk word voorafgegaan deur ’n inleiding wat die leser deeglik voorberei op die leersame teks wat volg.
Hoofstuk 1 Struikelblokke
Hierdie hoofstuk wys onder meer daarop dat die Bybel op verskillende maniere verstaan word. Dit kyk na die “drie belangrike stuikelblokke wat in die lees en verstaan van die Bybel voorkom. In die volgende twee hoofstukke val die klem op twee belangrike hulpmiddels wat ons kan help om die Bybel beter te verstaan.” (p. 50).
Hoofstuk 2 Hulpmiddel 1: Die literatuursoort is belangrik
As literatuursoorte word Bybelse verhale, gedigte en liedere bespreek sowel as antieke briewe en openbaringsliteratuur. Die Bybel is immers nie net één boek nie maar ’n hele biblioteek wat bestaan “uit literatuur wat oor ’n lang tyd versamel en saamgestel is” (p. 55). Elke literatuursoort wil natuurlik bepaalde vrae opklaar of sekere reaksies by lesers ontlok. “Die grootste probleem is egter dat ons eietydse mense nie meer die antieke literatuursoorte ken en herken nie. Daarom kom die “regte” reaksie ook nie sommer so instinktief soos met hedendaagse koerantberigte nie. Om die Bybel beter te verstaan, moet ’n mens dus moeite doen om dié antieke literatuursoorte ’n bietjie beter te leer ken” (p. 56). Dié hoofstuk staan dus stil by antieke literatuursoorte om sodoende die leser ’n beter begrip oor die inhoud en bedoelinge daaragter te gee.
Hoofstuk 3 Hulpmiddel 2: Hoe die Bybel ontstaan het
Hierdie hoofstuk gee meer inligting oor die oorsprong van die Ou en Nuwe Testamente. Dit vat ook ’n geloofsbelydenis saam oor die God van Israel en tref ’n vergelyking tussen Bybelse en buite-Bybelse evangelies. Historiese agtergrondkennis van die wêreld waarin die Bybel ontstaan het, is belangrik om die konteks waarbinne die teks geskryf is, te bepaal. “Die geskiedenis van die totstandkoming van die tekste moet juis teen die agtergrond van die geskiedenis van die gebeurtenisse verstaan word” (p. 104).
Hoofstuk 4 Vastrapplekke: Hoe kan ons weer God se stem in die Bybel hoor?
Hierdie hoofstuk handel oor wat Christene nog alles oor die Bybel kan glo sowel as hoe ons dit kan lees en in ons lewe gebruik. “Die Bybel is die norm of maatstaf (kanon) waarmee alle nuwe getuienisse oor God beoordeel kan word. Die deurslaggewende vraag is telkens of dié God van wie ons getuig nog dieselfde is as die Een van wie die Bybel getuig. Om dié vraag te beantwoord, is egter nie altyd so maklik nie” (p. 148). Die hoofstuk bekyk dié probleem van naderby. “Die Bybel bevat die getuienisse van konkrete mense in spesifieke omstandighede. Dit kan daarom nie in elke denkbare opsig foutloos wees nie. Dit deel in al die beperkings en tekortkomings wat tipies is van enige menslike situasie. Dié menslikheid van die Bybelse materiaal is juis die wonder van die evangelie: dat God nie net in die algemeen nie, maar met konkrete mense in konkrete omstandighede besig was en is (pp. 160-161). Verskillende standpunte, teenargumente en perspektiewe word uitgelig betreffende die “foutloosheid” van die Bybel.
Op bladsy 193 lees ek: “Die Bybel is nie so eenvoudig nie, juis omdat daar so ’n groot afstand tussen ons wêreld en die wêreld van die Bybel is. Daarom word ons aangespoor om moeite te doen om die Bybel te bestudeer, om te ontdek watter hulpmiddels daar is om al die struikelblokke te oorkom.
Ek het Die Bybel in Fokus baie interessant, leersaam en toepaslik gevind. Dit gaan definitief een van die boeke op my boekrak wees waarna ek gereeld sal verwys. Ek het antwoorde op verskeie vrae gekry waaroor ek gewonder het. Die slotgedeelte op bladsy 194 onderstreep my gewaarwording dan ook só: “Jy moet beweeg van ’n hermeneutiek wat berus op ’n kinderlike vertroue in die teks na ’n hermeneutiek wat toelaat vir agterdog – dat die teks en die verstaan daarvan deur ideologie verdraai kan word – om uiteindelik terug te keer na ’n meer volwasse vertroue in die teks.”