Nuwe KragDag Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem

KragDag en Lex Libertas het vandag die KragDag Selfstandigheidsgids bekendgestel – ‘n praktiese werkboek wat huishoudings, gesinne, boere en entrepreneurs wil help om hul eie pad na groter selfstandigheid te vind. Die gids is saamgestel as ‘n langtermynhulpmiddel wat lesers help om hul huidige situasie te beoordeel, moontlike oplossings te verken en ‘n persoonlike plan vir die toekoms saam te stel. 

Die bekendstelling vorm die hoogtepunt van drie dae se gesprekke in die KragDag Kopskuifateljee. Onderwerpe soos verantwoordelike rentmeesterskap, vryheid en identiteit: die rol van kultuur in selfbeskikking, plaaslike uitdagings, veiligheid, opvoeding, welvaartskepping, plaaslike bestuur, belasting, ‘n konserwatiewe herlewing en alternatiewe media is bespreek. Die Selfstandigheidsgids bring baie van hierdie beginsels byeen in ‘n praktiese werkboek wat lesers help om die volgende stap na groter selfstandigheid te neem.

Die 21-bladsy gids is rondom KragDag se 2026-tema, “Druppels word strome. Strome word riviere.”, ontwikkel en sluit praktiese afdelings oor opvoeding en vaardighede, energie, water, voedsel, behuising en selfdoenprojekte, veiligheid en finansiële selfstandigheid in. Elke hoofstuk bevat selftoetse, kontrolelyste, werkvelle, wenke en vrae wat lesers kan gebruik om oplossings te vergelyk en ingeligte besluite te neem. Die gids sluit ook af met ‘n persoonlike selfstandigheidsplan wat lesers help om konkrete doelwitte vir die volgende twaalf maande te formuleer. 

Volgens dr. Ernst Roets, uitvoerende hoof van Lex Libertas, is die gids nie bedoel om voorskriftelik te wees nie, maar om mense te help om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem.

“Lex Libertas se hoofdoelwit is om ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika te bevorder. Die belangrikste stap om dit te bereik is nie een of ander vorm van parlementêre ingryping nie, maar dat gesinne en gemeenskappe selfstandig moet funksioneer deur eienaarskap te neem van hul eie vryheid. Ons moet die politieke lugleegte in Suid-Afrika vul deur self verantwoordelikheid te aanvaar. Dit is waarom hierdie gids so belangrik is. Dit help mense om, daar waar hulle woon, die spreekwoordelike stene te lê.”

HP Steyn, bestuurshoof van KragDag, sê die gids is ‘n natuurlike uitbreiding van dit waarvoor KragDag al bykans twee dekades staan.

“KragDag was nog altyd meer as ‘n ekspo. Dit is ‘n plek waar mense idees ontdek, vrae vra en praktiese oplossings vind. Die Selfstandigheidsgids neem daardie gesprek verder. Ons hoop dit word ‘n werkboek waarna gesinne telkens terugkeer wanneer hulle hul volgende stap beplan. Selfstandigheid word nie deur een groot besluit gebou nie, maar deur baie klein besluite wat oor tyd momentum kry.”

Die gids beklemtoon dat daar nie een vaste model vir selfstandigheid bestaan nie. Elke huishouding, plaas, onderneming en gemeenskap het unieke omstandighede en doelwitte. Daarom is die fokus nie daarop om voor te skryf wat mense móét doen nie, maar om hulle toe te rus om verantwoordelike keuses te maak wat by hul eie situasie pas. 

As deel van die gids word lesers ook aangemoedig om KragDag se uitstallerslys as vertrekpunt te gebruik om verskaffers van produkte en dienste te identifiseer en oplossings verder te ondersoek nadat die ekspo verby is. Die gids is dus ontwerp as ‘n praktiese naslaanwerk wat lank ná KragDag bruikbaar bly.

Laai die gids gratis af: https://kragdag.co.za/dokumente/KragDag%20Selfstandigheidsgids.pdf

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui