Waarom verwerp tuisskolers die “BELA Bill”?
Die openbare verhore oor die Wysigingswetsontwerp vir Basiese Onderwys, beter bekend as die BELA Bill, het onlangs plaasgevind. In hiérdie verhore staan die een na die ander tuisskoler op en verwerp klousule 37, die deel van die BELA Bill wat handel oor tuisonderwys. Veral tydens die verhore in Pretoria en die Wes-Kaap het die tuisskolers oorheers. Hulle ontvang goeie ondersteuning van verteenwoordigers van die ACDP en die DA. Selfs die beroemde “Big Daddy Liberty” het in Durban ’n lansie gebreek vir tuisonderwys.
Die redes waarom tuisskolers dié wetsontwerp met passie verwerp is legio. Elke ouer het sy eie unieke en outentieke redes. Hierdie artikel probeer ’n opsomming gee van die hoofredes. Op ’n hoë vlak kan hulle verdeel word in prosedurele en substantiewe redes.
Prosedurele redes
Klousule 37 is ontwerp om tuisonderwys onmoontlik te maak. Alhoewel die BELA Bill op sigself nie tuisonderwys onmiddellik onmoontlik gaan maak nie, skep dit ‘n omgewing waarin tuisonderwys oor tyd vir alle praktiese doeleindes verban kan word, deur onbeperkte regulatoriese magte aan die minister te gee. Die aanvaarding van die BELA Bill kom neer op ‘n gestadigde doodsvonnis vir tuisonderwys.
As wette geskryf word, is dit ’n voorvereiste dat daar ’n Sosio – Ekonomiese Impakstudie (SEIS) gedoen word, sodat wetgewers die impak van die wette sal verstaan wat hulle oorweeg. Die SEIS wat gedoen is vir die BELA Bill bevat wel ‘n impak-analise van klousule 37, maar dit is egter ontoepaslik en onvoldoende. Dit bevat slegs ’n enkele kosteberaming van ‘n assesserings wat irrelevant vir tuisonderwys is. Dit beoordeel ook nie die kostes van die ander aspekte van klousule 37 nie en ook nie die kostes vir die staat nie. Indien alle tuisleerders in skole geplaas sou moes word, sou dit die staat biljoene rande kos. Hierdie uitgawe word nie in aanmerking geneem nie.
Wetgewing moet op navorsing gebaseer wees. In ’n vergadering in die parlement het die minister erken dat die onderwysdepartement geen navorsing oor tuisonderwys gedoen het nie. Ondanks die feit dat hierdie ‘n beleid van die onderwysdepartement is, dat dit ’n vereiste van die SEIS is en, dat dit aanbeveel word deur die departement se eie konsultant, het die minister besluit dat… navorsing nie nodig is vir tuisonderwys nie. Daar is dus geen bewese noodsaak vir die regulering van tuisonderwys nie.
Omdat Suid-Afrika ‘n deelnemende demokrasie is, moet wetgewing geskryf word in konsultasie met diegene wat hierdeur geraak word. Die onderwysdepartement het egter geen sinvolle konsultasie met die tuisonderwys-sektor gehad nie en geen formele konsultasie forums is gestig soos vereis word in die “National Education Policy Act” nie.
Klousule 37 is gebaseer op ’n konsepbeleid vir tuisonderwys van die Weskaapse Onderwysdepartement wat in 2014 vir kommentaar gepubliseer is. Weens die heftige reaksie van die tuisonderwysbeweging het die destydse LUR vir onderwys, Donald Grant, die beleid binne weke teruggetrek. Alhoewel die skrywers van die BELA Bill geweet het dat tuisskolers hierdie beleid verwerp, het hulle voortgegaan om sonder ’n deeglike impakstudie, navorsing of konsultasie die bepalings van die Weskaapse beleid in klousule 37 te plaas.
Substantiewe redes
Volgens klousule 37 mag ouers nie tuisonderwys gee sonder toestemming van die staat nie.
Tuisonderwys is egter ’n basiese mensereg. As ouers moet toestemming vra vir tuisonderwys, dan is dit immers nie meer ’n reg nie, maar ’n voorreg? Tydens die openbare verhore het baie Christen-ouers tekste uit die Bybel aangehaal wat daarop dui dat ouers ’n Goddelike opdrag het om hulle kinders te onderrig. As die hoogste gesag aan ouers die opdrag gee om hulle kinders te onderrig, waarom moet hulle toestemming vra? Verder is onderwys slegs een aspek van die ouerlike sorg waarop kinders geregtig is. Waarom het ouers toestemming nodig om aan hulle kinders onderwys te gee, terwyl hulle sonder toestemming aan hulle kinders voedsel, mediese versorging, veiligheid, ens. kan gee?!
Die vereiste van toestemming ondermyn ook aanspreeklikheid. As die staat ouers toestemming verleen om tuisonderwys te gee, en die tuisonderwys is nie in die belang van die kind nie, wie gaan aanspreeklik gehou word? As ouers nie toestemming kry nie, hulle kinders terugstuur skool toe en die kinders word aangerand by die skool en vorder nie akademies nie, wie gaan aanspreeklik wees?
Klousule 37 gee ook die mag aan die minister om leerplanne voor te skryf. Elke kind is egter uniek, en slegs ouers kan bepaal watter leerplan in die beste belang van hulle kinders is. Behalwe dat voorgeskrewe leerplanne kan indruis teen die ouers te oortuigings en waardes, kan dit ook nadelig wees vir kinders, omdat dit nie afgestem is op die kind se unieke vermoëns en aanlegte nie.
Klousule 37 vereis ook dat tuisleerders gereeld geassesseer moet word deur staatsgeregistreerde assessors deur gestandaardiseerde toetsing. Behalwe dat sulke assessering onbekostigbaar vir baie kan wees, is dit nie gepas om standaardtoetse te gebruik as ouers ‘n diversiteit van leerplanne gebruik nie. Ook dien sulke assesserings geen doel nie, want BELA Bill gee geen aanduiding van wat gebeur as die leerder swak vaar in die assesserings nie. Laastens is dit diskriminerend dat tuisleerders gereeld eksterne assesserings moet ondergaan, terwyl leerders in skole dit slegs in matriek hoef te doen.
Die pad vorentoe
Weens al die probleme hierbo, verwerp tuisskolers klousule 37 van die BELA Bill. Hulle is wetsgehoorsame ouers wat bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar. Baie ouers het daarom voorgestel dat dit voldoende is as hulle die onderwysdepartment slegs in kennis stel van hulle tuisonderwys. Met ‘n kennisgewing aanvaar hulle aanspreeklikheid vir die onderwys van hulle kinders. Indien iemand vermoed dat sekere ouers hulle kinders se onderwys verwaarloos, is daar reeds legio kanale in die kinderwet waardeur verwaarlosing aangemeld en aangespreek kan word. Hierdie vorm van regulering behoort voldoende te wees om kinders te beskerm, tot tyd en wyl onafhanklike navorsing gedoen is en leemtes uitgewys is wat deur verdere wetgewing aangespreek kan word.
Die regering het geen reg tot die besluite van die ouers insake hul kinders se toekoms insluitend hul opvoeding. Abba Vader laat die ouers toe om hierdie besluite te neem. Die anc regering kan nie eens hulself opvoed en regeer wat nog te sê van ONS kinders. BELAGLIK. GOOI HUL UIT.
God word nie in die Suid Afrikaanse Grondwet erken nie en daarom eien die huidige regime homself die reg toe om opdragte aan die samelewing te gee gebasseer op sy eie verwronge idee van wat heilsaam vir ons as inwoners is.