Die Pestalozzi Trust

Die Pestalozzi Trust is in 1998 gestig om die vryhede en regte van ouers wat tuisonderwys kies te beskerm. Tydens die vorige bedeling was tuisonderwys onwettig. Ouers wat tuisonderwys gekies het, het tronkstraf gekry. So het Andre en Bokkie Meintjes van Vereeniging het in die vroeë negentigerjare in die tronk beland.

Met die aanbreek van die nuwe bedeling is die Meintjes-egpaar as politieke gevangenes vrygelaat as deel van die algemene amnestie vir politieke gevangenes. Na die aanvaarding van die grondwet, is daar begin met die skryf van ’n nuwe skolewet. Aanvanklik wou wetgewers tuisonderwys weer onwettig maak soos in die verlede. Danksy ’n veldtog van die Vereniging vir Tuisonderwys en die hulp van tuisskolers in die VSA, is daar toe voorsiening gemaak vir tuisonderwys in artikel 51 van die SA Skolewet van 1996. Volgens hierdie artikel moet tuisleerders geregistreer word en die onderwys wat hulle ontvang mag nie van ’n laer standaard wees as die onderwys wat in skole gegee word nie.

Daar was groot vreugde nadat die wet voorsiening gemaak het vir tuisonderwys, en dit het sedertdien het eksponensieel gegroei. Die Vereniging vir Tuisonderwys het egter besef dat die wetgewing waarskynlik tot konflik tussen tuisskool-ouers en owerhede kan lei, omdat die wet nie genoegsame beskerming bied aan ouers wat self wil besluit wat in hul kinders se beste belang is.

Om hierdie probleem op te los, het die Vereniging vir Tuisonderwys besluit om ‘n organisasie te stig wat op ’n volhoubare wyse die regte en vryhede van tuisskoolgesinne sou beskerm om daardeur ’n veilige ruimte vir tuisonderwys te skep. In 1998 is die Pestalozzi Trust gestig, wat vernoem is na Heinrich Pestalozzi, ’n Switserse onderwyskundige. Hy het geglo dat onderwys afgestem moet wees op die unieke persoonlikheid van elke individuele kind, en sy ideaal was dat elke moeder haar eie kinders kon leer. Die feit dat ongeletterdheid in 1830 in Switserland bykans heeltemal verdwyn het, word aan die werk van Pestalozzi toegeskryf.

In die eerste plek beywer die Pestalozzi Trust hom daarvoor om met wetgewers skakel om te verseker dat wette en regulasies die regte en vryhede van tuisskolers omvattend beskerm. Dis om hierdie rede dat die Pestalozzi Trust tans veldtogte loods teen die Wysigingswetsontwerp vir Basiese Onderwys, of die sg. BELA Bill (Basic Education Laws Amendment Bill). Trustees van die Pestalozzi Trust is ook deel van die taakspan wat regulasies ontwikkel vir tuisonderwys.

Tweedens wil die Trust toesien dat alle ouers wat tuisonderwys kies, dit met gemoedsrus kan doen. Ouers moet in vrede kan fokus op hulle tuisonderwys, sonder om besorg te wees oor onregmatige inmenging deur owerhede. Gesinne wat aansluit by die Pestalozzi Trust ontvang ‘n noodnommer van die Trust. As daar ’n konfliksituasie ontstaan, kan ouers die noodnommer bel, en die Pestalozzi Trust kan namens ouers skakel met amptenare. Indien nodig, sal die Trust sy netwerk van prokureurs inspan om geskille in die hof te besleg. Die Pestalozzi Trust is bv. tans besig met litigasie teen die LUR vir Onderwys in KZN. Danksy die bestaan van die Trust is nog geen tuisskoler suksesvol vervolg deur die staat nie, ondanks vele pogings.

Sedert 2012 het die Pestalozzi Trust ook betrokke geraak in die beskerming van die grondwetlike regte van klein skole. Hierdie klein skole het grotendeels ontstaan uit tuisonderwys. Weens hierdie skole se grootte en die diversiteit van programme wat gebruik word, vind hierdie skole dit moeilik om te registreer as onafhanklike skole, soos deur die wet vereis.

Tans is die parlement besig om die BELA Bill te hanteer. Klousule 37 van hierdie wysigingswet is ontwerp om tuisonderwys te transformeer in blote staatsonderwys tuis, soos onlangs geartikuleer deur die Adjunk Minister vir Basiese Onderwys: “It will be brought into one court, one curriculum, directed by one department, be it a homeschooling like what we saw in China. The community based ECD where parents, they come twice a day to get, to be lectured whatever by the specialists. Then they go home, they teach the children, they come the following, they give a report, and they get more lessons to go back to teach to their children. We’ll see what works best for South Africa.” Die Pestalozzi Trust het verskeie veldtogte teen hierdie wysigingswet geloods en parlement moes al enkele konsessies maak. Daar is egter nog baie wat nog gedoen moet word.

Dis nie moontlik vir die Pestalozzi Trust om hierdie drakoniese inmenging in die soewereiniteit van die gesin en die regte van ouers stop te sit sonder die getroue ondersteuning van sy lede nie. Sluit dus gerus aan by die Trust indien u as ouers tuisonderwys kies vir u kinders, of as u ons stryd vir vryheid in die onderwys wil ondersteun.

Sluit aan deur hierdie skakel te volg: https://pestalozzi.org/sluit-aan/.

Kontak ons:
(012) 330 1337
https://www.pestalozzi.org

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems en sy vrou Debbie het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys.
    In 2011 het hy en sy gesin die aanlyn platform SAHomeschoolers.Org gebou, met die doel om die beginpunt te wees vir almal wat belangstel in tuisonderwys en hulle deel te maak van die tuisonderwys ekostelsel. In 2013 het hulle in samewerking met KragDag begin om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
    Bouwe het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by the Universiteit van Stellenbosch verwerf en is ’n geregistreerde professionele ingenieur. Hy speel ook die Franse Horing en is saam met sy kinders in die Bellville Hoër Simfoniese Blaasorkes. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslik inwonersverenigings.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui