Boekresensie: Kweek dit self
Titel: Kweek dit self
Outeurs: JJ van Rensburg & Tinus Oberholzer
Uitgewer: Briza Publikasies
ISBN: 978-1-920217-96-9
Kweek dit self
deur JJ van Rensburg & Tinus Oberholzer
Skuif gerus nader indien jy daarvan hou om die spasie in jou tuin optimaal te benut en jou eie kos te kweek. Kweek dit self is ’n volledige handleiding wat jou alles en nog meer vertel van tradisionele en alternatiewe tuinboumetodes en die groei van alledaagse plantspesies sowel as ongewone variasies.
Hierdie tuinboek “fokus op eetgoed uit jou eie tuin” en sal jou inspireer om ’n bobaas-tuinier te word. Jou arbeid sal beslis beloon word met kraakvars en gesonde groente en vrugte, én jy sal boonop ’n paar rand spaar. Die welbekende omroeper, Derrich Gardner, merk heel tereg in die Voorwoord op: “Varsprodukte in winkels lyk fantasties, maar soms ontbreek die smaak en liefde wat in jou eie tuingroente vasgevang is. En as jy eers die Rubicon van “self plant” oorgesteek het, is dit neusie verby met winkelkos – vars is koning!”
Die outeurs, JJ van Rensburg en Tinus Oberholzer, skryf in die Inleiding: “Ons doelwit met Kweek dit self is om jou toe te rus met al die basiese inligting wat jy nodig het om jou eie tuin te vestig, alles wat jy moet weet van die begin tot die einde saamgevat in een maklik bruikbare boek. Ons is oortuig dat Kweek dit self, van die basiese beginsels ten opsigte van grond, water en voedingstowwe af tot die meer spesifieke inligting oor elke plant, vir jou van groot waarde sal wees.”
Die sagtebandboek van 210 x 240 mm beslaan 256 bladsye en spog met meer as 300 volkleurfoto’s en illustrasies. Daar is vyf afdelings getiteld: … in die begin, Groente, Vrugte en Vrugtebome, Neute, en Kruie en Speserye, asook ’n baie nuttige Streeksaaigids.
Ek behandel elke afdeling kortliks om aan die leser ’n oorsig te gee van wat om te verwag.
Deel 1: … in die begin
Klimaat: Hier word die belangrikheid uitgelig om plante te kies wat by jou spesifieke klimaatstreek aard en by die weerpatrone in jou area aanpas. Sodoende is die kans groter dat die plante sal floreer en “sal jy baie minder beslommernis hê van peste en siektes”.
Tuinuitleg: Die belangrikheid van ’n goed en weldeurdagte plan word beklemtoon, want dit is die grondslag van ornamentele én funksionele tuine. Ek het veral die gedeelte oor wisselbou van waarde gevind en geleer dat ek plante moet afwissel sodat die voedingstowwe in die grond meer produktief gebruik word.
Tuine in houers en klein spasies: Dit is beslis moontlik om jou eie produkte in klein spasies te kweek, bv. op ’n balkon of die dak van ’n gebou en selfs in ’n binnetuintjie. Jy kan ook mikrogroente en saadsprietjies groei.
Alternatiewe metodes: Hier leer die leser meer oor effektiewe maniere “om groente te kweek as jy in ’n gebied woon waar die grond nie vir tuinmaak geskik is nie, byvoorbeeld as daar plaveisel of ’n ander hindernis is”. Die klem val hier onder meer op verhewe beddings, vertikale tuine en die gebruik van hooibale as substraat. Hidroponika en akwaponika word ook voorgehou.
Organiese tuine: Die spreekwoord lui mos dat voorsorg beter is as nasorg. Die tuinier kan deur slim tuinmaakpraktyke sy tuin vry van kunsmatig geskepte chemikalieë hou. “Die filosofie is dat as jy vir die grond omgee en dit op ’n natuurlike, volhoubare manier verryk, sal jou oes uiteindelik uitstekende wees.”
Eetbare blomme: Die gier om eetbare blomme in kookkuns te gebruik, steek weer sy kop uit. “Die gesegde, ‘Jy eet eers met jou oë’, sorg hier vir ’n ekstra sintuiglike ervaring. Ek het veral die lys van blomme wat eetbaar is en die lys van blomme wat giftig is leersaam gevind.
Grond: “Die grondsoorte waarna gewoonlik as sand, klei en leem verwys word, sal die soort plante wat jy kan plant asook jou voorbereiding en watergeeregime bepaal.” Die leser leer hier onder meer om grond te toets met die baltoets en die glasbotteltoets.
Kompos: Dis maklik om jou eie gehalte kompos te maak. Het jy bv. geweet dat jy smeerwortelblare as ’n organiese komposaktiveerder kan gebruik? Waar is die beste plek om jou komposhoop te maak? Watter materiale kan jy gebruik? En hoe hou jy jou gevestigde komposhoop in stand? Hierdie afdeling beantwoord al jou vrae.
Bemesting: “Bemestingstowwe word gebruik as byvoeging tot die nutriënte beskikbaar in die grond en om te verseker dat al die voedingstowwe wat nodig is vir gesonde groei van plante in die regte hoeveelhede beskikbaar is.” Lees meer oor die verskillende vorme van bemestingstowwe.
Watergee: Hier het ek die gedeelte oor waterwyse tuinmaak baie interessant gevind, veral die voorbeelde van organiese deklae wat genoem word.
Saad en Saailinge: Jy kan self jou plante van saad kweek in ’n saadbedding of -kassie, of jy kan eerder saailinge by jou naaste kwekery aanskaf. Die leser word touwys gemaak oor hoe om die babaplantjies te vertroetel.
Peste en plae: “In enige tuin – maak nie saak hoe goed versorg dit is nie – sal daar egter altyd ’n paar plae en siektes wees wat van tyd tot tyd lastig kan wees.” Lees gerus meer oor die tipes plae en peste en hoe om dit te behandel en selfs te voorkom.
Plantsiektes: “Plantsiektes word veroorsaak deur mikroorganismes soos virusse, bakterieë en swamme (fungusse)”. Behandelings vir onder meer krulblaar, roes en swartvlek word voorgestel.
Elke plant in Dele 2 tot 5 hier onder word bespreek onder die volgende hofies, nl. Grondvoorbereiding, Voortplanting, Kweking, Oes en berging, Kweking in houers, Plantmaats, en Moontlike probleme.
Deel 2: Groente
In hierdie afdeling leer jy “hoe om ’n verskeidenheid groente te kweek, van die doodgewone daaglikse bekendes tot die minder bekende soorte soos Jerusalem-artisjokke, okra en madumbi’s”. Daar is ’n nuttige gids tot brandrissies, en ek het veral die gedeelte oor die verskillende soorte tamaties geniet.
Deel 3: Vrugte en vrugtebome
“In hierdie seksie sal jy meer te wete kom oor hoe om ’n verskeidenheid vrugte in jou tuin te kweek.” Leer hoe om vrugtebome te verplant en te snoei. Die antieke tuinbou- en landboukundige espalier-metode word bespreek waar jy vrugtebome “kweek deur hulle te snoei en vas te maak sodat hulle byna op ’n plat vlak is”, of te wel deur die plant teen ’n heining of iets dergeliks op te lei om ruimte te bespaar en visueel meer aantreklik te vertoon. Ek is versot op vrugte en gaan beslis van die minder bekende vrugte kweek soos stervrug, pampelmoes en boomtamaties.
Deel 4: Neute
“In hierdie afdeling sal jy leer hoe om ’n verskeidenheid neute te kweek.” Ek het nie geweet dat dit so maklik is om die doodgewone grondboontjie te kweek nie – die eerste grondboontjies kan jou waarlik binne vier tot vyf maande ná die planttyd geoes word. Dit is ook nie baie vatbaar vir peste en plae nie.
Deel 5: Kruie en speserye
“In hierdie afdeling sal jy uitvind hoe om ’n verskeidenheid kruie te kweek.” Jy kan kruie as geurmiddel in jou kos inspan, as insekweerder aanwend of vir medisinale doeleindes gebruik. Ek het dit geniet om meer oor die minder bekende kruie soos galangal, bernagie en dragon te leer, maar gunstelinge soos kruisement, basilliekruid en oregano gaan eersdaags in my tuin pryk.
Redes verskaf oor waarom jy jou eie groentetuin behoort te hê:
- Tuinmaak is ’n baie bevredigende stokperdjie en ’n verrykende proses.
- Dit gee jou die kans om aan die alledaagse sleur te ontsnap en te ontspan.
- Met jou eie groentetuin krimp jou koolstofvoetspoor drasties.
- Jou kinders leer respek vir die natuur.
- Jy spaar in moeilike ekonomiese omstandighede.
- Jy help bye om in ’n groener omgewing te oorleef.
Meer oor die outeurs:
JJ van Rensburg en Tinus Oberholzer het saamgewerk om hierdie pragpublikasie saam te stel. Beide skrywers is ervare tuiniers en beskik oor kwalifikasies in Tuinboukunde.
Waarkan ek die boekkoop. Ek bly inWellington WK
Theuns kontak asb vir Marissa Meyer by marketing@briza.co.za. Ek glo sy sal jou in ‘n japtrap kan help om die boek te bestel.