Nog meer akwaponika op die pad na gesonde voedsel-selfstandigheid

Die akwaponika wêreld is op 9 September oopgebreek vir die 75 wat die Inleiding tot Akwaponika seminaar  bygewoon het. Die KragDag organiseerders was verras deur die reaksie en belangstelling in die onderwerp. Akwaponika (gekombineerde vis- en groenteverbouing) is ‘n omvangryke onderwerp en hoewel die seminaarprogram deur Colin Bremner van Kleinskuur Aquaponics gepak was met ‘n magdom leersame inligting, is daar nog heelwat te ontgin vir diegene wat dieper wil ingrawe. Met meer as drie-kwart van die teenwoordiges wat aangedui het dat hulle beslis die seminaar by vriende sal aanbeveel, is een van die terugvoere wat ons ontvang het dat dit ‘n lewensveranderende belewenis was wat ‘n asemrowende manier bied om ‘n lewe te maak. Nog ‘n persoon het na afloop van die geleentheid die oortuiging gedeel dat akwaponika die wyse van voedselvoorsiening vir die toekoms is. ‘n Paar mense het na afloop van die seminaar aangedui dat hulle dit graag kommersieel sal wil beoefen en tagtig persent het aangedui dat hulle ‘n huishoudelike stelsel sal wil oprig.

Nog ‘n genotvolle hoogtepunt tydens die dag was die akwaponiese middagete bestaande uit tilapia (kurper) vis en slaai (deels akwaponies verbou) wat volgens die terugvoer ‘n treffer was – vir meeste was die besondere smaakvolheid van die heel varswatervis ‘n groot verrassing.

Na verskeie versoeke is besluit op ‘n herhaling van die kursus vroeg in 2018, maar van buite die geledere van die KragDag-gemeenskap was daar ook versoeke van verskeie Engelssprekendes en word ‘n Engelse weergawe van die kursus op 11 November 2017 by Diamantvallei Landgoed aangebied. Bespreek gerus HIER as jy nie kan uithou tot die Afrikaanse kursus in 2018 nie.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui