Boekresensie: Armand kook kaal – die maer uitgawe

Titel: Armand kook kaal – die maer uitgawe

Outeur: Armand Aucamp

Uitgewer: LAPA Uitgewers

ISBN: 978-0-7993-9607-2

Armand kook kaal – die maer uitgawe

deur Armand Aucamp

Die welbekende professor Tim Noakes het net lofgesange vir Armand Aucamp se nr. 1-topverkoper kookboek, Armand kook kaal – die maer uitgawe. “Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat-kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!” Hy reken ook: “Die resepte is pragtig saamgestel en maklik om te maak. Alles in hierdie boek lyk watertandlekker!” Sarie se kosredakteur, Herman Lensing, stem saam. “Om gesonde kos te kook kan soms vaal en vervelig wees, maar Armand maak dit heerlik en opwindend!”

Die gewilde banting-en keto-kookboek van 128 bladsye bevat 50 van Aucamp se gunstelingresepte. “Hy eet heel, gestroopte kos as deel van die sogenaamde “banting”- of “keto” leefstyl. Met ’n hoëvet-laekoolhidraat-dieet hou hy daardie Adonis-lyf in stand en maak sy bewonderaars mal.” Hy dra die kookboek op aan sy ouers, Chris en Petra Aucamp.

Armand kook kaal – die maer uitgawe is tjokkenblok vol heerlike en gesonde resepte. Aucamp verduidelik in die Inleiding: “Die sogenaamde ketogeniese dieet (of keto) is in ’n neutedop presies soos banting, behalwe dat dit sterk daarop fokus om jou liggaam in ’n staat van ketose te kry. Ketose gebeur wanneer jou selle nie meer op glukose staatmaak vir energie nie, maar eerder op ketone. Ketone is byprodukte wat afgeskei word wanneer jou liggaam vet vir energie afbreek. En hoe kry jy jou lyf sover om dit te doen? Jy eet min koolhidrate en baie (goeie) vet.” Hy vervolg. “Ek het … begin bant. Ek het avo’s begin eet, heel eiers, spekvleis, skaaptjops, dubbeldik-volroomjogurt, gesmelte kaas oor groente. En hoe heerlik was dit nie! Dit het my verstom hoe baie ek vet geniet het! My lewe lank het ek my daarvan weerhou: margarien pleks van botter, hoenderborsies sonder vel, tjoppies sonder vetjies, gestoomde brokkoli sonder kaas. Nou kon ek aan alles smul wat nog altyd verbode was. En die beste van alles was: Ek het gewig afgeskud pleks van aangesit!” Hy sê prontuit: “Om te bant is ’n ontploffing van kleur, geur en smaak!” Hy was ook aangenaam verras dat “dit glad nie duur is nie. Mense dink dit kos baie om te bant, maar omdat ek nie meer kort-kort honger word en peusel nie, spaar ek geld!”

Die kookboek beslaan 10 hoofstukke. Ek noem hier onder die titels van die onderskeie hoofstukke en gee ’n paar geregte as voorbeeld.

Slaaie

Vars somerpastaslaai, Oosterse beesvleisslaai, Faux-aartappelslaai

Vinnige happies

Roomkaas-en-biltongballetjies, Kaas-en-kruie-bekerbaksel, Geurige hoenderstrokies

Eiergeregte

Spekvleis-en-eierkoppies, Frittata, Spieël-eiers

Sop

Zucchini-en-spekvleissop, Geroosterde pampoen-en-kaneelsop, Chorizo-en-koolsop

Pasta

Aucamp-bolognaise, Lasagne, Garnaalpasta met tamatie en basiliekruid

Eenbakgeregte

Avobakkies met spekvleis en haloumi, Chilli con carne-bakkies, Groente hoenderbakkies

Proteïnkrag

Varktjops en kapokblomkool, Hoenderrollade, Salie-frikkadelle

Onthaalgeregte

Varklies met appelkose, Moussaka, Lamsblad

Lekkernye

Lemoensjokolademousse, Sjokoladebruintjies, Keto-klapperstafies

Drankies

Bottie-koffie, Bessie-smoothie, Chai-amandelmelk met vanielje en kaneel

Aucamp lys nie net die bestanddele van die onderskeie geregte en beskryf die metodes nie, hy vertel ook iets meer omtrent elke gereg. Hy bedank onder meer vir Marida Fitzpatrick, sy redakteur, en ook die fotograaf Donna Lewis wat vir die mooi kosfoto’s gesorg het. Marcelle van Rooyen het vir die stilering gesorg.

Meer oor die skrywer: Armand Aucamp het geen bekendstelling nodig nie. Hy is ’n bekende en geliefde akteur en sosialemediapersoonlikheid met duisende volgelinge. Hy het onder meer die hoofrolle vertolk in die fliek, Ballade vir ’n Enkeling, en in die reeks, Die Boekklub. Hy het ook opgetree as seremoniemeester by die Afrikaans is Groot-konserte.

Ek het die plaatkoekies à la keto-resep op bladsy 108 gebak. Dis heerlik! Die uitgewers het die resep goedgunstelik beskikbaar gestel vir Kragdag se lesers. Lekker bak!

Armand kook kaal – die maer uitgawe kan hier bestel word.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui