Meervoudige taakuitvoering – Feit of Fiksie?
Namate die jaar na sy laaste lêplek skuifel, wonder die meeste sterflinge waar hierdie jaar dan heen is.
Soos soveel maal gedurende 2022 het jy die dag met ‘n lys van alles wat jy onder die knie en agter die blad moet kry, begin. Helaas is dit nie ongewoon om die dag af te sluit met ‘n lys van onvoltooide take en verbasing oor wat dan aanleiding gegee het tot ‘n geensinds korter en ‘n dikwels steeds groeiende lys van take nie!
Dis aand en dis môre en die volgende dag het jy geen benul hoe jy deur die dag met al sy take gaan maneuvreer nie. Iemand in jou span het ‘n oomblik van jou tyd nodig. Daarna is daar ‘n boel e-posse wat vir jou wag om op te reageer. Die ontvanger wil lastige vrae be-antwoord hé en behalwe Boetman se eerste bulletjie-rugbywedstryd is daar die Kragdagvoorbereiding. Die eintlike probleem is of jy gaan poog om te multitaak oftewel om meervoudige taakuitvoering te doen in die hoop om jou produktiwiteit en uitsette te verbeter.
Ek en ‘n klant het onlangs deur ‘n posbeskrywing van ‘n administratiewe bestuurder gekyk. Die vermoë om te multitaak is uitgewys as ‘n sterk aanbeveling. Wat ek opmerklik gevind het, is dat baie werkgewers, meervoudige taakuitvoering in hul posbeskrywings as ‘n vereiste vir plasings insluit omdat hulle glo dat dit ‘n noodsaaklike eienskap is vir hul werknemers en vir hulself. Hierdie twyfelagtige vermoë kom veral ter sprake wanneer daar ‘n aantal mededingende, hoë-prioriteit aktiwiteite is wat voltooi moet word.
Na alle waarskynlikheid is jy op die oomblik besig is om jou verborge super-krag, naamlik meervoudige taakuitvoering te be-oefen, deur dié artikel te lees terwyl jy ook jou e-pos nagaan, met kollegas gesels of ‘n koppie koffie af te sluk. (Ek sou wou sê boeretroos te geniet, maar om dit te doen moet jy op die aroma fokus.) Ons is gekondisioneer om te glo dat die sleutel tot sukses is om baie take gelyktydig te doen. Dit is oënskynlik ‘n metode om baie meer gedoen te kry in ‘n korter tydperk.
Om baie dinge gelyktydig goed te kan doen is ‘n mite
Om te dink dat jy in staat is om baie take gelyktydig te doen, is ‘n versinsel. Dit is ‘n kans om baie dinge gelyktydig deurmekaar te maak! Dit is nie net ek wat so voel nie; Die outeur Steve Uzzell, het my siening bevestig. “Multi-tasking is merely the opportunity to screw up more than one thing at a time.” ~ Steve Uzzell, Photographer, Author, Speaker
Die term “meervoudige taakuitvoering” is nie geskep met die bedoeling om menslike gedrag te beskryf nie. Navorsers op die gebied van sielkunde het in die 1920’s reeds begin om meervoudige taakuitvoering -vermoëns en menslike gedrag te ondersoek. Dit was egter eers in die 1960’s dat die term “meervoudige taakuitvoering” die leksikon betree het. Destyds was 10 MHz ‘n ongelooflike spoed vir ‘n rekenaar, daarom is hierdie term nie vir ons geskep nie, maar wel vir die volgende generasie super-rekenaars.
Die term beteken letterlik dat die sentrale verwerkingseenheid (SVE) gebruik word om talle take gelyktydig uit te voer. Natuurlik moes ons die meester van die rekenaar bly en het ons meervoudige taakuitvoering tot ons eie (twyfelagtige) voordeel begin gebruik – veelvuldige take wat deur ‘n enkele hulpbron uitgevoer word, in hierdie geval ‘n mens, in plaas van deur ‘n sentrale verwerkingseenheid.
Daar word dus beweer dat dit moontlik is vir menslike breine om meervoudige taakuitvoering te pleeg.
Visualiseer die volgende: Mense kan talle take gelyktydig doen, soos om te loop terwyl jy kougom kou, televisie kyk terwyl jy klere stryk, ens. Ons verstand is egter nie gebou om meervoudige taakuitvoering te doen nie. Die aandagspan is te kort omdat dit voortdurend van fokus verskuif. Baie van die dinge wat ons in dieselfde tyd doen, verg nie veel bewuste inspanning van ons kant nie, soos byvoorbeeld om asem te haal terwyl ons ‘n vriend se teksboodskap beantwoord. Dit is nie nodig om stil te staan en die een teenoor die ander op te weeg nie.
Die implikasie van meervoudige taakuitvoering vir die werkplek
Wat impliseer hierdie soort gedrag / taakuitvoering vir die doeltreffendheid in ons gereelde werk?
Stel jou voor: jy gaan werk toe en besluit dadelik dat jy vandag, bo alles anders, taak A moet doen. So gesê, so gemaak. Jy val weg, isoleer alles wat jou aandag kan aflei en 30 minute later is jy klaar. Hier was daar geen afleidings of ontwrigtings gewees nie. Laasgenoemde noem ons die gekonsentreerde benadering. Jy pak die taak op hande doelgerig aan, en in‘n japtrap is dit voltooi.
Stel jou nou ‘n situasie voor waarin jou aandag voordurend afgelei word. Jy begin met taak A, maar kom net halfpad deur voordat jy die spoor byster raak. Jy is diep in gedagte wanneer die deurklokkie skielik lui en iemand vir ‘n minuut met jou wil praat. Wanneer jy jouself toelaat om afgelei te word, moet jou verstand ‘n vinnige oorgang maak en herfokus op die nuwe onderwerp wat voorhande is. Daarna moet jou brein van rat verwissel en homself heroriënteer na taak A. Dit impliseer dat jy nie binne die volgende 30 minute ‘n kwaliteit taak sal kan afhandel nie.
Jy het dus amper ‘n uur gemors op ‘n taak wat 30 minute moes geneem het. Volgens studies voeg hierdie strooi-metode werklik net 25% meer tyd by basiese aktiwiteite en ‘n eksponensiële hoeveelheid tyd kan by groter take gevoeg word.
Vra jouself dus die vraag af: Is dit gepas om jou aan meervoudige taakuitvoering skuldig te maak?.
Wonder jy steeds waarheen die tyd gegaan het. Oorweeg dan of jy jou doelwitte vir die dag bereik het?
Indien nie, sal jy dalk wil heroorweeg of jy glo dat meervoudige taakuitvoering jou sal help om meer op een slag gedoen te kry. Dit is teenproduktief en sal lei tot laer produktiwiteit.
Aan die ander kant, as jy voel dat jy te veel tyd aan ‘n verskeidenheid take spandeer omdat jy nie geleer het hoe om dit te delegeer nie, moet jy op hierdie artikel ag slaan Die tyd wat jy spaar en die morele hupstoot wat jy jou span gee, kan enorm wees as jy leer om behoorlik te delegeer.
As jy meervoudige taakuitvoering of enige ander probleem met jou maatskappy het, moet asseblief nie huiwer om met my in aanraking te kom nie. Kontak my asseblief, want ek wil regtig van jou hoor!