Neem Verantwoordelikheid vir jou Eie Lewe – Byna tyd vir Sakeliga Kragdag Sentraal Ekspo

Die jaarlikse Sakeliga KragDag Sentraal Ekspo vind vanjaar vanaf 9 tot 12 Augustus 2023 plaas. Gaan loer hier hoe om by die Diamantvallei Landgoed, sowat 20 km oos van Pretoria, te kom indien jy graag die ekspo wil bywoon. Jy kan natuurlik ook jou eie produkte of diens kom bekendstel, uitstal, bemark en verkoop. Jy kan by dieselfde skakel die KragDag 2023-prospektus in Afrikaans of Engels aflaai en jou vergewis van die wonderlike program wat beplan word.

Kom ondersteun en vier KragDag se inisiatief om volhoubaarheid, selfstandigheid en doen-dit-self-praktyke aan die groot klok te hang. KragDag se leuse is nie verniet “Doen dit self!” nie.

Du Preez de Villiers skryf in sy artikel aan Maroela Media só oor die 2022 ekspo: “Staatsbestandheid was ’n woord wat sonder aarseling en deurlopend tydens [die] Sakeliga KragDag besprekings gebruik is. ’n Rekordgetal besoekers was ook ’n aanduiding dat Suid-Afrikaners ywerig besig is om vir hulself skanse teen staatsverval op te rig.” Vanjaar se ekspo beloof om selfs beter en groter te wees. Mense is toenemend daarvan oortuig dat moue oprol en self doen al manier is om die toekoms met hoop tegemoet te gaan.

Jy kan by vanjaar se ekspo weer baanbreker rolspelers ontmoet wat die voortou neem wanneer dit by innoverende idees, nuutskeppinge, praktiese en geldbesparende oplossings en werklik doenbare planne kom. Hier kom Jan Alleman en sakereuse bymekaar met een doel voor oë – om ’n beter toekoms vir ons en ons kinders te verseker.
Kom kyk hoe word daar sélf skouer aan die wiel gesit en dinge gemáák dat dit gebeur. Dis nou op byna elke gebied waaraan jy kan dink – van energie, water, konstruksie, veiligheid, voedsel, tegnologie, gesondheid, ekonomie tot boerdery, opvoedkunde, kuns, media, ensovoorts. Entrepreneurskap is maar een van die gonswoorde.

Kom verkyk jou aan van unieke selfvervaardigde items tot tegnologies gevorderde toestelle. Daar is iets vir almal.
Dis altyd lekker om te sien hoe mense hulle kennis, vaardighede, kreatiwiteit en talente inspan om produkte en dienste aan te bied – nie net om ’n inkomste daaruit te verdien nie, maar ook om ’n wesenlike verskil te maak in die uitdagende omstandighede wat almal in die gesig staar. Sodoende neem hulle verantwoordelikheid vir hul eie lewens en weier om magtelose slagoffers van korrupsie en verval te wees.

Die ekspo beloof om weer eens ’n baie leersame en opbouende uitstappie vir die hele gesin te wees. Daar gaan selfs ’n pretpark en vermaak wees om te sorg dat almal in ’n karnaval atmosfeer ontspan. Moet ook nie van die heerlike verversings wat te koop sal wees, vergeet nie. Die ekspo bied vir groot en klein, plaasjapies én stadsmuise, mentors, skeppers, planmakers, regmakers, smouse, uitstallers, tentoonstellers en so meer baie om na uit te sien en doen. En al is jy dalk hierdie jaar net ’n vermaaklikheidstoeskouer, sal jy dalk so geïnspireer voel ná afloop van die ekspo dat jy dalk volgende jaar ’n interaktiewe deelnemer en uitstaller wil wees. Dis immers wanneer mense bymekaar kom, idees uitruil, saam planne maak en hande vat dat dinge gebeur.

Sien jou by die jaarlikse Sakeliga Kragdag Sentraal Ekspo vanaf 9 tot 12 Augustus.  En kry jou kaartjies hier.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui