Xperiland eksperiment: Wat is melk?
Vlinder in melk…
Melk is hoofsaaklik water, maar bevat vitamiene, minerale, proteïene en klein vetdruppeltjies wat in die oplossing gesuspendeer is. Vette en proteïene is sensitief vir veranderinge in die melk.
Kry die volgende bymekaar (Apparaat):
- ‘n Piering
- Melk
- 2 of 3 Verskillende voedselkleurstowwe
- Skottelgoedwasseep
Wat doen ons hiermee? (Metode):
- Gooi melk in die piering.
- Drup ‘n druppel van elke voedselkleurstof in die melk.
- Drup ‘n druppel skottelgoedwasseep in die middel van die kleurstof.
Waarneming:
Die kleurstof maak fantastiese patrone op die melk!!
Waarom gebeur dit? (Interpretasie)
Die geheim van die reaksie is in die chemie van die seepdruppeltjie. Seep is ‘n bipolêre molekule. Nie-polêr aan die een kant maar polêr aan die anderkant. Hierdie eienskap van seep maak dat die bindings tussen die vet en -proteïenmolekules verswak.
Die seep se polêre kant is hidrofilies (dit HOU van water) en die nie-polêre kant is hidrofobies (dit HOU NIE van water nie). Die kant wat van die water hou (hidrofilies) los op in die water, die kant wat nie van die water hou nie (hidrofobies) bind met die vetmolekule. Dit is hier waar die pret begin.
Die vetmolekules rol, draai en buig in alle rigtings en die seepmolekules jaag rondom die vetmolekule om daarmee te verbind. Gedurende die gimnastieksessie van die vetmolekules word die kleurstofmolekules in alle rigtings gestamp en gestuur! Hierdie is dus ‘n pragtige manier om al die onsigbare aksies sigbaar te maak!!
Wanneer die seep eweredig versprei het deur die melk, sal die reaksie stadiger raak en dan stop. Wanneer die reaksie verby is, neem ‘n wit vel papier en plaas dit op die oppervlak van die melk. Haal vinnig af en laat droog word. Jy het ‘n papierafdruk van die kleurpatrone. Dit lyk soos ‘n pragtige vlinder!