Selfstandig of afhanklik?

Wil jy selfvoorsienend wees of wil jy afhanklik bly van die sisteem? Wêreldwyd word mense, Suid-Afrikaners inkluis, daagliks met hierdie vraag gekonfronteer. Maar is ons werklik gereed om op onsself aangewese te wees? Kyk mens so na wat om ons gebeur, begin ons al meer te dink dat daar nie meer veel van ’n keuse is nie. Die vraag moet eerder wees: “Hoe raak ek selfvoorsienend sodat ek in my en my gesin se behoeftes kan voorsien en nie verder van die staat afhanklik is om aan my noodsaaklike lewensmiddele en dienste te verskaf nie?” Die dae toe dinge vír ons gedoen is en ons op gerief, sekuriteit en diensverskaffing kon gereken het, is hoeka verby.

Heelwat persone het al hierdie kopskuif gemaak en het op verskeie maniere en op verskillende vlakke selfvoorsienend begin raak – veral wat die kragnetwerk aanbetref aangesien ons nou daagliks noodgedwonge vir ure sonder elektrisiteit van ESKOM af moet klaarkom. Die konsensus is dat ons meer weerbaar moet word op soveel moontlik terreine van ons lewens sodat ons so onafhanklik as moontlik kan funksioneer. Gelukkig is ons as Suid-Afrikaners van nature aanpasbaar en is dit welbekend dat ons kan plan maak as die nood druk. Die geheim is om strategies te dink en doelgerig en kalm op te tree.

Daar is baie voordele daaraan verbonde om selfvoorsienend te raak. Die HAT gee die betekenis van “selfvoorsiening” as “voorsiening in eie behoeftes sonder hulp van buite”. Die Merriam-Webster Dictionary teken die betekenis van “self-sufficient” aan as “able to maintain oneself […] without outside aid : capable of providing for one’s own needs”. Die Cambridge Dictionary gee die betekenis van “self-sufficient” só aan: “able to provide everything you need, especially food, for yourself without the help of other people”.

Ek sten egter saam met die volgende aanhaling uit ’n artikel getiteld “The benefits of self-sufficiency”:[1] “Self-sufficiency doesn’t mean ‘going it alone’, indeed it is good to be interdependent, where people support each other reciprocally for mutual benefit.”

Dit maak vir my net meer sin wanneer mense saamstaan en dinge laat gebeur omdat hulle hul vaardighede en hulpbronne aanwend in mekaar se belang. So kan die persoon wat sy eie groentetuin of vrugteboord het die opbrengs daarvan met sy buurman deel of ruil. My pampoen vir jou hoendereiers of my waatlemoen vir jou tuisgemaakte seep. Ek sal jou help om jou watertenk aan jou huis se geute te koppel en jy kan my help om my motor te diens. Die een hand was die ander.

Nie elkeen van ons kan iewers op ons eie op ’n lappie grond in ’n bos gaan woon met ons gesinne nie. Maar ons kan ons bure leer ken en ondersteuningstelsels in plek plaas. Jy sal dalk verbaas wees om te verneem dat jou bure dieselfde bekommernisse en voorbehoude as jy het. Reik uit na diegene om jou en breinstorm hoe julle mekaar kan help om selfvoorsienend te raak, al is dit vir eers op kleinskaal. Jy weet nooit wanneer julle mekaar die dag wérklik nodig gaan kry nie!

[1] https://econation.one/blog/benefits-of-self-sufficiency/

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui