
’n Boervrou en haar vyf vlakvarke
Terry Herholdt (56) word in Gonubie in die Oos-Kaap groot. Sy matrikuleer aan die Cambridge High School te Oos-Londen. Omdat perde haar passie is, trek sy Pretoria toe om daar ’n SANEF (Suid-Afrikaanse Nasionale Perdefederasie) kwalifikasie te verwerf. Sy ontmoet egter haar toekomstige eggenoot, trek saam met hom na ’n plaas in die Bosveld toe, en boer met Brahman-beeste en ingevoerde Livingstone elande. Nadat sy en haar man in 2007 skei, bly Terry op die plaas aan. Sy boer tot vandag toe vroualleen met Charbray-beeste en elande.
Dit reën vlakvarke
Terry het, in die 38 jaar wat sy op die plaas woon, al verskeie diere hans grootgemaak – van ’n babamuis tot ’n waterbuffel. Sy het egter altyd gesê dat sy nie kans sien om ’n vlakvark in te neem nie. Haar voornemens het egter soos mis voor die son verdwyn toe sy die pasgebore vlakvarkie, wie se ma doodgery is deur ’n kar, in die pad sien lê het. Sy was onmiddellik smoorverlief op die vlakvarkie en het haar Twiggy gedoop.
’n Jaar later het Terry haar oor die kleine Charly (Charlotte) ontferm nadat ’n jagter dié se dragtige ma geskiet het en die jagter daarin kon slaag om Charly lewendig uit die baarmoeder te haal – haar drie sibbe was reeds dood. Twiggy het gelukkig ook dadelik die kleine Charly aanvaar.
Kort nadat Charly deel van die Herholdt-gesin geword het, is die kleine Hoggy (Hogwart) erg getraumatiseerd langs die grootpad gevind. Die vlakvarkie het eers rustig geraak nadat hy saam met Twiggy en Charly gesit is. Terry het toe drie vlakvarke gehad wat op hulle eie bed in haar slaapkamer geslaap het en saam met haar TV gekyk en gestort het.
Ná ’n jaar het Terry ook vir Lucy en Zilla (Godzilla) gekry. Lucy het ongelukkig seergekry op ses maande en moes uitgesit word. Zilla het glo vir dae lank vreeslik getreur en het eers kalmeer en weer in haar normale roetine verval nadat sy deur die hele huis gesnuffel het en self besef het haar sib is nie meer daar nie. Teen hierdie tyd het die vier vlakvarke hulle eie huis, The Hog Hotel, aangrensend aan die hoofhuis gekry. Dit het ’n grasdak gehad en het bestaan uit ’n deel van ’n ou watertenk. Houtpale moes keer dat die vlakvarke ontsnap en ’n rubber vervoerband dat hulle onderdeur grawe. Hulle het ewe gerieflik op strooi geslaap.
Vriende van Terry het vir Ludi (Ludwig) een koue oggend naby Vryburg gekry waar hy bewusteloos in die pad gelê het. Hulle het die vlakvarkie self tot op sewe maande versorg, maar moes toe verhuis en kon hom nie saamneem nie. Die vlakvarkie het toe by Terry opgeëindig. Zilla het Ludi een kyk gegee en aangeval. Tot vandag toe is Ludi nie deel van die trop van vier (Twiggy, Charly, Zilla en Hoggy) nie. Ludi het toe maar saam met Terry op haar bed geslaap tot hy drie jaar oud was. Bedags is hy alleen in ’n kamp langs die groot Hog Hotel Camp waar die ander vier vlakvarke hulle tyd spandeer.
Die lewe saam met vlakvarke
Vlakvarke is baie kieskeurig oor wat hulle eet. Al vyf Terry se vlakvarke eet lusern- of hondepille asook gras, graswortels en veldvrugte. Hulle is mal oor gekookte kos (selfs vleis!). Party eet wortels en patats. Vars mielies is ’n groot bederf, en hulle kry ook elke dag appels om te eet. Nóg ’n gunsteling is bruinbrood en warm melk. Hulle sal ewe soet en ordentlik sit en ’n koekie of lekker baie sagkens uit ’n mensehand neem.
Toe die vlakvarke nog by Terry in die huis gewoon het, het sy in die stort hulle maanhare gesjampoe en selfs opknapper aangesit, maar sy doen dit nie meer nie. Nou rol hulle al te graag in modder rond. Wanneer hulle vlooie het, laat sy hulle lê en sprinkel Karbadust op hulle mae en nekke. Sy ontwurm hulle ook gereeld. Twiggy se hoewe word twee keer ’n jaar versorg. Volgens Terry dra mak vlakvarke nie sommer siektes oor nie, maar wilde vlakvarke kry wel Afrika-varkgriep wat deur sagte bosluise oorgedra word.
Terry vertel dat toe Twiggy nog alleen was, sy eendag ’n jong dominee, wat huisbesoek wou kom aflê, aangesien het as ’n oortreder en hom terstond bestorm het. Die vreesbevange predikant het desperaat ’n melkemmertjie van blik gegryp en tussen hom en die kwaai vlakvark gehou, terwyl hy hom so klein as moontlik agter ’n pilaar probeer maak het. Terry het egter blitsvinnig tot die predikant se redding gekom. Behalwe ’n gekneusde ego het hy darem nie seergekry nie.
Op ’n ander geleentheid het Twiggy bo-op Terry se gewese skoonma se blink tweedeur-Mercedes se enjinkap geklouter om die Mercedes-wapen van beter te beskou. Terry se skoonma se gille het die vlakvark laat skrik, en toe dié verbouereerd van die enjinkap af wou klim, het haar voorpote regdeur die peperduur rooster voor aan die kar gegly. Terry was natuurlik heel verleë oor die insident.
Vlakvarke is baie intelligente diere en kan op enige moontlik manier oorleef. Volgens Terry verstaan hulle mense, gebruik logika en kan bevele uitvoer. Hulle is ook baie emosioneel, ervaar liefde baie sterk, kan geweldig jaloers wees, en hou baie van aandag. Hulle raak sommer heel ontsteld as hulle raas kry. Hulle beskerm hul kleintjies tot die dood toe. Vlakvarke hou van roetine en struktuur, en dit help hulle om in die natuur te oorleef.
Tandekry is baie gevaarlik vir babavlakvarkies onder ’n jaar oud oud. Twiggy se eerste drie tande het amper haar dood gekos. Sy het baie koorsig geraak en erge diarree ontwikkel. Terry se twee mannetjiesvlakvarke (bere) is nou albei burge, m.a.w. sy het hulle laat kastreer. Hoggy se hoektande (wat slagtande sou word) is terselfdertyd getrek, maar dit was toe al die tyd melktande en het weer teruggegroei.
Vlakvarke wat met die hand grootgemaak is, is baie stout, spelerig en liefdevol. Hulle grootste uitdaging is om uit te werk hoe hulle uit hulle kampe kan ontsnap. Hulle gebruik hulle slagtande om drade te breek, gate te grawe en houtpale uit te haal.
’n Vlakvark sluit ’n lewenslange band met sy mens-ma of mens-pa. Moet dus eerder nooit probeer om ’n vlakvark groot te maak indien jy nie die dier permanent veilig kan aanhou nie. Makgemaakte vlakvarke kan nie weer in die natuur vrygelaat word nie. Hulle sal vrek of deur ander wilde vlakvarke doodgemaak word.
Vlakvarke in die natuur
Vlakvarke is nie ’n bedreigde spesie nie. Hulle teel vinnig aan. Werpsels kan tot agt kleintjies bevat, maar is gewoonlik net vier. Elkeen suip net aan ’n spesifieke speen. Vlakvarkies sterf gewoonlik as gevolg van tandekry probleme of omdat roofdiere hulle vang.
Meeste boere wat met kropgewasse boer asook wildboere beskou vlakvarke as ongewens en maai onder hulle. Vlakvarke grawe onderdeur heinings op hulle roetes om kos te kry. Predatore verkry toegang tot kampe deur die gate wat die vlakvarke maak. Boere kan die probleem oplos deur sisteme soos flapdeure in die gate te plaas. Die vlakvarke is slim en leer gou hoe om dit te gebruik.
Bere verlaat gewoonlik die groep tydens puberteit om op hulle eie te wees. Die jong sôe is sosiale diere en bly gewoonlik bymekaar. Terry weet van ’n hans grootgemaakte beer wat 17 jaar oud is. Volgens Chris Stuart se Sakgids: Soogdiere van Suider-Afrika is vlakvarke se lewensduur in aanhouding sowat 17 jaar, maar dit is waarskynlik korter in die natuur. Wikipedia gee die lewensverwagting aan as tot 20 jaar.
Mak vlakvarke is gevaarlik, want hulle is nie bang vir mense nie. Dieselfde instinkte wat hulle in die natuur dryf om mekaar te beskerm, dryf hulle ook om die mens-ouer wat hulle as een van hulle sien, te beskerm. Vlakvarke ouer as 18 maande sal vreemdelinge aanval. Hulle veg of vlug reaksie is hoogs ontwikkel. Hulle sal, in ’n poging om te ontsnap, sommer deur en oor enigiets in hulle pad hardloop, ook ’n mens, venster of glasdeur. Só kan hulle sonder bedoeling hulself of ’n mens baie ernstig beseer. Boere behandel beseerde vlakvarke dikwels sommer self. Baie min veeartse het ondervinding daarvan om met vlakvarke te werk. Die gewone kalmeermiddels vir diere wat metgeselle van mense is, is baie gevaarlik vir vlakvarke – en dis ook waarom hulle dikwels doodgaan onder narkose. Hulle kan met gas verdoof word, maar dis nie altyd ’n praktiese oorweging wanneer dit by ’n 100 kg vlakvark kom nie.
Terry waarsku dat mense nie vlakvarkies moet koop om as troeteldiere aan te hou nie. Permitte word glad nie uitgereik aan mense wat hulle as troeteldiere wil aanhou nie. Jy het ’n permit nodig om die diere (en hulle vleis) te vervoer. Terry noem dat mense wat op plase woon vlakvarke mag aanhou solank hulle nie in klein areas aangehou word nie. Sy het haar slegs oor vlakvarke ontferm omdat hulle reddingsgevalle was en andersins sou vrek.
Vlakvarke is vreeslik oulik as hulle klein is en dis maklik om vir hulle te sorg. Maar hier vanaf eenjarige ouderdom af raak hulle ’n probleem vir baie mense. As hulle dan verstoot word, kan hulle hulself doodmaak in ’n desperate poging om terug te gaan na hulle “familie” toe. Die kognitiewe vermoë van ’n makgemaakte vlakvark is dié van ’n driejarige kind, aldus Terry. Sy glo egter vas dat vlakvarke selfs hoër kognitiewe vermoëns kan hê. Om volgens haar ’n vlakvark aan te hou, is soos om ’n renoster of ’n olifant in jou huis te hê, al verskil is dat die vlakvark tien keer slimmer is.
Terry en haar vyf vlakvarke is inderdaad ’n gesig om te aanskou. Hulle neem tot haar hand in hulle bekke en hou dit saggies vas. Sy eindig ons onderhoud só af: “I just love my babies. Cleverest little snuffies on the planet!”