Innovasiebestuur – hoe om kreatiewe werknemers te bestuur

‘n Gemeenskaplike faktor wat alle suksesvolle ekonomieë deel, is die vermoë om kreatief en innoverend te wees. Verandering is ‘n basiese beginsel wat in die ganse natuur geld. Niks staan stil nie en alles is onderhewig aan verandering. In die besigheidswêreld is verandering ‘n gegewe wat wesenlike uitdagings, nie net  aan besighede nie, maar aan die hele ekonomie stel. Onafhanklik van watter besigheidsfaset ter sprake is – of dit produknavorsing en -ontwikkeling, produksie, bemarking, verkope, aankope, finansies of personeel is – kreatiewe insigte ís nodig om gepaste oplossings vir die uitdagings rondom verandering te vind. Só word die onderneming mededingend gemaak en ook gehou. Sulke oplossings hou verband met nuwe produkte, nuwe metodes en nuwe idees.

Afgesien daarvan dat innovasie noodsaaklik is om ondernemings relevant en mededingend in die mark te hou, speel dit ook ‘n belangrike rol in ekonomiese groei. Die vermoë om probleme te kan oplos word deur kreatiwiteit en innovasie bepaal en speel ‘n baie belangrike rol in ekonomiese groei. Vir ontwikkelde lande is dit belangrik, maar meer so vir ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika.

Wat is die verskil tussen kreatiwiteit en innovasie?

Ons het verwys na kreatiwiteit en innovasie. Dikwels word hierdie terme uitruilbaar gebruik. Dit is egter twee terme waarvan die betekenis verskil.

Kreatiwiteit vind plaas in die kop van ‘n persoon. Dit is gedagteprosesse wat gevolg word ten einde nuwe en unieke idees te genereer. Die prosesse wat gevolg word lê op die vlak van die brein se fisiologie asook op die terrein van die sielkunde en is in ‘n misterie gehul met vele onverklaarbaarhede. Hoeveel keer hoor ‘n mens nie die woord “inspirasie” om so ‘n proses te verklaar nie? Kreatiwiteit is iets onvoorspelbaar wat spontaan gebeur. Dit kan aangemoedig word, maar kan nie geforseer, afgedwing of gemeet word nie.

Innovasie daarenteen het te doen met tasbaarmaking, toepassing en/of implementering van mense in die onderneming se kreatiewe idees.  Innovasie is ‘n meetbare en produktiewe proses wat plaasvind deur sinvolle bestuursprosesse op kreatiewe persone asook die resultaat van hulle denke toe te pas.  Innovasie kan baie duur en riskant wees, terwyl daar by kreatiwiteit normaalweg nie geld of risiko ter sprake is.

Bestuur van Kreatiewe Werknemers

Vir enige land is sy kreatiewe mense ‘n reuse bate. Net so is ‘n onderneming se kreatiewe werknemers kardinaal belangrik. Om hierdie rede vorm die bestuur van kreatiewe personeel ‘n baie belangrike onderdeel van innovasie. Dikwels maak bestuurders twee onderskeibare, maar teenoorgestelde foute wanneer hulle gemoeid is met die bestuur van baie kreatiewe werknemers. Beide foute het die gevolg dat skeppingsvaardigheid en innovasie in die werkplek geïnhibeer word. Aan die een kant erken en herken bestuurders nie die merkwaardige en unieke eienskappe van hulle kreatiewe werknemers nie. Andersyds word die erkenning te ver gevoer en veroorsaak ontoepaslike verwagtinge met gevolglike konflik, wat ‘n verdelende effek in die werkplek het.

Soos wat dit maar dikwels in die werklike lewe gaan, is die oplossing daarin geleë dat ‘n gebalanseerde benadering gevolg word. Die bestuur van ‘n onderneming moet nie daarop ingestel wees om ‘n geykte bestuursbenadering vir alle werknemers te volg nie.

Bestuursfoute kan voorkóm en vermy word deur die volgende perspektiewe in die oog te hou:

Erken Kreatiewe Werknemers as Indiwidue

Kreatiewe en skeppingsvaardige werknemers is waardevol vir die onderneming vanweë hulle vermoë om by te dra by wyse van idees en perspektiewe wat nuut en innoverend is. Hierdie eienskappe dra daartoe by dat ondernemings leiers in hulle industrie is en word.  Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat die onderneming sulke werknemers sal herken en ook erken dat hulle indiwidue is wat verantwoordelik is vir die unieke kwaliteite wat hulle na die onderneming bring.

Die leierskap van die onderneming sal uitsonderlike sterkpunte, maar ook die swakpunte van die werknemer identifiseer, erken en dienooreenkomstig daarmee handel. In die praktyk sal dit beteken dat bestuur sal bepaal watter werknemers die beste toegerus is om die uitdagings van ‘n spesifieke taak te aanvaar. Dit is gewis nie goeie praktyk om werknemers blindweg aan ‘n spesifieke taak toe te wys sonder om hulle sterkpunte, swakpunte en voorkeure in berekening te bring nie. Dit is ook die wese van goeie werkdelegering om take aan ‘n werknemer toe te wys wat by sy of haar vermoë pas. Op díe wyse kan in die onderneming sterkpunte ge-optimeer en swakpunte geminimeer word.

Handhaaf Hoë Verwagtinge

Skeppende mense is berug daarvoor dat hulle gou verveeld word. Soms word dit bloot luiheid genoem. Om hierdie “nadelige” eienskap teen te werk moet aan sulke werknemers take en opdragte gegee word wat hulle aangryp en betrokke laat voel. Dit is ook nodig dat hulle verantwoordelik is vir ‘n duidelike en ‘n sinvolle uitset. Of so ‘n werknemer betrokke is by ‘n komplekse projek of veelvuldige kleiner projekte, maak seker dat werknemers in ‘n werksomgewing funksioneer waar daar uitdagings is en waar hulle nuttig voel. Vestig ook ‘n kultuur waar werknemers aangemoedig word om aanvaarde aannames en metodes in die onderneming kan ondersoek en bevraagteken.

Vestig ‘n omgewing waar werknemers aangemoedig word om te groei.  In baie gevalle hang ‘n onderneming se vermoë om te oorleef en suksesvol te wees daarvan af in hoe ‘n mate hulle werknemers het wat in staat is, gereed is en gewillig is om te ontwikkel en te groei. Skeppende en innoverende werknemers is daardie werknemers wat die besigheid help om by veranderinge aan te pas en om die onderneming relevant te hou.

Voorkom  Kreatiewe Uitbranding

Uitbranding van werknemers, veral die wat teen ‘n hoë uitset werk, is ‘n realiteit. Dit is noodsaaklik dat bestuur hoë verwagtinge wat aan die werknemer gestel word, sal balanseer deur besorg te wees oor die werknemer se welstand. Terwyl die onderneming se bestuur werknemers in besige tye ondersteun, moet daar ook reg deur die jaar aandag aan die geestesgesteldheid en gesondheid van die werknemer gegee word.

Dit kan bewerkstellig word deur:

  • Persoonlike terugvoer en erkenning van werknemers se unieke sterkpunte. Pas terugvoering en erkenning aan in ooreenstemming met die werknemer se behoefte.
  • Geleentheid te skep dat die werknemer uit die kantooropset kan kom. Skep geleentheid om in ‘n ander opset te werk. Hou in gedagte dat aftye baie bevorderlik is vir kreatiwiteit.
  • ‘n Kultuur te skep wat geesteswelsyn na waarde skat. Heg waarde aan die persoon as ‘n volledige geheel.

Vertrou Werknemers se Vermoëens

Dit is geen geheim dat mikrobestuur (micromanagement) produktiwiteit en kreatiwiteit ondermyn en dat dit uiteindelik goeie en talentvolle werknemers verdryf. Die moreel van die werkerskorps verswak omdat bestuur geen vertroue in hulle werknemers toon nie. Gevolglik ly motivering om sukses te behaal, ondernemings-innovasie en groeipotensiaal daaronder.

Wanneer bestuur hulle werknemers vertrou, selfs wanneer hulle afwyk van tradisionele en ook algemene praktyke en prosedures, hou dit inderdaad risiko’s in. Hierdie risiko’s gaan egter dikwels gepaard met hoër opbrengste en uitsette, mits dit vernuftig bestuur word.

Nagedagte:

Die leser sou dalk uit hierdie artikel kon aflei dat besigheidsleiding in hulle bestuursbenadering ‘n keuse moet maak tussen kreatiewe werknemers, wat moeilik en duur is om te bestuur, en middelmatige werknemers wat maklik is om te bestuur. Die gevolg van hierdie benadering is ‘n onbetrokkenheid van bestuur by al hulle werknemers en dit lei tot besigheidsoneffektiwiteit en sekerlik ook die ondermyning van innovasie.

Eerder moet bestuur die werksomgewing aanpas sodat alle werknemers se sterkpunte gekoester word en dat hulle vermoeëns omarm word. Die fokus behoort eerder te verskuif weg van die vraag: Wie is kreatiewe werknemers? … na die vraag: Hoe kan aan alle werknemers ruimte gegee word om hulle sterkpunt en voorkeure na die beste van hulle vermoë uit te leef?

Erkennings:

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui