Sakeplanne… ‘n onmisbare ergernis
In die elf jaar wat ek besigheidsafrigting pleeg het besigheidslui elke verskoning in die boek opgedis waarom goed geformuleerde en geskrewe sakeplanne onnodig is vir die bedryf van ‘n suksesvolle onderneming. Ek deel graag met jou die vier mees algemene verskonings wat ek teëgekom het, en… waarom hulle die bal heeltemal mis slaan!
1. Sakeplanne is vir beginner-besighede, of wanneer finansiering of beleggings benodig word.
Jou sakeplan behoort vir jou aansienlik belangriker te wees as bloot om net te bewys dat jou onderneming bestaan, of dat jy die terugbetaling van ‘n lening aan ‘n finansiële instelling sal kan bekostig. As ‘n sakeplan voordelig is om aan ‘n bank of belegger te bewys dat jou onderneming ‘n lening of belegging regverdig, behoort dieselfde rigtingewende instrument ook nuttig te wees om jou op koers te hou na jou besigheids-, finansiële en persoonlike doelwitte.
In die ideale wêreld sal alle entrepreneurs een maand per jaar opsy sit om ‘n SWOT (strengths, weaknesses threats and opportunities) -analise van die afgelope jaar te doen en om ‘n besigheids-strategie vir die volgende jaar saam te stel. ActionCOACH gebruik die term “toets en meet”. Besigheidseienaars behoort die suksesse en mislukkings van die pas-afgelope jaar te evalueer ten einde die trajek te bepaal waarop die onderneming is.
Daar bestaan twee skole van denke oor wanneer die beste tyd is om genoemde evaluasie te doen:
- ‘n Goeie tyd vir hierdie beplanning kan wees aan die begin van enige gegewe jaar – wanneer jy vars is na jou Desembervakansie en jy ‘n positiewe en energieke ingesteldheid het ten einde veranderinge te maak en met nuwe stukrag aan die werk te spring.
- As alternatief kan jy dit in die maand November doen om ten volle ontspanne te wees teen die tyd dat jy met jou jaarlikse Kersvakansie vertrek.
2. “Ek weet wat ek wil hê en het die inligting in my kop, hoekom moet ek dit neerskryf?”
In die geval waar jou onderneming ‘n stokperdjie is, en jy gemaklik is om dit só te hou – met geen vooruitsig van uitbreiding of groei nie – is dit moontlik aanvaarbaar om jou sakeplan tot “kop-goed” te beperk. Is daar ‘n waarborg dat jy nie per ongeluk iets gaan vergeet nie? Sou jy egter ‘n onderneming wil hê wat jy kan uitbou om ‘n nalatenskap daar te stel, sal dit dwaas wees om nie ‘n formele, geskrewe sakeplan te hê nie. Die skrif is aan die muur en die bewys lê in die syfers – besighede met geskrewe sakeplanne het ‘n 50% beter groei en 13% hoër marges!
Navorsing deur die Kauffman Centre for Entrepreneurial Leadership dui daarop dat organisasies met gedetailleerde sakeplanne ‘n 50 % vinniger groei in verkope vertoon met 12 % hoër bruto winsmarges.
Moet jouself egter nie bluf nie. Dit is gewoon onvoldoende om bloot jou visie in die eerste beste formaat te skryf en dit dan ‘n sakeplan te noem.
‘n Sakeplan is nie net voordelig vir jou as individu nie, maar dit is ook voordelig vir jou onderneming. Dit is die eerste stap in die vestiging van prosesse en prosedures wat jou onderneming sal bemagtig om sonder jou te kan funksioneer. Met jou sakeplan in jou kop, gaan jy nooit kan terugstaan en aan die besigheid werk eerder as daarin nie. Jy sal ook nooit met gemoedsrus op die jaarlikse vakansie, hierbo genoem, kan gaan nie!
3. Ek het nie tyd nie!
Al ooit daaraan gedink dat die rede daarvoor is omdat jy nie ‘n sakeplan het nie? Hou op om tyd te blameer wat vlieg. Musk, Zuckerberg en Rupert werk met dieselfde horlosie as jy! Dit gaan nie oor dat jy vasgevang is in ‘n klein besigheid, in ‘n sosio-politieke situasie, of in beurtkrag nie – alhoewel dit tog ‘n impak mag hê.
Meer dikwels gaan dit oor oorhaastige besluite sonder om die langtermyndoelwitte in ag te neem – want daar is nie ‘n plan is nie. Hou op om harder te werk – doen jou beplanning en begin vinniger en slimmer te werk!
Toe jy as groentjie begin het, was dit maklik om te glo dat ‘n sakeplan in ‘n oomblik van heldere, positiewe denke opgestel sal word op ‘n stadium wat jy hope tyd het om daaraan te spandeer. Om hierdie rede is dit noodsaaklik om jou van die besigheidsleur af te sonder en die mening en insette van ‘n objektiewe party in te span.
Tydens die beplanning- en skryfproses sal dit gou duidelik word, wat jy in die besigheid kan verander en dat dit ook moontlik is om te delegeer en uit te kontrakteer om sodoende selfopgelegde druk te verlig.
4. My besigheidsmodel verander voortdurend; wat is die nut van ‘n sakeplan?
Jou sakeplan kan moontlik verkeerd geskryf wees indien dit uitgedien raak as gevolg van veranderinge in jouself, die politieke, ekonomiese of maatskaplike situasie. ‘n Besigheidsplan is nie in die tradisionele sin ‘n wenslys nie. Die doelwitte daarvan moet realisties en haalbaar wees. Dit behoort jou te help om jou huidige posisie te evalueer ten opsigte van hoe relevant jou onderneming is en wat jou volgende stappe behoort te wees indien veranderinge vir sukses in die die vooruitsig gestel word.
Wat dit effektief doen is om ‘n wedstrydplan of ‘n bloudruk op te stel vir wat jy in ‘n stabiele of in onstuimige tye gaan doen.
Hoe anders sal jy jouself kan herinner waar jy in die toekoms wil wees? Die ideale sakeplan sal ook die taktiek insluit wat jy beplan om te gebruik ten einde jou op koers te hou, ongeag die struikelblokke wat jy mag teëkom. Die realiteit is egter dat dit eweneens gaan oor die sakeplan sowel as die insig en vermoë om te kan beplan.
So sal jy paraat wees om enige onsekerheid wat oor jou pad mag kom, te kan hanteer.
Indien jy wil uitvind hoe om jou padkaart na besigheidsukses op te stel, kontak Fergus Ferguson by fergus@fergusmor.co.za of 082 650 0867.