Boekoorsig – Kampdagboek: ‘n roerende terugblik

Rensche van der Walt se dagboek getiteld Bethulie: My lewe in die kamp is onlangs deur Tafelberg uitgegee. Dit beslaan 192 bladsye en is propvol aangrypende foto’s. Die inhoud bestaan uit ‘n proloog, twee hoofstukke (Van Doringboomkamp tot Moeraskamp en Doodsengel in die kamp), die dagboek (dele 1 tot 6), Wie was die sieklike seuntjie by die Springfontein-stasie?, vertalersnota (deur vertaler Daniel Hugo) en uitgewersnota.

Die teks op die agterblad lui: “Rensche van der Walt was maar 23 jaar oud toe Britse soldate haar en haar gesin in April 1901 van hul plaas buite Reddersburg na die Bethulie-konsentrasiekamp weggevoer het. Die Britse verskroeideaardebeleid het toe reeds groot verwoesting op die Vrystaatse platteland gesaai. Sy het van die eerste dag af haar ervarings neergeskryf. Rensche se dagboek voer die leser mee na die lewe in die kamp se tentedorp waar jy saam met haar honger, dors en koud kry. Haar onthutsende beskrywings van die skokkende wanvoeding, siektes en oorbevolking wys die persoonlike tragedies agter die koue statistieke. Dagin en daguit moes sy toekyk hoe bekendes om haar sterf. Jy beleef ook haar verlange na hul lewe voor die oorlog en haar kommer oor haar broers wat in krygsgevangenekampe aangehou is. Hierdie ongekunstelde stem uit die verlede ontbloot die wrede werklikheid van oorlog, maar getuig ook van die mens se vermoë tot oorlewing.”

Die teks op die binneflap lui: “Rensche (Rennie) van der Walt is op 29 Junie 1878 op Reddersburg in die Republiek van die Oranje-Vrystaat gebore. In April 1901 is sy saam met haar ma, ook Rensche, en drie sussies van hul plaas Uitkyk […] weggevoer. Die Van der Walt-vroue het die kamp oorleef en nadat vrede verklaar is na Reddersburg teruggekeer. Rensche het in later jare as die bibliotekaresse van die Gereformeerde Kerk op Reddersburg gewerk en is nooit getroud nie. Sy is op 2 November 1948 op 70-jarige ouderdom oorlede. Die dagboek wat sy in die konsentrasiekamp gehou het, was in haar besit tot haar dood. Dit is daarna deur haar suster, Hester, bewaar wat dit weer aan haar dogter Kezia Hamman gegee het. Kezia het die dagboek in die 1960’s na Afrikaans vertaal en ‘n klein oplaag uitgegee.”

Prof. Fransjohan Pretorius, emeritus professor aan die Departement Historiese en Erfenisstudies by die Universiteit van Pretoria, dr. Johan van Zyl, ‘n historikus en museumkundige by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, en Dr. Vicky Heunis, versamelingsbestuurder by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, het uiters waardevolle toeliggende bydraes tot hierdie weergawe van Bethulie: My lewe in die kamp gemaak. Die smaakvolle uitleg deur Marius Roux verdien vermelding. So ook ‘n dapper uitgewer wat nie geskroom het om hierdie hartroerende publikasie aan ‘n hedendaagse leser te bied en ook só te verseker dat nog ‘n geslag oor die lewe in die konsentrasiekampe lees en ‘n bewustheid kweek van die harde werklikheid van oorlog.

Uittreksels: “Ons almal se dae gaan verby soos ‘n skadu. Hier in die kamp kan ‘n mens sien hoe nietig die mens is. Vandag is jy nog gesond en oor vier of vyf dae word jy na die graf gedra.” (127) “Ons was so ‘n vrye volk en hoe geskonde is ons nou! […] Maar ek hoop ons sal nie altyd verstoot word nie en dat die dag sal aanbreek wanneer ons uit ons ellende verlos sal word. Dan sal ons getroos word van al ons droefheid.” (135)

Geen leser kan onaangeraak staan by die lees van Bethulie: My lewe in die kamp nie. Weerlose vroue en kinders het absoluut skrikwekkende ontberings moes deurmaak in konsentrasiekampe, waaronder wanvoeding, siektes, haglike higiëniese toestande, oorbevolking en gebrekkige mediese sorg. Rensche dokumenteer nie net die lyding nie, maar ook die kampbewoners se onwrikbare gees, geloof en hoop.

Bestel gerus jou kopie van Bethulie: My lewe in die kamp hier of koop dit by ‘n boekwinkel naby jou.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van Bethulie: My lewe in die kamp wen met die komplimente van Tafelberg Uitgewers. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom, kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel hoekom jy graag ‘n kopie sal wil wen. Sluitingsdatum 31 Oktober 2026.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui