Vervang jou grasperk met ’n eetbare tuin

Dis heerlike lente. Die winter is verby. Dit word soggens vroeër lig en saans later donker. Ons trek ons baadjies en jasse uit, want dis nie meer so koud nie. Die bome begin bot en dit raak weer tyd om gras te begin sny. Orals in die natuur is tekens van lewe te bespeur. Die lente bring nuwe hoop en verwagtinge.

Net soos wanneer mense lysies nuwejaarsvoornemens maak, is dit nou ook tyd om jou voornemens vir die lente neer te pen. Werk dan daarnatoe om elke doelwit te bereik. Jy sal verbaas wees wat jy alles in drie maande kan bereik.

Ek wil jou uitdaag om jou voor te neem om jou tuin in ’n eerbare lushof te omskep.

Plant groente, vrugte en kruie en omskep jou tuin in ’n lushof van eetbare plante. Die Engelse noem dit ’n food forest. Daar is hordes video’s op YouTube van hoe mense dwarsoor die wêreld hulle eie koswoude aanplant en onderhou. Kyk gerus na ’n paar. Jy sal verbaas wees oor die groot verskeidenheid eetbare plante wat mens in selfs ’n posseëlgrootte tuin kan hê.

Nie net is die aanplant van ’n eetbare tuin ’n baie kreatiewe en leersame stokperdjie vir die hele gesin nie, maar oor tyd behoort jou aanvanklike uitgawes om vrugtebome, saailinge of saad te bekom vir jou benydenswaardige dividende in die vorm van gesonde, tuisgegroeide kos te gee. Die beste van alles is dat jy weet waar jou kos vandaan kom en dat jy kan sorg dat geen skadelike gifstowwe naby aan dit kom nie. Jy en jou gesin kan dus na hartelus weglê aan byvoorbeeld appelliefies, bloubessies, appelkose, perskes, suurlemoene, pruimedante, pruime, spinasie, wortels, aartappels en wat jy ook al aanplant.

Dink net hoe lekker sal dit wees indien jy in jou tuin stap en jy kan net jou hand uitsteek en van die eetbare vrugte, blare en blomme pluk en eet.  Onthou, jy kan nie jou vervelige grasperk eet nie, en dit bied ook geen kos vir insekte soos bye en skoenlappers nie. Met ’n eetbare tuin doen jy dus jou deel vir die natuur, want jy skep ’n ekologies-vriendelike area wat vir voordelige insekte ’n natuurlike, beskutte habitat kan word.

Jy hoef nie jou grasperk op een slag om te dolwe nie. Kies wel ’n area in jou tuin wat jy wel hierdie komende seisoen wil begin omskep in ’n koswoud. Besoek kwekerye in jou omgewing en gesels met kundiges oor watter eetbare plante die beste in jou area groei. ’n Landskapontwerper sal jou ook van raad kan bedien oor hou om jou koswoud te beplan, sodat jy die maksimale voordeel uit jou spasie kan put. Jy kan byvoorbeeld passievrugte teen jou heinings laat rank en skottels vol vrugte oes. Ons het dit sommer teen ons huis se mure ook laat oprank. Jou tuin kan dus ook vertikaal vir jou smullekker opbrengs lewer.

Waarvoor wag jy? Hoe gouer jy saad in die grond kry, hoe beter. Kry die hele gesin betrokke. Nie net is dit goeie oefening en vars lug nie, maar dit bied julle die geleentheid om as gesin heilsame kwaliteittyd saam deur te bring. En een van die dae eet julle tog te lekker aan julle eie kosprodukte en spaar baie rande. Dink net hoe lekker gaan jy by jou vriende spog met jou eie eetbare tuin.

3.50 avg. rating (76% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui