Patrone en uitdagings van nuwe bewegings van God in wankelende tye

Een van die roepings van die Kerk vandag is om mense te wys op twee afgronde waarby ons maklik kan afval wanneer ons die tye wil lees. Die een is om elke storie uit die monde van die Hoofstroom Media (HSM) te glo, en die ander afgrond is om nie elke selfaangestelde apokaliptiese profeet wat die eindtye aankondig, heeltemal te glo nie. Ons Skrifgedeeltes lei ons om die Bybel te glo wanneer ons hoor dat God nuwe bewegings in sy Kerk en Koninkryk begin deur middel van krisisse. Vanuit ons Skrifgedeeltes fokus ons daarom op die volgende punte:

  • Die patroon van nuwe bewegings van God in wankelende tye
  • Die uitdagings van nuwe bewegings van God in wankelende tye
  • Die ywer van nuwe bewegings van God in wankelende tye

Die patroon van nuwe bewegings in wankelende tye

Vir konteks lees 1 Sam. 22:1-20

Ons lees hier van Dawid as gesalfde van die Here wat in vernedering lewe, maar ook hoe dat die vernedering begin oorgaan in verhoging. Maar Dawid is die besondere gesalfde koning in die Ou Testament wat heenwys na die groot Gesalfde Koning van die konings, ons Here Jesus. Daarom het die kerkvaders geredeneer dat as iets oor die gesalfde van die Here se vernedering en verhoging gesê word, moet die Kerk van Jesus Christus in die lig van Christus vra hoe dit ons iets leer oor die pad van Christus en sy liggaam, die Kerk se pad in hierdie wêreld. Watter patroon sien ons dus hier waardeur die kerk van Christus opgeroep word om deel te neem in ons tyd?

Ons hoor ook hier van die gesalfde Koning, maar wanneer ons verder lees, hoor ons ook van ’n profeet en later hoor ons ook van ’n priester. Ons hoor van ’n klompie mense wat deur die beskikking van God saam begin vergader en ons hoor selfs van ’n klein weermag daarmee saam. Dit is nie vergesog om te stel dat ons hier iets sien van die vernuwing van ’n volk en koninkryk nie. En die verstommende is dat dit begin ontluik toe dit werklik lyk of alles nou verby is. Die spelonk van Adullam staan hier eintlik in die teken van die einde en van die dood. Dawid het nêrens meer om heen te vlug nie, behalwe na hierdie spelonk. Dit dui op die uiterste laaste. Grotte is dikwels in die Bybel plekke van nood en die dood. Dikwels was dit ook die plek van grafte. Maar dit bring gelowiges natuurlik ook alreeds by verwagting, want ons dien mos die God wat spesialiseer in lewe uit die dood. Dit is belangrik en die geskiedenis van die kerk bevestig dit. Hoeveel keer in die geskiedenis al het mense gemaak asof die Kerk van Christus sogenaamd irrelevant geraak het, en telkens het die Kerk herrys saam met hulle Verlosser wat die enigste nuwe era reeds ingelei het.

Die uitdagings van nuwe bewegings in wankelende tye

Toe dit lyk of alles ten gronde gaan, alle opsies uitgeput is, alles daarmee heen is, neem ons alreeds die eerste tekens waar van nuwe lewe wat al hoe duideliker vertoon. En dit is ’n patroon in die Skrif. Ons God het behae in skynbare doodloopstrate. Want dit is waar ons geloof uitgedaag word en waar ons besef dat ons regtig net op God kan vertrou. En daarom mag ons ook op die uitkyk wees op die Addulams in die geskiedenis en ook in ons tyd vra of daar nie dalk Adullams in ons eie lewe en eie tyd is nie. Streng gesproke behoort elke gesonde kerk waar die gesag van Christus via die ampte van profeet, priester en koning bedien word, ’n Adullam te wees. Maar in hierdie wankelende tye sien ons deur God se genade ook tekens van verskeie ander Adullams waar mense begin vergader vanuit allerlei verrassende oorde. Ook by ’n geleentheid soos KragDag se uitstalling, word ons bewus van baie instellings wat klink soos klein Adullams, en ons mag opgewonde wees oor wat God besig is om te doen.

Want nuwe dinge gebeur nie los van uitdagings nie. Ons verneem van wat ons vandag sou kon noem staatsverval in Israel. In die vorige hoofstukke tot by ons gelese gedeelte verneem ons hoe Saul op die verskillende verbondsterreine ontrou word – familie, kerk en staat. En skrikwekkend, hy, Saul, wat nie die oorloë van die Here getrou wou voer met Amalek nie, is nou al by die punt waar hy oorlog voer teen die dienaars van die Here. Hy laat vermoor die priesters van Nob in ’n massa-moord. Net Abjatar ontvlug. En nou moet ons onthou dat God dit gebruik, ook om die oordeel oor die huis van die hoëpriester Eli se nageslag te begin voltrek soos wat geprofeteer is, omdat Eli sy seuns nie daadwerklik vasgevat het nie toe hulle die Kerk van die Ou Testament in die oë van die volk veragtelik gemaak het. Dit is natuurlik ook vir ons ’n geweldige waarskuwing oor kerkspeel en kompromie in die Kerk. Ons moet die Here smeek dat, indien dit in sy raad mag bestaan, dit nie toenemend hierdie afmetings in ons land en in die wêreld sal begin aanneem nie. Die werklikheid van die valse Kerk as valse profeet in die hand van die staat is nie denkbeeldig nie. En die tragiese hier is dat die mense rondom Saul te lam is om die toenemende tirannie teen te gaan. En ons herinner ons weer wat die mense by die Nuremberg hofsake na die tweede wêreldoorlog se verwere was: “Ek het maar net bevele uitgevoer.” of “my hande was afgekap.” Laat ons ook geen illusie hê nie. Tirannie in die staat, al is dit ook aanvanklik in ’n sagte vorm, word erger as daar nie ’n daadwerklike ommekeer plaasvind nie. Dit is die uitdagings wat ons gelese gedeelte onder ons aandag bring. En tog, so word sekere profesieë hier vervul en blyk dit terugskouend stuiptrekkings te wees. Ja, toe die ergste op aarde gebeur en die Seun van God gekruisig word, blyk dit die voorspel te wees tot die beste nuus van alle tye.

En te midde hiervan is die gesalfde en sy volk wat rondom Hom vergader getrou. Daar word byvoorbeeld nie voortydig na die mag van Saul gegryp nie. Wanneer die Here guns gee, leer steeds om te wag op die Here se tyd. Laat Hy die werke van die hand bevestig en bly getrou in die kleine. Want as ons nie in die kleine getrou kan wees nie, hoe kan ons verwag om met meer vertrou te word? Ons moet leer om volwasse in die geloof te word. Dit is ’n organiese en intieme proses en geen skielike getalle gaan dit verander nie.

En Dawid het in die nuwe volk wat rondom hom vorm genoeg gehad om aan te werk. Ons lees in vers 2 dat die wat by hom aangekom het benoud was, skuld gehad het en verbitterd was. Nou nie die mees ideale klomp mense met die beste motiewe nie. Party was net moeg genoeg van al die onderdrukking en skuld en swaarkry dat hulle bereid was om hulle bekende gemaksones te verlaat en by Dawid aan te sluit. En hierdie mense moes begelei word in die Woord van die Here. Die Kerk het steeds ’n taak om mense te bedien met die reinigende krag van die Woord. Elke ekstreme linkse of regse wat gefrustreerd is met die heersende toestande, is nie per definisie gereed om as instrument van God in sy koninkryk op te tree nie. Soms moet hulle soos die Kretense sterk bestraf word soos wat Paulus vir Titus beveel. En terwyl ons met hierdie werk besig is, op God te wag om die wasdom te gee. En terwyl ons in die kleine getrou is, natuurlik met ywer getrou te wees en dit nie gering te skat nie.

Die ywer van nuwe bewegings in wankelende tye

Vir konteks lees 1 Kr. 11: 10,15-19

Want sien, as gesalf met die Gees van die Here, het Dawid se ywer reeds met die leeu en die beer na vore getree. En dit het hom weer gereed gemaak om ook kans te sien vir die reus, Goliat. En as ons verneem van Dawid se helde, sien ons ook waartoe sy getrouheid en heldhaftigheid gelei het. Ook sy makkers begin soos hy op te tree en ook reuse te verslaan. En in 1 Kr. 11 lees ons van een besondere gebeurtenis wat die mense daarna lank bygebly het, sodanig so dat dit spesiaal opgeteken is. Dawid voel ’n begeerte in hom opkom na die water van Betlehem waar hy grootgeword het en so goed geken het. En toe is dit deur die Filistyne beset. En in ’n skynbaar onbewaakte oomblik vra hy wie vir hom water sal bring. Sy voorste manskappe is so ywerig dat drie van hulle deur die linies breek en onder doodsgevaar dit vir Dawid gaan haal. En Dawid besef toe dat hulle hierdie water eintlik met hulle bloed en hulle lewe – hulle siel – gekoop het. En hy kan tog nie as koning sulke water drink asof hulle hul lewe moet waag vir sy plesier nie. En daarom weier Hy, want Hy sien raak dat sulke water net aan die Here self as offer gegee kan word.

As sulke ywerige stryders bereid was om dit te doen vir die gesalfde wat maar net heengewys het na die groot Gesalfde, hoeveel te meer sal ons dan nie met ywer ons alles in die stryd werp om deur die linies van die vyand vir die groot Gesalfde nie? En dit gebeur soos by hulle nie deur op ons ywer te fokus nie. Nee, dit gebeur deurdat ons BeGeesterd raak deur die dade van die groot Gesalfde. As Hy nie sy lewe ontsien het nie, as Hy die dood oorwin het en ’n toegang gemaak het tot die ewige heerlikheid, wat hou ons dan terug? Ons het al die rede in die wêreld om met ywer in God se diens te staan. Die doel is nie ’n lang lewe in die eerste plek nie, maar ’n ywerige lewe in diens van die Koninkryk.

Want dit moet ons weet – dit is hoe God bepaal het dat sy koninkryk kom – deur sy soewereine beskikking wat ons daarin laat deel deur ons siel daarin te plaas. Dawid verwys na die lewensgevaar wat letterlik neerkom dat hulle hul siel, hul nephesh op die spel geplaas het. Hulle het dus met hulle hele wese die stryd aangeknoop vir hom. En ons kan ook, want Christus het eerste sy lewe vir ons oorgegee. Dit is maklik om van nuwe bewegings van God te praat en dat ons daarmee geassosieer wil wees. Maar laat ons ook duidelik verstaan dat dit ons siel vra, juis omdat liggaam en siel, in lewe in sterwe, nie meer aan ons behoort nie, maar aan ons getroue Saligmaker wat met sy dierbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het, en ons so bewaar dat sonder die wil van ons Hemelse Vader, geen haar van ons hoof kan val nie, ja ook dat alles tot ons saligheid moet dien. Daarom verseker Hy ons ook van die ewige lewe en maak Hy ons van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (Heidelbergse Kategismus 1).

Amen

Hierdie artikel is ‘n verkorting van die boodskap van prof. Alwyn Swanepoel by die 2022 opening van die AP Akademie, ‘n tersiêre akademiese instelling wat toenemend ‘n Adullam in ons samelewing word.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Professor Alwyn Swanepoel
  • Professor Alwyn Swanepoel
  • Alwyn Swanepoel is 'n predikant wat dekaan is van die fakulteit Lettere en wysbegeerte by die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy het sy doktorsgraad in die sistematiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf in 2011 en is sedert 2016 dosent by die APA.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui