Coronavirus 2019-nCoV

Die uitbraak van die nuwe virusinfeksie, veroorsaak deur Coronavirus 2019-nC0V, is die afgelope maand groot nuus en baie inligting doen die rondte. Ons wil poog om so feitelik as moontlik die laaste stand van sake weer te gee, soos ten tye voor die verskyning van die KragDagnuusbrief 5 Februarie 2020.

Wat weet ons van Coronavirusse?

Dit is ‘n groot groep virusse met ‘n kern van genetiese materiaal, omring deur ‘n omhulsel met proteïenuitsteeksels wat dit die voorkoms van ‘n kroon gee. Die Latynse woord vir ‘kroon’ is corona – vandaar die naam. Daar is verskillende tipes wat meestal ligte lugwegsimptome soos verkoue en soms dermkanaalsimptome veroorsaak. Bekende uitsonderings wat baie ernstige infeksies veroorsaak het was die SARS-CoV in 2003, wat ook in China begin het, en die MERS-CoV, in 2012 in Saoedi-Arabië.

Coronavirusse sirkuleer in verskillende diere, maar soms vind kruisoordrag na die mens plaas as gevolg van faktore soos byvoorbeeld ‘n mutasie van die virus. MERS het van kamele gekom en SARS van siwetkatte. Daar is tans geen bewys dat gewone troeteldiere soos katte of honde draers van die 2019-nCoV is nie.

2019-nCoV

Die 2019-nCoV virus se oorsprong is nog onbekend en die oordrag moet nog vasgestel word. Meestal is die oordrag van respiratoriese (lugweg) virusse met druppeltjies wat geproduseer word met hoes of nies, maar ook deur kontak met ‘n voorwerp wat met die virus gekontamineer is. Persone wat die grootste risiko loop om die siekte op te doen, is mense wat met diere in kontak is, soos werkers by markte vir lewende hawe of diereprodukte, of wat kontak het met geïnfekteerde persone. Daar is ‘n moontlikheid dat mense wat geen simptome het nie, wel die siekte kan oordra maar die kanse daarvoor is skynbaar baie skraal. Dit gebeur nie met ander tipe Coronavirusse nie en die druppeltjies word juis versprei as mens hoes of nies.

Simptome van die siekte kan lig tot ernstig wees, met koors en/of hoes, tot asemhalingsprobleme met longontsteking, nierversaking en die dood. Mense met ander chroniese siektes soos asma, diabetes en hartsiektes is geneig om sieker te word as mense wat andersinds gesond was. Tans is die mortaliteitsyfer nog onbekend. Die diagnose word gemaak met sg. PCR-toetse, wat die virus se genetiese voetspoor bevestig. Daar is geen spesifieke entstof of medikasie nie, net ondersteunende behandeling. Antibiotika het geen effek op die virus nie, maar indien daar ‘n meegaande bakteriese infeksie ontwikkel, sal antibiotika voorgeskryf word. Verskillende instansies is ook besig om ‘n entstof of medikasie te probeer ontwikkel. Die beste voorkomende maatreëls is standaard higiëne en om tuis te bly as jy siek is. Dit geld natuurlik ook vir ander siektetoestande.

Volgens ‘n inligtingskaart wat daagliks deur die Johns Hopkins University CSSE opgedateer word, is die situasie tans (7 Februarie 2020) as volg: wêreldwyd was daar 31 486 bevestigde gevalle, waarvan 31 174 op die Chinese vasteland voorgekom het. Daar was nog geen bevestigde gevalle in Suid-Afrika en die res van Afrika nie. Sover het daar 638 sterftes voorgekom waarvan net 1 nie op die Chinese vasteland was nie. Wêreldwyd is 1606 gevalle gerapporteer dat hulle herstel het.

2019-nCoV is op 31 Desember 2019 die eerste keer uit die stad, Wuhan in China, aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) gerapporteer ná ‘n klompie gevalle van longontsteking. Teen 12 Januarie 2020 was al die bevestigde gevalle steeds in Wuhan en die meeste van hulle het by die Huanan seekosmark gewerk of was besoekers of hanteerders van die produkte van die mark. Die mark is dan ook gesluit om nodige skoonmaak- en sanitasieprosesse uit te voer. Op daardie stadium was daar geen duidelike mens tot mens oordrag waargeneem nie en die enkele persoon wat oorlede is aan die siekte het ook ander siektes gehad wat die toestand vererger het.

Teen 30 Januarie 2020 was daar reeds 7711 bevestigde gevalle in China, waarvan  1370 ernstig was en 170 mense het toe reeds aan die siekte gesterf.  Die WHO het 83 gevalle in 18 ander lande gerapporteer waarvan 1 ernstig was. Slegs 7 van hierdie gevalle het in China gereis en dit was dus ‘n bewys van mens na mens oordrag in 3 ander lande. Geen sterftes buite China het tot op daardie stadium voorgekom nie.

Na aanleiding van bogenoemde inligting het die Noodkomitee van die WHO volgens Internasionale Gesondheidsregulasies (IHR-2005) ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang (PHEIC) aangekondig. Aanbevelings aan die WHO is gemaak om voort te gaan om die dierlike bron van die uitbraak verder te ondersoek, die kliniese spektrum en erns van die siekte, mens na mens oordrag in die gemeenskap en in gesondheidsorg-situasies, asook pogings om die uitbraak te beheer. Raad in die verband is ook gegee as tydelike aanbevelings aan China, aan ander lande en ook aan die wêreldgemeenskap.

Die WHO se aanbevelings aan die algemene publiek om blootstelling aan 2019-nCoV en oordrag van die siekte te voorkom, stem ooreen met die algemene hand- en respiratoriese higiëne en veilige voedselpraktyke wat toegepas behoort te word om ‘n menigte ander siektes se verspreiding te voorkom. Meeste hiervan is deel van ons bestaan elke dag, maar skynbaar is dit nodig om dit onder alle mense se aandag te bring.

  • Was hande gereeld met seep en water of ‘n alkoholgebaseerde handwas, al is hulle nie sigbaar vuil nie, veral as siekes versorg word, voor, tydens en na voedselvoorbereiding, voor etes, ná hantering van diere of diereprodukte.
  • Bedek neus en mond met ‘n sneesdoekie (of gebuigde elmboog indien sakdoek nie beskikbaar is nie), gooi sneesdoekie dadelik weg in drommetjie met ‘n deksel en was die hande (en elmboog!)
  • Moet nie in die openbaar spoeg nie.
  • Vermy nabykontak met iemand met koors of hoes, of met ander mense as jyself koors het of hoes.
  • As jy koors, hoes of probleme met asemhaling het, kry vroeg mediese hulp en gee al jou reisinligting aan die persoon.
  • Indien markte met diere of diereprodukte besoek word in areas waar daar ‘n uitbraak van die virus is, vermy onbeskermde kontak met diere of diereprodukte en ook oppervlaktes waarmee dit in kontak was. (Persoonlik sou ek sê dat dit altyd moet geld.)
  • Vermy inname van rou en halfgaar diereprodukte. Rou vleis, melk en diere-organe moet versigtig hanteer word om kruis-kontaminasie met ongekookte voedsel te vermy. Pas goeie veilige voedselpraktyke toe. Gebruik verskillende snyborde en messe vir rou vleis en ander kos en was hande tussen hanterings van rou en gaar voedsel.
  • Moenie diere eet wat siek was nie.
  • Daar is spesifieke aanbevelings vir mense wat werk of inkopies doen in sg. ‘wet markets’ in China en Suidoos-Asië. Weereens om hande te was nadat in kontak met diere of diereprodukte was, nie te raak aan oë, neus of mond nie, vermy kontak met siek en rondloperdiere en bedorwe vleis, asook afval en vloeistowwe in die mark. Beskermende klere en handskoene en gesigmaskers moet gedra word terwyl met diere en diereprodukte gewerk word. Dit moet by die werk uitgetrek en daagliks gewas word. Moenie gesinslede blootstel aan die besoedelde klere en skoene nie. Ontsmet werksoppervlaktes en toerusting ten minste daagliks.
  • Vir reisigers: moenie reis as jy hoes of koorsig is nie, as jy ‘n masker wil dra maak seker dit bedek die neus en mond en moenie daaraan vat as dit eers in posisie is nie. Wegdoenbare maskers moet weggegooi word na een maal se gebruik en was dadelik die hande. Indien jy siek word terwyl jy reis stel dadelik jou reisgeselskap of kajuitpersoneel in kennis en kry mediese advies so gou moontlik.

Ter afsluiting, hierdie is ‘n nuwe coronavirusmutasie wat die mens kan siek maak. Soos met die meeste griepvirusse het die uitbraak in die noordelike halfrond begin waar dit nou winter is. Met die uitsondering van 15 gevalle in Australië word slegs die noordelike halfrond tans geraak.

Neem egter ook kennis van die feit dat die WHO ook beraam dat 290 000 – 650 000 mense jaarliks sterf aan influenza(griep)verwante siektes. Die voorkomingsmaatreëls is dieselfde vir hierdie tipes siektes behalwe dat daar entstof beskikbaar gemaak word teen die drie mees waarskynlike mutasies elke jaar….maar dis dalk nie die een waarmee jy te doene kry nie!

Beskerm jouself!

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes

3 Comments

  • Baie dankie. Ons hoor van die siekte, maar julle gaan uit julle pad, om navorsing te doen en ons van feite in kennis te stel. Dit word waardeer en weereens baie dankie

  • Baie dankie vir die inligting maar ek wil graag its uitvind, eks nou vir 2wke siek, dit voel soos griep wnt my keel e bors brand e voel soms soos naalde wat steek, ek hoes e het hoofpynne wat skrik vir niks, my gestel is af e soms voel dit ek sweef so dik voel my kop, dan as ek its eet of drink raak ek soms naar, 1oomblik brand ek uit van di hutte dan is als wee reg e ek bly die meeste tyd moeg. Dit kan mos gewone griep ook wees, eks amper 8 km van n dorp af e kom nie somer by ander mense nie. Ek kan nie by n dokter uitkom nie want ek het nie transport nie. Wat staan my te doene

    • Beste Marilize,
      Indien jy nie in kontak was met iemand van ‘n area waar die COVID-19 reeds gediagnoseer was voor jy siek geword het nie, hoef jy dit nie as ‘n oorsaak te oorweeg nie. Die eerste geval in Suid-Afrika was in Kwazulu-Natal en het skynbaar eers op 1 Maart vanaf Italië hier aangekom. Aan die ander kant behoort gewone griep sonder komplikasies na 2 weke reeds gesond of baie beter te wees. Dit kan dalk ‘n groter probleem wees en ek dink dat jy ten minste met ‘n dokter wat jou ken, telefonies in aanraking moet kom. Hy/sy behoort te weet weet of jy enige onderliggende gesondheidsprobleme het wat kan bydra tot jou simptome en dan kan julle besluit op verdere optrede. In elk geval moet jy so gou moontlik by ‘n professionele gesondheidspersoon uitkom, al is dit net ‘n kliniek in jou omgewing. Daar moet tog seker bure, vriende, familie of gemeentelede wees wat bereid sal wees om jou ‘n paar kilometer te vervoer. Vra is tog vry. Baie sterkte!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui