Selfvoorsienend: voor- en nadele

Sahil Bhardwaj

Die blogger Sahil Bhardwaj noem op Quora vier voordele van selfvoorsienend wees, naamlik onafhanklikheid, besparing, gesonder leefstyl en ’n gemeenskap wat nader aan mekaar is. Hy noem ook nadele, soos dat dit ’n tydrowende proses is om selfvoorsienend te raak. Die aanvanklike insetkoste is hoog, hulpbronne kan beperk wees en mens kan boonop geïsoleerd voel. Ek brei graag uit op sy waarnemings.

Voordele van ’n selfvoorsienende leefstyl

Onafhanklikheid: Jy raak al meer onafhanklik van ander om aan jou basiese lewensmiddele en behoeftes te voorsien hoe meer selfvoorsienend jy word. Jy kan byvoorbeeld van die kragnetwerk afkom, jou eie water vir huishoudelike gebruik opvang en jou eie kos in die vorm van groente, vrugte, kruie en speserye kweek. Sommige selfvoorsieners maak selfs hulle eie klere, seep en sjampoe. Ander hou vee en pluimvee aan vir vleis, melk en eiers – nie net vir eie gebruik nie, maar ook om te verkoop.

Besparing: Te oordeel aan die huidige voedselpryse, is dit heelwat goedkoper om jou eie kos te produseer. Dit verg wel ’n handearbeid en beplanning, maar dis die moeite werd omdat jy sommer in die proses fiks word en son inkry. Dis ook goedkoper op die lang duur om jou eie water en energie vir huishoudelike doeleindes te voorsien as om dit aan te koop.

Gesonder leefstyl: Tuinmaak – of in dié geval ’n groentetuin onderhou – is goeie oefening en ook terapeuties. Dit gee jou ook ’n gevoel van prestasie en selftevredenheid. As jy die organiese roete volg, weet jy jou voedsel is vars en is nie met skadelike gifstowwe bespuit nie. Jy weet dus wat jy eet en waar jou kos vandaan kom.

Sterkter gemeenskapsbande: Selfvoorsieners reik graag uit na hulle bure en gemeenskap om produkte en dienste aan te bied of te ruil vir iets wat hulle benodig. Dit kweek die onderlinge wete dat mense vir mekaar uitkyk en in mekaar se beste belang begin optree.

Nadele van ’n selfvoorsienende leefstyl

Tydrowend: Mens raak nie oornag selfvoorsienend nie. Deeglike beplanning en strategie is nodig om van die onderneming ’n sukses te maak. Jy plant byvoorbeeld nie vandag pampoensaad en môre oes jy al die pampoene nie. Dit neem tyd. Hoe eerder jy dus begin, hoe beter. Moenie langer uitstel nie.

Aanvangskoste: Die aanvanklike koste om selfvoorsienend te raak, kan hoog wees. Dis byvoorbeeld duur om watertenks aan te koop en solarpanele te installeer, maar op die lang duur sal dit wel tot besparing lei. Mens is dikwels ook onervare en maak foute. Gelukkig leef ons in die moderne eeu en daar is duisende video’s beskikbaar van persone wat reeds die roete van selfvoorsienend wees geloop het en nou raad en wenke kwistig uitdeel. Jy hoef dus nie die wiel weer te ontwerp nie en kan uit ander se foute leer.

Beperkte hulpbronne: Selfvoorsieners is in sommige gevalle beperk tot hulle eie vaardighede of wat hulle beskikbaar het. Hulle is dikwels nie (veral aan die begin) in staat om in al hulle behoeftes te voorsien nie. Soms woon ’n selfvoorsiener in ’n stedelike gebied en mag byvoorbeeld nie vee of pluimvee aanhou nie. Hy moet dan steeds sy melk, kaas, vleis en eiers elders aankoop. Of sy erf is te klein om mielies te groei. Maar dis waar ruilhandel ter sprake kom. My kruie en spesery vir jou mielies.

Afsondering: Selfvoorsieners is dikwels uitsluitlik op hulself aangewese. Dit gebeur soms dat hulle so besig is om aan hulle eie Utopia te bou dat hulle afgesny voel van die res van die wêreld. Diegene wat op afgesonderde plekke nesskrop, moet ook ekstra bedag wees op veiligheid.

Daar is voor- en nadele om in ag te neem wanneer mens selfvoorsienend wil raak. Baie wat wel die sprong gewaag het, is dit eens dat hulle nooit weer terug sal kyk nie. Hulle voel dat hulle lewensgehalte en gesondheid beter is en dat hulle die gemoedsrus het dat hulle ’n beter kans op oorlewing staan sou dinge versleg.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui