Vervaardiging van klein modulêre kernaanlegte in Suid-Afrika

Terwyl die elektrisiteitsopwekking deur koolstofvrystelling geïnhibeer word, word die mens se behoefte aan elektriese energie daagliks groter. Om hierdie rede het wetenskaplikes en ingenieurs begin om met nuwe oë na kernenergie te kyk. Die gevolg hiervan was dat die Europese Unie onlangs vreedsame kernenergie selfs as ‘n “groen”-energie ” verklaar het. Terselfdertyd het ‘n aantal Afrikaleiers die begeerte uitgespreek om kernaanlegte vir hulle eie lande aan te skaf. Hierdie verwikkelinge skep ‘n geleentheidsvenster vir die ontwikkeling van klein modulêre kernaanlegte – soortgelyk aan die korrelbedkernreaktor wat vroeër deur Suid-Afrika ontwerp is.

In die onderstaande Raadsaalaanbieding, wat tydens KragDag 2021 opgeneem is, word die moontlikheid vir Suid-Afrikaanse ondernemings ondersoek om binne die volgende paar jaar modulêre kernkragopwekkers van wêreldgehalte te vervaardig. Daar word ook gekyk hoe dit in ‘n energiestrategie geïnkorporeer kan word.

Biografie van Francois Mellet

Francois het meer as 40 jaar ondervinding as elektriese ingenieur waar hy betrokke was by die bedryf en instandhouding van elektriese stelsels. Sy kwalifikasies sluit in ‘n Diploma in Elektriese Ingenieurswese, ‘n Staatsbevoegdheidssertifikaat asook ‘n Projekbestuurssertifikaat.

Hy het meer as 19 jaar ervaring by ESKOM in Transmissie en Opwekking, spesifiek by die Koeberg Kernkragsentrale, as indiensstellings-, bedryfs- en projekingenieur. In daardie tydperk het hy ook blootstelling gehad aan die Europese kernkragbedryf. Die laaste 5 jaar by ESKOM was hy as instandhoudingsbestuurder by die Matimba-kragstasie werksaam.

Hierna sluit hy by IRCA Global aan om kliënte te evalueer, te ontwikkel en op te lei in ingenieursbedryf en -instandhouding, ISO-sertifisering asook riskobepaling in terme van SWIFT- FMECA- en HAZOP-tegnieke.

Sedert 2002 was hy vir 5 jaar betrokke by ‘n groot projek in Frankryk wat te doen gehad het met ondergrondse laboratoriumkonstruksie vir die uiteindelike berging van hoëvlakaktiwiteit- en langlewensduur-kernafval.

Vanaf 2007 bestuur Francois ARINT Suid-Afrika se Ingenieurs- en SHEQ-dienste wat ingenieursdienste aan ‘n verskeidenheid bedrywe soos kragsentrales, watervoorsieningstelsels, mynbou en die verwerking van minerale verskaf.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

2 Comments

  • Geinhibeer? Dom twat, wat van kniehalter of beperk. Probeer Afrikaans vir n verandering!

    • Goeie dag mnr Muller
      Ek antwoord u bloot omdat ek my standpunt oor hierdie saak, as redakteur van die KragDagnuusbrief, ook aan ander lesers wil motiveer. Uit die staanspoor erken ek dat ek en ook my gebruik van Afrikaans nie noodwendig ‘n norm vir die ordentlike gebruik van Afrikaans is nie. Ek is maar bloot ‘n gebruiker van Afrikaans. Nietemin sou ek graag wou verneem wie u dink daardie persoon, persone of instansie is wat die norm vir ordentlike Afrikaans sou bepaal.
      Dit is wel waar dat ek nie ‘n voorstander is dat Afrikaans met Engelse woorde gemeng moet word nie. Verder vind ek die klakkelose verafrikaansing van Engelse woorde ook onaanvaarbaar.
      Maar wat ook waar is, is dat kennis teen ‘n enorme tempo vermeerder… en dit gebeur grotendeels in Engels. Hierdie vermeerdering van kennis met die gevolglike begrippe wat benoem moet word veronderstel dat ‘n lewende taal by hierdie veranderinge by moet bly – so nie – stagneer ‘n taal. Jy praat sekerlik in jou beroep van diodes, transistors, transformators, transmissielyne, ens. Kwalifiseer hierdie woorde as “ordentlike” Afrikaans? Hoe gaan jy jou uitdruk as daardie woorde nie in jou Afrikaanse woordeskat is nie? Terwyl die wêreldlandskap aan’t verander is moet jy gedurig alternatiewe woorde soek wat die betekenis (en ook emosie) beter vasvang om lesersbegrip te verhoog. In u skrywe aan Bouwe – “Word ons deur ‘n narratief-masjien gemanipuleer?” – het u dit teen die gebruik van die woord narratief. Toegegee, ek sal sekerlik nie aan my kleinseun ‘n slaaptydnarratief vertel of ‘n Bybelnarratief voorlees nie! Maar, in die politieke wetenskap het ‘n begrip ontwikkel van ‘n “storie” wat gewoonlik ‘n leuen of ‘n halwe waarheid is waarvolgens gebeure, dikwels geskepte gebeure beoordeel word ten einde politieke verandering en doelstellings teweeg te bring. ‘n Storie, verhaal, relaas, vertelling of sprokie werk doodeenvoudig nie. Verder het die gebruik van hierdie woord die verdere emosionele voordeel deurdat dit ‘n negatiewe gevoel skep – soos wat dit met die Engelse woord “apartheid” reggekry is.
      Maar daar is ook ‘n ander argument ter ondersteuning vir die gebruik van die woorde “inhibeer” en “narratief”. Beide narratief en inhibeer is nie Engels van oorsprong nie. Die Engelse taal het hierdie woorde narrare en inhibere gaan leen uit Latyn en dit verengels. Dit is mos sinvol wanneer ‘n nuwe woord vir ‘n nuwe begrip geskep kan word deur die klassieke tale Latyn en Grieks as bron vir ‘n nuwe woord te gebruik. Die Engelse taal het sekerlik nie ’n alleenreg om klassieke tale op so ‘n manier te benut nie. Terloops, wat dalk ook sinvolmag wees, is om ou argaïse (is dít ordentlike Afrikaans?) woorde af te stof en nuut te gebruik. So was ons met ‘n onlangse artikel opsoek na ‘n woord vir hub motor wat ons vertaal het met naafmotor.
      Mnr Muller, ek steun u Afrikaanse sentimente, maar met u emosionele reaksie op KragDagskrywers se pogings om goedversorgde lekkerlees artikels in Afrikaans te publiseer het u myns insiens uself bo-oor die perd getel. Ons is oop vir voorstelle. In ‘n artikel wat op arbeidsfaktore in ons nuusbrief betrekking gehad het, het ek die woord drywingsfaktor gebruik. ‘n Leser het ons daarop gewys dat arbeidsfaktor reeds ‘n gevestigde woord vir hierdie begrip is. Uit hierdie leser se reaksie kon ons iets leer.
      NS – u gebruik van die woord “twat”. Behalwe dat dit ‘n Engelse woord is vir ‘n dom of onaangename persoon het dit ook nog ‘n baie ongure betekenis.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui