Selfdoeners en selfvoorsieners

Daar is wêreldwyd ’n al groter wordende beweging van mense wat verkies om ’n selfonderhoudende en selfvoorsienende leefstyl te voer. Ja, daar is stedelinge wat ook nie meer afhanklik is van die nasionale kragnetwerk nie, wat reëndromme geïstalleer het om drinkwater mee op te vang en groentetuine aangelê het om in hulle kosbehoeftes te voorsien. Maar daar is ook diegene wat verkies om eerder uit die stede en groter dorpe pad te gee. Hulle kyk uit vir lappies grond op die platteland waar hulle so goedkoop, vreedsaam en na aan die natuur as moontlik kan woon. Hierdie mense laat die dolle gejaag van die dikwels kunsmatige wêreld agter en omarm ’n eenvoudiger, gesonder en (in baie gevalle) skuldvrye leefstyl. Sleutel maar net woorde soos “off-grid living” en “homesteading” in jou soekenjin in en sien hoe populêr hierdie leefwyse geword het. Ook hier in Suid-Afrika. Jy kan ook van hierdie selfdoeners op YouTube volg en sien hoe hulle dié leefstyl aanpak.

Dit is veral jongmense wat geredelik die eise en verwagtinge van die hedendaagse samelewing ontduik en daarmee saam die kettings van die tradisionele monetêre sisteem afskud wat dreig om hulle in (soos hulle dit sien) slawerny gevange te hou. Pleks daarvan om skuld aan te gaan om huise en duur motors te bekostig en ure van hulle lewens in die verkeer te mors, bou hulle self eko-vriendelike wonings – dikwels piepklein maar weerbestand en snoesig – en kweek hulle eie groente, vrugte en kruie. Sommige hou hoenders aan vir eiers of ’n koei of bok vir melk om kaas, jogurt en botter mee te maak. Daar is ook dié wat varke en skape aanhou, maar die idee is nie om groot boerderye tot stand te bring nie. Hulle wil net in hulle eie behoeftes voorsien, met die bure ruiltransaksies aangaan en ook aan naburige gemeenskappe op kleinskaal voorsien vir ’n ekstra inkomste. Die ideaal is om nie van winkels afhanklik te wees vir kosprodukte en ander behoeftes nie.

Dis interessant dat diegene wat hierdie selfonderhoudende en selfvoorsienende leefstyl navolg, ook waardevolle ervaring en kennis opdoen in aspekte soos byvoorbeeld herwinbare energie, biokonstruksie, kosverbouing en permakultuur. Hulle leer hoe om die kos wat hulle self kweek in te lê, te droog of op ander maniere te bewaar en berg vir latere gebruik. Ook leer hulle die medisinale waarde van plante en gebruik graag tradisionele, natuurlike metodes om hul kwale te dokter.

Baie min mense kan regtig vir ’n lang tyd sonder inkomste of ’n neseier vir die wis en die onwis klaarkom. Dit neem dikwels ’n hele ruk alvorens selfdoeners en selfvoorsieners geheel en al onafhanklik funksioneer of in staat is om ’n inkomste te verdien met hulle eie produkte. Heelwat van hulle doen een of ander tipe werk van die huis af – dikwels aanlyn – om tog maar die spaarvarkie se pensie vol te hou. Alles is dus nie maanskyn en rose nie. Dit is nie ’n romantiese leefstyl nie, maar ’n klippe-kou- en-skouer-aan-die-wiel-leefstyl. Mense wat hierdie tipe leefstyl egter hulle eie maak, is dit gewoonlik eens dat hulle dit vir niks ter wêreld sal verruil nie.

Ek gaan oor die volgende nuusbriewe heen probeer om met hierdie pioniers onderhoude te voer en te hoor watter uitdagings hulle die hoof bied en of hulle terugverlang na die vleispotte van Egipte.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui