Xperiland eksperiment: Kristalle

Die bekendste kristalle is sekerlik ‘n diamant, robyn (rooi), saffier (blou) en smarag (groen). Tog is ons in die alledaagse lewe omring deur kristalle. Die bekendste hiervan sal wees: SAND, SOUT en SUIKER. Jy kan kristalle wat in water oplosbaar is redelik maklik self kweek. Jy kan dan ook jou eie kristaltuin maak met die kristalle wat jy gekweek het. Die kristaltuin sal dan vol verskillende kleure en vorms kristalle wees!!

Wat is ‘n kristal? Neem ‘n bietjie sout of suiker en bestudeer dit onder ‘n vergrootglas. Jy sal opmerk dat al die kristalletjies dieselfde vorm het. Al die kristalletjies het reëlmatige hoeke en plat oppervlakte. Verskillende minerale het verskillende vorms!!

 

Om kristalle te groei neem baie dae.

Kristalle groei wanneer ‘n saadkristal aan ‘n toutjie vasgemaak word en in ‘n versadigde oplossing gehang word. Daar moet geen kristalle onder in die houer met die versadigde oplossing wees nie. Die saadkristal moet ook aan niks raak nie. Die kristal groei wanneer die water verdamp. Hoe vinniger die water verdamp, hoe kleiner sal die kristal wees. Hoe stadiger die water verdamp, hoe groter sal die kristal wees. Dus om groot kristalle te groei moet jy jou houer in ‘n donker, koel plek neersit en baie geduldig wag. Een of twee weke.

Kristalle word van sout, suiker, Engelse sout (magnesiumsulfaat), boraks of aluin gemaak.

Maak ‘n kristaltuin

Jy benodig Engelse sout en warm water (nie kokend) asook koekkleursel.

Los ‘n half koppie Engelse sout op in ‘n derde koppie warm water. Voeg ‘n druppel of twee kleursel by. Plaas die oplossing in die yskas oornag. Die oplossing sal pragtige, fyn kristalle vorm. Skink die oortollige oplossing af die volgende more en daar het jy ‘n pragtige kristaltuin.

Ryp op jou venster

Jy benodig Engelse sout en warm water (nie kokend).

Los ‘n derde koppie Engelse sout op in ‘n half koppie warm water. Voeg ‘n paar druppels skottelgoedseep by. Neem ‘n sponsie / lappie en vee die oplossing oor die venster. Die kristalle vorm wanneer die water verdamp het.

 

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui