‘n Nuwe politieke bedeling
Die Afrikaner-verklaring het ‘n nuwe bedeling in die Suid-Afrikaanse politiek ingelui.
Die vorige bedeling was gebasseer op ‘n unitêre bekwame Suid-Afrikaanse staat waarin die regte van almal, ongeag ras, geslag, kultuur, godsdiens ens. beskerm word deur ‘n regstaat gebasseer op ‘n grondwet. ‘n Reënboogboot waarop daar plek is vir almal, bestuur deur ‘n grondwet wat deur prominente regslui geprys is as een van die bestes in die wêreld. Met hierdie nuwe bedeling kon Suid-Afrika toetree tot die internasionale gemeenskap as ‘n gerespekteerde speler. ‘n Speler waarby ander wat verskeur word deur interne geskille ‘n paar lesse kan leer.
Dertig jaar later raak dit duidelik dat daar groot gate in die romp van die reënboogboot is. Wette en regulasies wend die mag van die staat aan om die rassesamestellings van besighede, onderwysinstellings, sportspanne ens. tot in die fynste besonderhede af te dwing. Korrupsie en wanbestuur het die bekwaamheid van die staat om dienste te verskaf en regte te waarborg vernietig. Pogings om rasbehepte wetgewing en staatsverval te stop deur die stembus of litigasie of kommissies het byna geen verskil gemaak nie, met die moontlike uitsondering van die Weskaap. Daar is ‘n groeiende besef dat die reënboogboot besig is om te sink in ‘n see van armoede en anargie. Alhoewel die ANC in staat was om die staat en homself in ‘n rekordtyd te vernietig, is Suid-Afrika nie uniek nie, want wêreldwyd het die tradisionele liberale demokrasie sy rakleeftyd bereik.
Baie hoop dat die 2024 verkiesing ‘n verskil kan maak. Kiesers word bederf met ‘n smorgasbord van oplossing om die reënboogboot te red. Of daar ‘n dis op die smoragsbord is wat genoeg mense kan inspireer om ‘n nuwe party met vars denke aan bewind te plaas is ‘n ope vraag. Daar is hoop dat ‘n koalisieregering ‘n verskil kan maak, maar ook vrees dat eindelose rusies tussen koalisievennote die hoop kan beskaam.
Buite die partypolitiek is egter ‘n nuwe beweging besig om momentum op te bou. ‘n Beweging wat deur vrywillige bydraes van sy lede befonds word en dit gebruik om belange van ‘n spesifieke kultuurgroep op ‘n volhoubare wyse te bevorder. Dit probeer nie die onbegonne taak om die reënboogboot te herstel aan te pak nie, maar doen gefokusde kleinskalige projekte wat ‘n verskil maak in die lewe van ‘n klein hoeveelheid mense en organies kan groei oor tyd. Omdat sy beplanningshorison nie beperk word tot die volgende verkiesing nie, kan dit langtermyn dink. Hierdie beweging is reeds dekades aan die gang en sy sukses begin nou sigbaar word in die vorm van nuwe onderwysinstellings, dorpe, energiestelsels, ens.
Wanneer sulke bewegings aan gemeenskap dienste soos veiligheid, water, onderwys, elektrisiteit ens. voorsien skuif dit paradigmas. Volgens die paradigma is dit moontlik vir gemeenskappe om self hul eie basiese dienste te verskaf sonder die hulp, toesig of toestemming van ‘n staat. Die Afrikaner Verdrag skep ‘n raamwerk waarbinne hierdie nuwe paradigmas uitgeleef kan word. Dit formaliseer die idee dat gemeenskappe hulle eie reddingsbote kan bou terwyl die reënboogboot onvermydelik sink.