Boekresensie:- Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe
Titel: Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe
Outeur: Johannes Bertus de Villiers
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
ISBN: 978-0-7981-7977-5
Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe
deur Johannes Bertus de Villiers
Die volgende aanhaling deur Erns Grundling, ’n bekroonde joernalis en TV-aanbieder, verskyn op hierdie splinternuwe boek van 240 bladsye se voorblad: “’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.”
Of jy nou ’n boer of die hoof van ’n maatskappy is, die lewe druk. Ons rande is min werd, ons is nie aldag ons lewens en eiendom seker nie, ons kinders woon en werk noodgedwonge ver van ons af in ander lande, die ekonomiese en politieke situasie in ons land is in ’n warboel, armoede en werkloosheid vererger, misdaad gedy, die natuur trek ons strepe, daar is gerugte van oorloë, pes en siektes, daar is ook die voortdurende druk om mooi en maer en ryk te wees … die lys gaan aan en aan.
Maak ’n koerant oop of skakel die radio of TV aan en dit is net moord en doodslag. ’n Mens voel magteloos vasgevang soos ’n springhaas in kopligte of soos die ou wat op die treinspoor vasgebind lê en sien hoe die brullende monster al nader aan hom stu. Dit is asof die hele wêreld besig is om mal te word, en niemand kan niks daaromtrent doen om dit te verhoed nie. Ons word van oraloor deur negatiewe sentiment gebombardeer. Dit is bitter moeilik om nie moedeloos in die omstandighede te raak nie en om positief te bly.
Waar pas lewensvreugde in die prentjie? Is dit hoegenaamd iets wat ons vandag nog kan of durf ervaar? Johannes de Villiers, “’n kenner van meditasie en mindfulness” reken dat lewensvreugde inderdaad moontlik is vir elkeen. “Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is.”
In Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe, wys kenners deur middel van praktiese wenke en raad aan die leser “hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed.” Die doel van die boek is om die leser bewus te maak daarvan dat dit wel moontlik is om ’n blyer blik op die lewe aan te leer.
Die boek is opgedeel in Deel 1 – Wat is dit om bly te wees?, Deel 2 – ’n Blye hart, Deel 3 – ’n Blye maag, en Deel 4 – Anderkant blydskap. Deel 2 is verder ingedeel in vier hoofstukke getiteld Luister, Dankbaarheid, Eenvoud en Omgee.
Die outeur skryf op bladsy 20: “Daar is hope antwoorde in die ou wysheidstradisies van die wêreld en daar is byna net soveel wenke in die moderne sielkunde. Ek het besluit om by albei kers op te steek. Ek het die wêreld vol gereis – van Skandinawië tot Suidoos-Asië – om raad te vra by die gelukkigste mense wat ek kon opspoor. Bosko in Serwië, Katolieke nonne in Italië, sangers in Estland, Boeddhistiese monnike, NG dominees, branderplankryers, motiveringsprekers, akademiese navorsers en ’n dierefluisteraar-medium in die Vaaldriehoek. Die hele spektrum.”
Hy skryf verder: “Dié mense het uiteenlopende definisies van blydskap, hul stories wissel van die geestelike tot die wetenskaplike tot die alledaagse, maar verstommend baie van hulle, wanneer hulle met my gepraat het oor die dag dat hulle blydskap ontdek het, het één opvallende frase gebruik: ‘Dit voel asof ek werklik tuisgekom het.’” De Villiers beklemtoon voorts: “Met tegnieke soos meditasie, dankbaarheid, eenvoud en omgee, kan ook jy in jou lewe tuiskom.”
Ek het Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe met ’n oop gemoed gelees. Ek hou nou maar eenmaal van stories, en baie van die begrippe in die boek word onderstreep deur ware en wyd uiteenlopende lewensverhale. Dit het die leeservaring vir my genotvol gemaak. Ek het nie ervaar dat die boek pseudosielkunde aan my probeer afsmeer nie; inteendeel, ek het die inhoud interessant en van pas gevind.
Die outeur skryf op bladsy 25: “Mindfulness is om met ’n oop gemoed jou volle aandag na die oomblik te bring en niks te begeer óf weg te wens nie.” Hy volg dit op met die volgende stukkie wysheid op bladsy 35: “Om blydskap van die hart te leer ken, moet jy leer om die pyn van die wêreld in jou hart toe te laat.” Dit is alles dinge waarmee ek kan saamstem. Ek hou veral daarvan dat die leser daaraan herinner word om in dankbaarheid te leef, georden te wees, sy aanlynlewe te sny, sy tyd beter te bestuur, en om meer aktiwiteite te doen wat hom gelukkig stem.
Ek het heelwat geleer deur hierdie boek te lees en beveel dit heelhartig aan. Dit het my beslis laat nadink en my lewe in heroënskou neem. Ons durf nie toelaat dat ons van ons vreugde gestroop word nie, want daarmee saam blus ons lewenslus. Vreugde plant die saad van hoop. En wanneer daar hoop in jou hart brand, rol jy met nuwe ywer jou moue op en begin jy daadwerklik jóú deel doen om van ons land ’n beter plek te maak. Dan weier jy om slagoffer te wees. Jy neem jou juk op en jy doen wat gedoen moet word – met ’n lied in jou hart.
Meer oor die outeur:
Johannes Bertus de Villiers, ’n outeur en joernalis, is die mede-eienaar van The Hot Yoga Studio op Stellenbosch. Hy was voorheen verbonde aan Huisgenoot en Rapport en lewer ook artikels vir Die Burger, BY en Rooi Rose.
Lees gerus Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe indien jy die vermoë wil aankweek om vreugdevol te wees. Skaf die boek gerus HIER aan.