Boekresensie: In gesprek met Waldimar

Boekresensie: In gesprek met Waldimar

Outeur: Waldimar Pelser

Uitgewer: LAPA

ISBN: 978 0 7993 9615 7

In gesprek met Waldimar

deur Waldimar Pelser

Waldimar Pelser vuur vreesloos van die heup af met ’n dubbelloop haelgeweer wanneer hy politici, besluitnemers en maghebbers trompop konfronteer en onder kruisverhoor neem in sy “vlymskerp inleidings tot kykNET Verslag se aktuele TV-program In Gesprek.” Die boek word op die agterblad só beskryf: “In gesprek met Waldimar is ’n versameling van die 100 beste, lekkerste en dapperste van hierdie inleidings. In forensiese detail pak Pelser elke gek en skurk wat wil keer dat ons land floreer. Hy wys hoe naby ons aan die afgrond was en hoe ons wéér daar kan beland as ons nie dié in beheer tot verantwoording roep nie.”

Ek het dit baie interessant gevind om hierdie sagtebandboek van 204 bladsye te lees. Veteraan-mediaman Tim du Plessis beskryf die boek tereg as “By tye lekker snaaks, dan weer erg verontwaardig, maar nooit vervelig nie.” Ek wil “uiters leersaam en insiggewend” byvoeg, want Pelser se “ontledings, inleidings en beledigings” gee die gewone mens op straat, wat dalk nie altyd so op hoogte is van die politieke situasies en onderstrominge in ons land soos hulle behoort te wees nie, besondere insae in wat agter die skerms (en soms blatant openlik!) gebeur. Pelser waarsku dan ook: “Die huigelary in ons politiek is verbysterend” (160).

Die leser besef opnuut hoe belangrik dit is dat landsburgers waaksaam bly en keer vir hulle “wickets” soos die Engelsman sê. Maak ’n punt daarvan om voortaan jou oë en ore wawyd oop te hou, jouself te vergewis van wat aangaan op die politieke front, en jou sê hard en duidelik te sê sou dit nodig wees. Die boodskap is duidelik: Raak betrokke! Pelser betreur juis die feit dat Suid-Afrikaners betogings ’n slegte naam gee. As rede verskaf hy die volgende voorbeeld op 4 Mei 2016: “In Suid-Afrika het meer as 100 000 opgeruk ná aktiviste groot planne bekend gemaak het om president Jacob Zuma uit die Uniegebou te dwing. Maar hulle was nie op die parade in Kaapstad met baniere nie, hulle was nie in Pretoria met tuinvurke en fakkels om regime-verandering te eis nie … die massas was eerder by die opening van ’n nuwe mall om TV’s en kouse op special te koop (1).

Pelser skryf in die Voorwoord: “Ons kan regtig net daarvan droom om ons probleme op te los as ons eerlik daaroor praat.” Hy noem ook dat In Gesprek Woensdagaande gehelp het om “die woede en aspirasies van kykers te probeer verwoord wat ten hemele wou skreeu oor wat rondom hulle gebeur. Daar’s te veel haat in hierdie land, maar te min eerlikheid. En te veel mense met mag wat wegkom met moord (letterlik en figuurlik). Ons teikens was al hierdie euwels – van haat tot oneerlikheid, van hardegatgeid tot misdadigheid, en veral dubbele standaarde.” Volgens hom verskyn In gesprek met Waldimar ook danksy politieke vryhede wat nie voor 1994 bestaan het nie.

Waldimar ontsien geen sogenaamde “heilige koeie” nie. Veral diegene wat reken dat hulle onaantasbaar is weens hulle politieke amp, status of konneksies, loop deur onder sy skerp tong. Hy draai nie doekies om nie, en hy staaf sy beweringe met harde, koue, joernalistieke feite. Die 100 hoofstukke is kort en kragtig geskryf en lees maklik en vloeiend. Dit leer jou om met jou oë wawyd oop te slaap. Ek dink dat Suid-Afrikaners veral ná die Covid-19 pandemie meer as ooit tevore sal moet saamstaan om te verseker dat die skip waarop elkeen van ons soos drenkelinge aan dryfhout vasklou, op ’n bekwame, openlike en doelgerigte wyse na kalmer waters gestuur word. Dít kan net gedoen word as die indoenas aan die stuur van sake verantwoordbaar gehou word deur die gewone mense van hierdie land.

Meer oor die outeur

Waldimar Pelser is redakteur van Rapport. Hy is reeds drie maal bekroon met ’n ATKV-Mediaveertjie as beste aanbieder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram. Hy het in die regte en die joernalistiek studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna het hy ’n meestersgraad verwerf aan Oxford-Universiteit.

In gesprek met Waldimar kan hier bestel word. Dit is ook hier as e-boek beskikbaar.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui