Die Wewersgilde van Pretoria – 70 jaar met ‘n kleurryke agtergrond

Daar is ‘n liefde vir iets baie spesiaal in elke mens se lewe, wat in ons passies uitgeleef word.  Elke wewer vandag is ‘n skakel in ‘n lang geskiedenis-ketting van spin en weef.

Die geskiedenis van spin en weef

Geweefde materiaal het ‘n geskiedenis van ten minste tien-duisend jaar en elke kultuur in die wêreld het deel daaraan. Spin en weef was ‘n integrale deel van die mens se bestaan.  In koue lande is diere se velle en wol gebruik vir klere om hulle warm te hou. In die trope is grasse en riete geweef om die mense teen reën en wind te beskerm. Pottebakkers het geweefde mandjies as vorms gebruik deur dit met klei toe te smeer, te droog en te bak vir huishoudelike gebruik. Pioniers het vlas en katoensaad gesaai, versorg, geoes en voorberei om gespin te word. Geweefde kledingstukke en matte was kosbaar en is vir baie jare deur families gebruik.

Die eerste weefmateriale was van plantaardige oorsprong, soos byvoorbeeld wilgerlatte, riete, boombas, gras, suikerriet, bamboes en palm, en is aangewend om hoofsaaklik gebruiksartikels te maak. Later is leer, haar en wol ook gebruik. Terwyl die mense rondgeswerf het, was daar min vooruitgang in weeftegnieke, maar soos die mens meer gevestig geraak het, is weeframe en spinwiele ontwikkel.  Een van die oudste metodes van weef was om ‘n stel drade aan ‘n horisontaal-groeiende boomtak vas te maak en om dan die weefdrade met klippe te strek.  Die wewer het voor die weefdrade gestaan om te weef.

Die vestiging van weef in Suid-Afrika

In 1901, na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, het Emily Hobhouse wat in 1860 in Cornwall gebore is, na Suid-Afrika gereis. Sy het aktief opgetree om fondse en lewensmiddele in te samel en het hier, ten spyte van groot teenstand omdat sy sogenaamd die vyand wou help, konsentrasiekampe besoek. Haar hulpmiddele was egter ontoereikend vir die haglike omstandighede hier en sy het gevolglik teruggekeer na Engeland. In 1905 was sy terug in Suid-Afrika en het die eerste spin- en weefskool in Philippolis geopen. Spoedig het nog skole gevolg en uiteindelik was daar soveel as tien skole in die Vrystaat en in Transvaal.  Ongelukkig het díe skole stadig agteruit begin gaan en nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het die een na die ander sy deure weens verskeie faktore gesluit. Na die oorlog het die ekonomiese toestand in die land stadig verbeter. Nywerheidsgroei het toegeneem en masjienvervaardigde goedere was meer beskikbaar.

Verskeie dames het oor die jare diep spore in die geskiedenis van spin en weef in ons land getrap. Ons dink hier aan Marga Mayer-Gutter wat vrouens in haar woning in Sunnyside, Pretoria opgelei het sodat hulle ‘n inkomste kon verdien.  Vanaf 1937 tot 1942 het Hester Hoek die land per trein deurreis.  Op elke klein dorpie het sy haar reis onderbreek en in die daaropvolgende week plaaslike vroue die kuns van spin-en weefwerk geleer.

Stigting van Wewersgildes

In 1950 is die Johannesburgse Wewersgilde onder beskerming van Lady Bridget Oppenheimer gestig en in Junie van dieselfde jaar is die Kaapse Wewersgilde met Elsabé Sauer as Presidente gestig. Gedurende 1951, ook onder aanvoering van Elsabé Sauer, is Stellenbosch en Pretoria se Wewersgildes gestig. Met die stigting van die Wewersgilde van Pretoria het 70 vroue die stigtingsvergadering bygewoon. Vir baie jare het die Wolraad nóú saam met die Gildes gewerk.

70-jarige viering in 2021

Die Wewersgilde van Pretoria gaan in 2021 ‘n volle 70-jaar jaar oud wees en wat het nie als oor sewentig jaar gebeur nie?  Met groot dankbaarheid en erkentlikheid kan ons terugkyk oor sewe dekades van bestendige groei en volgehoue entoesiasme onder lede.  Honderde lede het gekom en gegaan. Ons bring hulde aan diegene wat leiding geneem en ook dié wat vandag nog leiding gee. Ons beplan groot feesvieringe met onder andere modevertonings en -uitstallings. Die grootste doelwit is egter om handspin en -weef te bemark en bekend te stel sodat nóg meer mense daarby betrokke kan raak.

Ons werkswyse

Ons Gilde vergader een oggend per maand. Interessante lesings, opleiding en demonstrasies word aangebied en lede is deurlopend besig om nuwe weeftegnieke aan te leer.

Spin- en weefdemonstrasies, tesame met uitstallings, word van tyd tot tyd aangebied. Elke tweede jaar word ‘n “Fibre Breakaway” saam met die Johannesburgse Wewersgilde aangebied wat deur kursusgangers van reg oor die hele land bygewoon word.

Een van ons lede, Marthinus Höll, was onlangs op die TV program Kwêla met sy geweefde baadjies

Die inperking

Loom Exchange” is ‘n baie gewilde projek. Skerings (lengtedrade) vir verskillende weefpatrone word op weefgetoue gesit.  Deelnemers kry ‘n maand tyd om ‘n lap te weef waarna die getoue dan omgeruil word.  Vanjaar se projek was in sy tweede maand toe die inperking ingestel is. Dit het heeltemal ‘n nuwe dimensie aan “Loom Exchange 2020” gegee.  Deelnemers moes nuwe patrone self tuis baasraak.  Weefsters het mekaar op plekke ontmoet om weefgetoue om te ruil.  Almal het volhard en elke deelnemer is nou ses nuwe mooi geweefde lappe ryker.

KragDag 3-5 Desember 2020

Die Wewersgilde van Pretoria beplan weer hierdie jaar om ‘n stalletjie by KragDag te hê.  2019 was ons eerste blootstelling aan KragDag en ons is dankbaar vir die entoesiastiese belangstelling wat ons van die besoekers ontvang het. Die volgende demonstrasies word by ons stalletjie beplan:

  • Voorbereiding van wol- en katoenvesel om daarmee te spin.
  • Spin met ‘n spintol.
  • Spin met ‘n spinwiel.
  • Voorbereiding van ‘n weefgetou – die opstel van die skering (lengtedrade)
  • Weef op ‘n weefgetou.
  • Weef op ‘n raam.
  • Die weef van ‘n handsak om ‘n boks.
  • Weef van ‘n selfoonsakkie om ‘n karton.
  • Kumihimo (maak van ‘n koord).

Besoek gerus ons stalletjie en probeer self spin en weef.  Nuwe wewers is altyd welkom. Inligting oor beginnersklasse en aansluiting sal by die stalletjie beskikbaar wees.

Ons sien daarna uit om deel te wees van KragDag 2020!

Kontak ons per e-pos by ptaweaversguild@gmail.com.

Erkennings:

  • Die verhaal van spin en weef – Die Huisgenoot 17/10/1996
  • Ou nuusbriewe van die Wewersgilde van Pretoria
  • En die mens weef…. ‘n SA Wolraad publikasie 1979
  • Kunshandwerk Die Beeld 27/10/2003
  • Weaving is for Anyone – Jean Wilson
  • Transgariepmuseum – Emily Hobhouse – Vrystaatse Museumdiens 1991
  • Die punt van die wolriem – Johan Coetzer

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui