Werk spaarsamig. Wees dankbaar.

Ek onthou hoe verantwoordelik en besuinigend my grootouers, onderskeidelik in 1925 en 1931 gebore, altyd geleef het. Eers jare later ek besef hulle was kinders tydens die hewige Groot Depressie (1929-1933) van bykans ’n eeu gelede asook die swaar tydperk wat daarop gevolg het – ook die aanloop, aanvang en nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog. Hulle het dus uit dure ondervinding geleer om alles wat hulle het op te pas en te waardeer.

Die Groot Depressie was ’n wêreldwye ekonomiese ineensinking wat met die ineenstorting van die Wall Street-aandelebeurs begin het en spoedig wyer uitgekring het. Wikipedia beskryf ’n ekonomiese depressie as ‘n langdurige resessie, oftewel ‘n erge afswaai in die ekonomiese groei … van ‘n land. Dit word gekenmerk deur hoë werkloosheid, geringe ekonomiese bedrywighede en ‘n versigtige bestedigingsneiging onder verbruikers.”

My ouma en oupa sou skerfies handewasseep bymekaarmaak totdat dit genoeg was om weer een groot koekie seep daarvan te maak. Ook sou hulle ’n tandepastabuisie opkrul totdat daar werklik nie meer ’n millimeter se tandepasta oor was voordat hulle die leë buisie sou weggooi nie. Hulle het groente soos aartappels en wortels waferdun afgeskil. Daar is nooit met kos of ander produkte gemors nie. Hulle het altyd maniere gevind om die laaste lekseltjie te rek en meer te maak. En hulle het dit gedoen sonder dat jy eens agtergekom het dat hulle hulself afgeskeep het. Dit was net ’n aanvaarde leefstyl om op te pas en nie te vermors nie.

Onlangs lees ek op ’n sosialemediaplatform waar ’n ma kla omdat haar kind geen idee het waar geld vandaan kom nie. Hy weier om sy sakgeld te “verdien” en as hy hom wel verwerdig om ’n takie in of om die huis te verrig, eis hy buitensporige “betaling” daarvoor. Dit het my maar net laat besef hoe eiegeregtig en selfsugtig baie se leefstyle steeds is, al vier werkloosheid hoogty in ons land en sterf mense letterlik van honger. Let maar net op na artikelopskrifte soos “Hongersnood in die Oos-Kaap: ma’s maak hulle kinders dood uit desperaatheid”, “Noodtoestand rondom kindervoeding in die Oos-Kaap” en “Kinders in Oos-Kaap ondervoed weens onvoldoende toelae – MRK” – al drie hierdie berigte is slegs enkele maande oud. Hongerte is orals. Nie nét in die Oos-Kaap nie.

In lig van die toenemende styging in voedselpryse, raak dit al meer nodig dat elke gesin indringend daarna kyk om besparend te leef. Liefdadigheid begin tuis. Bewusmaking begin tuis. Leer jou kinders waar geld vandaan kom. Hulle moet weet dat geld nie op jou rug of aan bome groei nie. Ook dat dit iets is wat kan opraak of soms nie voldoende is nie. Mens kan nie alles kry wat jou oë sien nie. Broodkorsies is nie vuil nie. Jy hóéf nie elke dag vleis op jou bord te hê nie. Ook is jy nie geregtig op kasies en sap in jou kosblik nie.

Stel ’n voorbeeld deur besparingswenke na te vors en toe te pas in jou huis. Betrek jou gesinslede deur hulle insette en samewerking te vra en kyk waar, hoe en hoeveel julle kan spaar. Een manier is dalk om die geld wat julle in ’n maand op uiteet sou spandeer het eenkant te hou en dan eerder ’n tuisblyaand te reël en self kos te maak. Die geld wat julle spaar, kan julle dan gebruik om vir ’n minderbevoorregte gesin kos te koop. So leer jou
kinders boonop dat dit lekker is om te gee.

Een manier wat mens twee maal laat dink alvorens jy ondeurdag spandeer, is om ’n lysie te maak van alles waarvoor jy dankbaar is en wat jy as seën ervaar. Die voorreg om in ’n warm, veilige bed te slaap, om met ’n vol magie in die bed te klim of skool toe te gaan, om ’n mamma of pappa of werk te hê … nie almal is so bevoorreg nie. Waardeer wat jy het.

Kom ons sê weer dankie vir die klein dingetjies wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Dan sal ons meer bewus wees van die groot genade in ons lewens.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui