Waterstofaangedrewevoertuigproewe – ‘n Wêreldeerste

Australië sal volgens beplanning in 2018 die wêreld se eerste proefloop doen vir waterstofaangedrewe voertuie. Dit volg na die CSIRO in Australië se deurbraak in brandstofseltegnologie.  CSIRO is Australië se nasionale wetenskapsverteenwoordiger soortgelyk aan die WNNR in Suid-Afrika.

Hierdie deurbraak volg uit ‘n navorsingsprojek van twee jaar waarin nuwe membraanreaktortegnologie ontwikkel is om vloeibare ammoniak na ‘n hoë-suiwerheid waterstof om te skakel ten einde brandstofselvoertuie (fuel cell vehicles – FCVs) aan te dryf. ‘n Dun metaalmembraan word gebruik wat waterstofdeurlaatbaar is, maar die deurlating van alle ander gasse blokkeer.  Die CSIRO se kundigheid om vloeibare ammoniak na waterstof om te skakel kan daartoe lei dat Australië ‘n belangrike verskaffer van volhoubare energie in die Asië en Stille Oseaangebied word. Hierdie membraanreaktortegnologie sal die gaping vul tussen waterstofproduksie en -verspreiding by wyse van ‘n modulêre stelsel wat naby ‘n hervullingstasie geplaas sal word.

Volgens Dr David Harris, navorsingsdirekteur van lae vrystelling tegnologie by die CSIRO is hierdie proses wat ontwikkel is die “vermiste skakel” in die soektog na volhoubare energie in die wêreld. Deur middel van elektrolise word elektrisiteit, wat by wyse van sonenergie opgewek is, gebruik om water te skei in waterstof (H2) en suurstof (O2). Waterstof word hierna met stikstof (N) verbind om vloeibare ammoniak (NH3) te vorm. Die proses kan hierna omgekeer word om ammoniak weer na waterstof om te skakel waar en wanneer dit nodig is.  Onlangse vorderings in sonkrag en elektrochemiese tegnologieë het herwinbare waterstofproduksie kompeterend met die produksie van fossielbrandstowwe gemaak.

Dr Harris sê dat waterstof gebruik kan word om sonenergie te stoor, terwyl vloeibare ammoniak die wyse is waarop daardie energie reg oor die wêreld met bestaande infrastruktuur, dit wil sê skepe, hawens, spoorweë en vragmotors vervoer kan word.  Hou in gedagte dat die stoor en vervoer van waterstof nog altyd ‘n ingewikkelde en duur proses was wat die uitvoer daarvan ‘n geweldige kommersiële uitdaging gemaak het.

Beide Hyundai en Toyota het reeds waterstofaangedrewe voertuie vir navorsings- en ontwikkelingsdoeleindes in Australië. Weens beperkings ten aansien van hervullingsinfrastruktuur kan hierdie soort van voertuie nie deur die algemene motoris aangekoop word nie.

Hyundai sien hulleself as ‘n wêreldleier op die gebied van die ontwikkeling en vervaardiging van waterstofaangedrewe voertuie. Onlangs het hulle ‘n nuwe soort waterstofbrandstofselaangedrewe voertuig in Seoul, Suid-Korea bekend gestel.  Ongeveer 20 nuwe model Hyundai SUVs, wat nog nie vernoem is nie, sal in 2018 na Australië verskeep word as die land se eerste kommersieel beskikbare brandstofselvoertuig. Die voertuig wat met ‘n elektriese motor en batterye toegerus is, het ‘n reikafstand van ongeveer 800 km, gebruik waterstof as brandstof en stel slegs water as energie-omsettingsafval vry.

Dr Sae Hoon Kim, hoof van Hyundai se brandstofselnavorsingsafdeling sê dat die nuwe voertuie aan motoriste se behoeftes sal voldoen sodra brandstofhervullinginfrastuktuuur algemeen beskikbaar is. Dr Kim het gesê dat Hyundai tegnies gereed is. Wat nou nodig is, is die neem van politieke en sosiale besluite. Die wêreld beweeg in die rigting van herwinbare energie wat veral in Australië volop is. Dit word voorsien dat energie in waterstofvorm uiteindelik die hernubare energie landskap sal oorheers.

Waar markte toenemend in ‘n rigting beweeg om hulle energiebronne vry van koolstowwe te maak, is dit nou moontlik om brandstowwe wat koolstofvry is uit te voer.

Erkennings:

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui