Toenemende getal ouers sorg self vir hulle kinders se onderwys

Die Gauteng Tuisonderwys Ekspo (met inhoud heelwat breër as tuisonderwys) van twee weke gelede, waarvan KragDag ‘n mede-organiseerder is, het hierdie jaar ‘n rekord bywoning gehad.

Daar is geen betroubare amptelike syfers oor die hoeveeheid tuisskolers in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar ‘n syfer van meer as 100 000 tuisskolers is nie onrealisties nie. Dit is duidelik dat ouers in toenemende mate hierdie opsie kies in die voorbereiding van hulle kinders vir die snelveranderende wêreld waarin ons leef. Daar is talle verskillende redes waarom mense wegbeweeg van veral staatsonderwys. Dit sluit in spesiale behoeftes van kinders, reaktiewe redes soos die gehalte van onderwys in Suid-Afrika, die kurrikuluminhoud en sosiale euwels by skole. Daar is ook baie vir wie dit nie die tweede beste opsie nie, maar die voorkeur keuse om die beste vir hulle kinders te gee, die primêre oordrag van ‘n lewenskouing te verseker en om kinders toe te rus met lewens- en oorlewingsvaardighede wat meer is as net kennis. William Butler Yeats het by geleentheid gesê “Onderwys is nie die volmaak van ‘n emmer nie, maar die aansteek van ‘n vuur.”

Alhoewel die Tuisonderwys Ekspo hoofsaaklik gerig was op gesinne wat tuisonderwys ondersoek, het dit ook nuttige oplossings en hulpmiddels vir kinders gebied wat in ‘n formele skool is. Hierbenewens is daar by die ekspo verskeie kurrikulums uitgestal, ‘n wye spektrum van werkswinkels en seminare aangebied, praktiese demonstrasies gedoen en was daar selfs verskeie instansies wat spesialis of na-skoolse opleidingsgeleenthede bekend gestel het.

Die volgende tuisonderwys ekspo vind op 14 Oktober in Kaapstad plaas en word deur KragDag gereël in samewerking met die Cape Home Educators en die Vereniging van Tuisonderwys. Meer besonderhede is beskikbaar by www.homeschoolexpo.co.za

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui