Het die BELA-wetsontwerp alle gapings gesluit wat nie-registrasie kan regverdig?
Sedert 1996 het die SA Skolewet voorsiening gemaak vir tuisonderwys, op voorwaarde dat ouers hulle kinders registreer en voldoen aan sekere beperkende voorwaardes. Meeste ouers het egter geweier om te registreer omdat hulle van mening was dat daar afdoende redes om nie te voldoen aan die beperkende voorwaardes nie. Alhoewel daar nie duidelikheid was oor watter afdoende redes aanvaarbaar is nie, het onderwysowerhede nooit ernstige pogings aangewend om voldoening af te dwing nie.
Die BELA Wet van 2024 het die hoeveelheid beperkende voorwaardes vir tuisonderwys verhoog deur die nasionale kurrikulum voor te skryf asook gereelde assesering deur eksterne assessors.
Sommiges beweer dat die BELA Wet nou “alle wettige gapings toegemaak” het en dat daar nie meer afdoende redes is om te weier om te registreer nie. Hulle glo dat as ouers nalaat om te registreer binne 30 dae vanaf die datum dat die BELA Wet van krag geword het, provinsiale departemente amptenare gaan mobiliseer om ongeregistreerde tuisskolers te vervolg wat daartoe kan lei dat swaar tronkstrawwe opgelê kan word.
Hierdie boodskap het vrees onder ouers veroorsaak. Sommige ouers probeer gemoedsrus vind deur aansoek te doen om te registreer en te voldoen aan die beperkende voorwaardes. Ander besluit dat dit veiliger is om onder die radar te tuisskool. Dit lyk of die dae verby is dat ouers met vertroue weier om aan onwettige beperkende voorwaardes te voldoen, sonder om dit weg te steek.
Om egter te beweer dat daar geen afdoende redes is om nie te registreer nie beteken dat alle moontlike besware teen registrasie deeglik ondersoek is en bevind is dat daar geen afdoende rede is om te weier om te registreer nie. Om te verwag dat ouers hulle vryhede maar moet prysgee sonder ‘n jarelange deeglike en omvattende ondersoek om 100% seker te maak daarvan, is nogal roekeloos.
Om die gesprek oor hierdie saak te begin is ‘n ondersoek gedoen na moontlike afdoende redes om nie te registreer nie. Kliek hier om die artikel te lees wat die registrasievoorwaardes vergelyk met die grondwet en ander wette en bevind dat verskeie beperkende voorwaardes nie in lyn is met die grondwet nie, en ook geen basis het in die grondwet nie.