Word ons deur ‘n narratief-masjien gemanipuleer?
Ongeveer 40 jaar gelede was die media, die groot koerante, televisie en radio, grotendeels onder beheer van die staat. Die enigste manier om die ander kant van die saak te kon hoor was om in die aande in te skakel op buitelandse kortgolfradiostasies soos Radio Moskou, The Voice of America, Deutsche Welle, ensomeer. Regerings kon leuens verkondig, en dit kon jare neem voor die leuens ontbloot word. Só kon die Suid-Afrikaanse regering dit vir jare lank wegsteek dat hulle kernwapens vervaardig het.
In die laat tagtigerjare het die beheer oor inligting begin verkrummel. Satelliettelevisie het beskikbaar geword en internasionale nuus van kanale soos CNN het toeganklik geword in sitkamers reg oor die hele wêreld. Sodoende het dit moeiliker geword vir ‘n regering om iets te verkondig indien CNN iets anders sou vermeld.
In die negentiger jare het hierdie verkrummeling versnel toe internet-tegnolgie vir die man op straat bereikbaar geword het. ‘n Verskeidenheid van nuus en opinies uit verskeie oorde was beskibaar op webwerwe en poslyste. Vir díe wat oorweldig was deur die magdom webwerwe, het Google die lewe maklik gemaak deur met sleutelwoorde toepaslike webwerwe te kon vind. Facebook het die lewe selfs nog makliker gemaak, want nou kon mense skakel met vriende en familie met behulp van die internet. Die effek hiervan is dat mens meer geneig is om iets te glo wanneer dit gehoor word van iemand wat jy self ken.
In die twintig-tien’s het dit duidelik geword dat die internet se invloed wesenlik is, veral omdat heelwat regerings hierdeur omver gewerp is, soos gesien tydens die sogenaamde “Arabiese Lente”. Gevolglik het maatskappye soos Google en Facebook toenemend sensorskap begin toepas om sekere standpunte te onderdruk. Dit het blatant sigbaar geword tydens die Covid-pandemie en het ‘n hoogtepunt bereik toe die president van die VSA van sosiale media verban is.
In die twintig-twintiger jare het dit duidelik geword dat regerings en internasionale organisasies se vermoë om inligting te kan weerhou noemenswaardig vergroot het. Inligting kan dalk nie meer vir jare onderdruk word nie, maar wel vir maande. Dit het dit moontlik gemaak om ‘n valse narratief te verkondig om dan, teen die tyd dat dit uitlek, na ‘n volgende narratief oor te skakel.
So sien ons in die laaste paar jaar hoe vrese opgejaag word deur die een na die ander narratief. Terwyl proteste in Hong Kong begin momentum kry, breek ‘n pandemie uit. Skielik stop die grendelstaat alle proteste en Hong Kong word suksesvol met Sjina geïntegreer. ‘n Tweede golf en ‘n derde golf hou die grendelstaat vir byna twee jaar aan die gang. Toe die grendelstaat begin uitrafel en ‘n vierde golf faal om weer lewe daarin te blaas, word verpligte nimmereindigende inentenings met mening ingevoer. Net soos protes teen die verpligte inentings momentum kry, tennisspelers hardekoejawel speel en vryheidskonvooie op pad is na verskeie hoofstede, breek daar oorlog in die Oekraïne uit.
Daar is geen konsensus oor die oorsake en oogmerke van hierdie onverwagte oorlog nie. Dit kom egter op ‘n baie gerieflike oomblik om die aandag van verleenthede van heelwat Westerse regerings af te lei. Wie weet wat die reaksie van die bevolkings gaan wees? Wie weet watter inligting gaan uitlek? Wie weet wat die onvoorsiene gevolge gaan wees? Wie weet wat volgende gaan gebeur?
Dit lyk of vreesaanjaende narratiewe op ‘n gereelde basis vrygestel word. Soos die een narratief begin uitrafel, kom ‘n volgende na vore. Net soos Boris Johnson se pandemie-partytjieskandaal momentum optel, stuur die oorlog in die Oekraïne dit in die vergetelheid in. Hierdie patroon van vreesaanjaende narratiewe en kontra-narratiewe wat mekaar siklies opvolg behoort ons tot versigtigheid te maan. Voordat jy ‘n Oekraïniese vlag op jou Facebook-profiel plaas en president Putin veroordeel, wag eers tot die volle storie uitkom. Miskien wil jy dalk oor enkele maande ‘n ander vlaggie plaas!
Terwyl die wêreld gefikseer is op die een na die ander narratief, wonder baie mense of dit nie maar net gebruik word om die aandag af te lei van iets groter nie. Die gemeenskaplike faktor tussen al hierdie krisisse is dat dit elke keer gebruik word om meer skuld te maak en meer geld te druk. As die stof gaan lê en ‘n enorme skuldbult sigbaar word, kom daar ‘n nuwe verskoning om nog meer skuld te maak.
Hoekom kan julle skrywers nie ordentlike Afrikaans gebruik. Vir wat “Narratief” as daar pragtige Afrikaanse woorde soos verhaal of storie bestaan.
As hy wil Narrative doen dit in Engels.
Sien asb my kommentaar op die artikel: Vervaardiging van klein modulêre kernaanlegte in Suid-Afrika