
Boekoorsig: Maak entrepreneuriese kinders groot
Yavor Rusinov se boek getiteld Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak het pas by Lig in Duisternis uitgewers verskyn. Dit is keurig in Afrikaans vertaal deur Schalk Strauss. Die boek handel oor hoe om verantwoordelike en entrepreneuriese kinders groot te maak en beslaan 242 bladsye.
Daar staan in die inleiding: “In jou hand het jy ‘n boek wat handel oor die denkpatroon wat te doen het met die ewige beginsels waarvolgens kinders vir die realiteite van volwassenheid gevorm en gebrei word. Hierdie denkpatroon is geskoei op die Christelike wêreldbeskouing oor die beskawing. Meer spesifiek is dit geskoei op die Christelike denke wat vanuit een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom ontspring het, die Reformasie van die sestiende eeu …”
Rusinov skryf aan ouers: “Die primêre doel van hierdie boek is … om julle aan te moedig om jul eie denkpatrone, oorheersende denkwyses met betrekking tot die opvoeding en dissiplinering van jul kinders, uit te daag. Hierdie boek gaan nie vir julle die nuutste stukkies goedkoop raad gee wat in die heersende popkultuur gewild is nie. Dit gaan eerder poog om die tydlose en ewige beginsels wat die gedagtes en optredes van die groot manne en vroue, die grondleggers van die Westerse samelewing, gevorm het, aan julle bekend te stel.”
Willem Smit, senior finansiële adviseur by Dinamika Finansiële Dienste, skryf in die Suid-Afrikaanse voorwoord: “Die gesin is die bastion van ‘n beskawing, maar helaas het verskillende faktore … tot die verbrokkeling daarvan bygedra. Een van die faktore is byvoorbeeld die vinnige voortuigang in die tegnologiese omgewing wat daartoe lei dat gesinslede meer individualisties word. Daar word erg gespook deur ouers om kinders byvoorbeeld te beskerm teen allerlei gevare wat voortvloei uit die media se aanslag op hulle. Dit is nie meer maklik om die ou, gevestigde waardestelsels oor te dra nie en die oordraers daarvan is nie kundig genoeg om dit te doen nie. … U het nou ‘n “handleiding” vir jongmense, voornemende ouers, ouer mense en bestuurders van mense. … Hierdie boek is ‘n welkome stap in die rigting van die herstel van ons gesinne se borswering en kan lei tot die heling van die Afrikaanse gemeenskap én van die algemene samelewing in die land. … Dit is ‘n werksboek wat jaarliks gelees en toegepas moet word!”
Stoyan Panchev, stigter en voorsitter van die Bulgaarse Libertynse Gemeenskap, skryf op die agterblad: “Dit is ‘n lokval vir ouers wat dink hierdie boek is ‘n handige, maar oor die algemeen eenvoudige en oppervlakkige so-maak-jy-handleiding om kinders groot te maak. … Hierdie boek … [is] ‘n verhaal oor die fundamentele Bybelse beginsels vir die lewe. … Dit bied ‘n holisties sosio-politieke wêreldbeskouing gewortel in die voortreflikste tradisies van die klassieke liberalisme en Amerikaanse konserwatisme, kunstig verweef met verhale uit die regte lewe, akademiese navorsing en opmerkings oor dit wat in die kulturele werklikheid waargeneem word. … Hierdie publikasie deurklief selfs die intellektuele seepborrels van burokratiese sosialisme, moderne femisnisme, verbruikersmentaliteit en die mite van ‘n gratis middagete.”
Panchef waarsku dan ook: “Wees dus versigtig, liewe leser, want ek weet nie hoe jy dit gaan regkry om dit met ‘n geruste hart te verduur dat jou kinders selfs net vir ‘n enkele dag aan die opvoedingstelsel van die staat blootgestel word nadat jy hierdie boek gelees het nie. Daar is sekere kennis wat, as jy dit eers het, nie deur dié met ‘n gesonde verstand en ‘n sterk gees geïgnoreer kan word nie. Dit is hierdie soort kennis wat tussen die bladsye van hierdie boek vir jou wag.”
Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak beslaan lig vyf hoofbeginsels uit, naamlik vryheid, rentmeesterskap, ‘n wêreld onderworpe aan wetmatigheid, oorsaak-gevolg-verhoudings en tyd. Vryheid word teenoor slawerny gestel, rentmeesterskap teenoor onverantwoordelikheid, ‘n wetgedrewe wêreld teenoor ‘n wêreld van fntasie, oorsaak en gevolg teenoor kans, en ewigheid teenoor ‘n oomblik. Daar is altesaam agtien hoofstukke. Hier is slegs ‘n paar van die hoofstuktitels: Sefbeheersing, Argumente en teenkanting, ‘n Doelgerigte en betekenisvolle lewe, Finansiële bestuur, Onderhandeling en verkope, Die vrye mark, Reg en geregtigheid, Veerkragtigheid, Troef jou mislukkings, en Faktore wat jou kind se toekomsgeoriënteerde tydsperspektief rig.
Die skrywer bied aan die leser ‘n wye verskeidenheid interessante gevalle en stories as voorbeelde om die beginsels wat hy uitlig, te onderstreep. Hy haal Bybelverse en -gedeeltes aan asook bekende en wyse persone. Ook moedig hy ouers aan om beskaafde, nugter, doelgerigte kinders groot te maak wat vir hulleself kan dink, redeneer en doen in lyn met die tien gebooie.
Ek het die lewenslesse in hierdie boek van waarde gevind en reken dat KragDag-lesers dit ook insiggewend sal vind. Watter ouer wil nie sy kind so weerbaar moontlik grootmaak nie?!
Skaf gerus jou kopie van Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak hier aan. Gebruik hierdie kode om tien persent afslag te kry indien jy die boek op die uitgewer se webblad aanskaf: EWIG10
Jy kan gerus hieronder loer na ‘n gesprek met ds. Schalk Strauss oor die boek:
Kompetisie:
Een gelukkige persoon kan ‘n kopie van Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak wen. Die boekprys kan slegs na ‘n Suid-Afrikaanse adres versend word. Om vir die trekking in aanmerking te kom, moet jy in die kommentaarveld vertel waarom jy graag hierdie boek wil wen. Sluitingsdatum 30 April 2025.
Ek’t ‘n dogter in Gr. 4 en ‘n seun in Gr. 2. Hulle is in ‘n CVO-Skool. Ek self is ‘n onderwyser (onder andere) en sal die inligting vervat in die boek beide tuis en in die klaskamer kan benut.
My hart sink behoorlik as ek na die skole-curriculum kyk en hoeveel kinders nooit hulle volle potensiaal sal bereik nie aangesien hulle ouers nie noodwendig oor die nodige vaardighede beskik om entrepeneurs groot te maak nie. Bo en behalwe hierdie feit, is daar heelwat kinders wat as gevolg van ekonomiese redes uitgesluit word by dae soos entrepeneursdae by die skool aangesien die ouers dit doodeenvoudig nie kan bekostig om by te dra tot hierdie dae nie. Ek self het nie ‘n entrepeneuriese gees nie en is bloot te bang om nuwe dinge aan te pak. Gevolglik dink ek dat ek baie waarde uit hierdie boek sal kry, nie net vir my kleinkind nie, maar ook vir haar hele klas aangesien ek die boek vir die skool sal skenk sodra ek dit klaar deurgewerk het.
Ek glo dat die huidige skoolstelsel onvoldoende is ( net soos party ouer-raad) om ‘n suksesvolle entrepeneurs atmosfeer vir ‘n suksesvolle ekonomie-on byna ENIGE situasie te skep.Christie
Duidelik kan gesien word dat die boek op die regte beginsel gebaseer is. Die boek sal n aanwins in enige christelike huishouding wees. Sal die boek graag met my kleinseun wil deel.
Ek sou dolgraag die boek:”Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak”, wil wen, aangesien ek die jongste 2 van ons 4 kinders tuisonderrig. Ons kry baie teenkanting van hoe nadelig dit vir kinders kan wees, veral sosiaal. Sodra hulle met skoolkinders van hul eie ouderdom meng, byvoorbeeld by die Voortrekkers, kan ek sien dat hulle baie meer volwasse is en optree. Ons voel baie sterk daaroor dat kinders van kleins af moet werk vir hule sakgeld en leer om met hulle geld te werk.